Tot 5 GW se sonpanele dalk in 2024 geïnstalleer
Die watersektor beleef talle veranderinge by die instellings wat dié lewensgewende hulpbron bestuur.
Vir die meeste Suid-Afrikaners bly sonkrag die oplossing waarna hulle gryp in ’n duister toekoms. Ondanks struikelblokke en frustrasies word lewendige groei in die hernubare-energiesektor voorspel – en Suid-Afrika kan selfs onder die voorste tien lande ter wêreld wees wat sonkraglewering betref.
Binne die volgende jaar gaan daar waarskynlik sonpanele in Suid-Afrika geïnstalleer word wat 3-5 GW kan opwek. ’n Energiekenner waarsku egter dat dit steeds nie genoeg sal wees om beurtkrag te beëindig nie.
Die heersende opwekkingstekort is sowat 2 GW, sê Henning Holm, direkteur van Holmstone, ’n maatskappy wat as deel van die Russelstone-groep al langer as 30 jaar in alternatiewe energie-oplossings spesialiseer.
Hy sê 5 GW se sonpanele is nie genoeg om ’n basislading van 2 GW te vervang nie omdat sonpanele net vir ’n deel van die dag optimaal krag kan opwek.
Hy voorsien egter ook dat daar in die volgende jaar groot beleggings in batterykapasiteit gemaak gaan word om krag beskikbaar te stel wanneer die son nie skyn nie.
Hoewel litiumbatterye tans die grootste deel van die batterymark verteenwoordig, sê Holm daar is nuwe tegnologie op pad, soos natrium-ioonbatterye wat dieselfde werk as litium, maar waarskynlik goedkoper sal wees omdat natrium geredeliker beskikbaar is as litium. Dit sal ook ’n kleiner brandgevaar inhou.
Sonpanele gaan goedkoop bly
’n Ooraanbod van sonpanele in Suid-Afrika het in 2023 die rand-per-watt-installeringskoste van sonkragstelsels drasties laat daal. Groot hoeveelhede panele wat vroeër ingevoer, maar nie geïnstalleer is nie, gaan pryse in die afsienbare toekoms laag hou, sê Holm.
“Aan die begin van 2023 het die geïnstalleerde koste van sonpanele sowat R5,10 per Watt beloop. Teen die einde van die jaar was dit so min soos R2,50 per Watt,” sê Holm.
Dieselfde geld egter nie batterye nie. Wêreldwyd het die prys van litium-ioonbatterye met gemiddeld 15% gedaal, maar in Suid-Afrika bly die prys op min of meer dieselfde vlak of het dit selfs effens gestyg in 2023. Holm meen dit hou verband met die feit dat die groothandel batterye op aanvraag ingevoer het pleks van om voorraad op te bou soos in die geval van sonpanele.
Die prysbeweging van wisselrigters (inverters) lê mooi in die middel tussen dié van sonpanele en batterye – die prys het nie so drasties gedaal soos by sonpanele nie, maar het – anders as batterye – wel gedaal.
Vroeg in 2023 het sonkrag maar sowat 4% van Suid-Afrika se totale opwekkingspotensiaal verteenwoordig, maar dit het só gegroei en sal na verwagting aanhou groei dat die land teen einde 2024 onder die wêreld se toptien lande kan wees wat sonkragopwekking betref.
Politieke faktore
Hoewel Holm voorsien dat die hernubareenergiekomponent in Suid-Afrika gaan aanhou groei, voorsien hy dat die groei gaan verlangsaam, veral in die eerste helfte van 2024.
“Die feit dat die rentekoers hoog bly, dra hiertoe by.”
Beleggers is ook bekommerd oor die jeug se oënskynlike belangeloosheid oor volgende jaar se verkiesing. Dit laat mense wonder of hulle op ’n politieke verandering kan hoop en of hulle in Suid-Afrika moet belê.
Verder word nuwe installerings bemoeilik
deur ’n tekort aan vaardighede in Suid-Afrika. Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking staan eenvoudig nie werksvisums vir buitelandse kundiges toe nie. Dit is mense uit veral Indië en China wat die nodige ervaring en kennis het om aan sulke installasies te werk, sê Holm.
Dit het só erg geraak dat daar nou al groot energiemaatskappye is wat hul deure in Suid-Afrika gesluit het.
Hy sê Eskom se aanduiding dat Suid-Afrikaners in die afsienbare toekoms met minstens fase 2-beurtkrag sal moet saamleef, is prysenswaardig. Dit is ’n vars bries van eerlikheid van die staat se kant af. Hy meen egter dit is effens optimisties en waarsku dat fase 4 eerder die norm kan wees.
Dit is nie goeie nuus vir die landbousektor nie. Boere bevind hulself in ’n hoek met Eskomkrag en het geen ander keuse as om in hernubare-energie-oplossings te belê nie, veral in die lig van ’n droë jaar wat voorlê.
Dit gaan beteken dat hulle meer water sal moet pomp om hul diere en gewasse aan die lewe en groei te hou.
Oplossings uit die landbousektor
Holm sê dit is bemoedigend om te sien hoe die landbousektor en ondernemings op die platteland hulle meer toespits op plaaslike oplossings waar biomassa byvoorbeeld optimaal aangewend word in energie-opwekking.
Een oplossing op dié terrein is om organiese materiaal in gas om te skakel en te verbrand, byna soos stoomenjins van ouds.
Dit staan bekend as dubbeldoel-energie-opwekking (co-generation), waar ’n mens hoofsaaklik elektrisiteit opwek deur
’n ontbrandingsproses en die hitte wat jy daaruit kry, vasvang om vir ander energiebehoeftes te gebruik.
In Eskom se geval word steenkool of diesel pleks van biomassa of biogas vir opwekking verbrand. Om van die hitte ontslae te raak, word dit soos deur ’n motor se verkoelingstelsel “weggegooi”. Dit is verlore energie waarvoor die verbruiker betaal, sê Holm.
“In co-generation hou jy daardie energie vir verwarmingsprosesse – soos waar jy water moet warm maak of hitte nodig het vir droogprosesse, of jy verander dit in verkoeling volgens dieselfde beginsel as wat ’n gasyskas werk.”
Hierdie stelsels word tipies met gas of biomassa bedryf, en in die landbou betrek dit boerderye wat toegang het tot produkte soos makadamiadoppe, sonneblomsaaddoppies en saagsels van saagmeulens.
Statutêre kwessies
Holm meen daar is steeds te veel hindernisse wat die oorgang van koolstof na hernubare opwekking in die nasionale kragnetwerk belemmer. Daarvan is die grootste die politieke onwilligheid om statutêre vereistes wat prosesse ophou of bemoeilik, uit die weg te ruim, veral met ander tegnologieë as sonkrag.
Windopwekking is eenvoudig te duur en tydrowend om met steenkool mee te ding omdat voornemende beleggers omvattende omgewingsimpakstudies moet doen voor hulle windlaaiers kan oprig.
Daarteenoor is die voordeel van sonkrag dat jy ’n paar sonpanele op jou dak kan aanbring sonder dat ’n haan daarna kraai. Hoewel sulke installasies klein is, is daar só baie van hulle in Suid-Afrika dat dit nou al ’n beduidende verskil kan maak.
Daar is min ruimte vir groei in grootskeepse hidrokragopwekking in Suid-Afrika. Die land is waterskaars en selfs die groot riviere is nie standvastig genoeg nie.
Sontermiese oplossings het nog nie juis vastrapplek in Suid-Afrika gekry nie. Holm meen nie daaraan gaan veel verander in 2024 nie.
Hoe dit ook al sy, en die Suid-Afrikaanse regering se kampvegters vir steenkoolenergie ten spyt, sê Holm wêreldwyd is die idee van sentrale kragopwekking met steenkool of kernkrag iets van die verlede.
Die vrye mark en Suid-Afrikaners se oplossingsgedrewendheid gaan uiteindelik die deurslag gee.
Groter bereidwilligheid van die staat
Hy is versigtig optimisties en sê hy meen vanjaar gaan ’n mengsel van energie-oplossings oplewer met steenkool en aardgas wat die grondslag gaan lê.
Vir nuwe oplossings om hul volle potensiaal te bereik, moet jy hoop dat die toestand van die nasionale kragnetwerk verbeter. Dit is hier waar Holm sien dat die staat al hoe meer geneë is vir vennootskappe met die private sektor.
“Daar is al hoe meer bereidwilligheid van die staat om ons en ons klante toe te laat om netwerke en stelsels te bou met die verstandhouding dat die staat daarvoor sal betaal oor ’n gegewe termyn.
“As só ’n oopkopbenadering die nuwe neiging word, is daar tog hoop op ’n stabiele kragnetwerk vir Suid-Afrika in die toekoms.”
Die omskakeling van besproeiingsrade in watergebruikersverenigings duur vanjaar voort. Dit het verlede Mei begin nadat Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, rade ’n maand tevore in die Staatskoerant om hul omskakelingsvoorstelle gevra het.
Teen einde 2023 is 33 besproeiingsrade in 13 watergebruikersverenigings omgeskakel, sê Janse Rabie, uitvoerende beampte vir wetgewing en beleid, asook hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA. Altesaam 26 rade se aansoeke moet nog deur die departement van water en sanitasie verwerk word en nóg 102 rade moet hul aansoeke indien.
Die uitstel wat sekere rade gevra het, het in November verstryk.
Nic Knoetze, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (SAAFWUA), sê hoewel die transformasieproses stadig verloop, is aansienlike vordering al gemaak.
SAAFWUA was voortdurend in gesprek met die departement oor die verenigings se afgewentelde magte.
“Hoewel daar ’n mate van vordering was, naamlik dat die afwentelings in Maart verlede jaar gepubliseer is, is daardie afwentelings volgens ons nie voldoende om watergebruikersverenigings te bemagtig om optimaal as die plaaslike vlak van waterbestuur te funksioneer nie. Ons is in gesprek met die departement hieroor.”
Oor kritiek dat die departement verenigings dwing om ’n departementele grondwet te gebruik, sê Knoetze dit is ’n konsepgrondwet wat as riglyn dien. “Verenigings kan wysigings aanbring, solank hulle dit voldoende motiveer.”
Beskerming van eiendom
Adriaan Groenewald, prokureur en waterregkenner, sê huidige lede van besproeiingsrade se bekommernisse oor die omskakelings proses gaan meestal oor die beskerming van wateraanlegte, soos damme, wat met private geld gebou is en in besproeiing s distrikte val.
“Ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) gaan alle eiendom van die voormalige besproeiingsraad oor na die nuwe watergebruikers vereniging. Heelwat rade het met private geld wesentlike kapitaal verbeterings aangebring en verlang daarom waarborge vir die beskerming daarvan.
“Daar is ook die gevaar dat finansieel sterk rade met geen of baie min skuld in ’n vereniging gevoeg gaan word saam met rade wat finansieel sukkel en ’n groot skuldlas dra. Die gevolg hiervan sal wees dat eersgenoemde rade skuld gaan opneem met geen hoop op enige voordeel daaruit nie – inteendeel, die omgekeerde.
“Ingevolge die onlangs voorgestelde wysigings aan die Waterwet kan dié waterwerke na ’n organisasie sonder winsbejag oorgedra word. Dit is ’n plofbare kwessie wat nog behoorlik bekyk moet word.”
Knoetze sê waar dit nodig is om ’n organisasie sonder winsbejag te stig, word die organisasie lid van die vereniging en doen in wese dieselfde, maar het wetlike beskerming.
Hy reken die kwessie oor eienaarskap van infrastruktuur en die besteding van geld is opgelos deurdat die bates en laste van elke subgebied (met gebruikers uit dieselfde bron) afgebaken word en dan verantwoordelik is vir hul eie skuld en laste.