Plaaswag veg in die eerste linie
Die Steytlerville-plaaswag het in 2016 ontstaan en groot suksesse is al aangeteken. Dit dien nou as voorbeeld vir ander wat nog huiwer om die stap te doen. Groter samewerking tussen buurdistrikte beteken nie net groter veiligheid nie, maar koste word ook bespaar.
Op kort termyn lyk die oplossing vir plaasveiligheid dalk ooglopend: Span buurtwag- of sekerheidsoptrede deur die gemeenskap in met die ondersteuning van private ondernemings. Dit kan ook help om langtermynoplossings te vind.
Dit kan egter net werk as almal die idee steun, en in talle gemeenskappe het dit nog nie gebeur nie.
Gegewe dat Suid-Afrika bloots gery word deur erge misdaad – van moord tot veediefstal – is dit jammer dat nie meer landelike distrikte ’n funksionele plaaswag het nie. Die hele land behoort verbind te wees met radio- en kameranetwerke wat boerderygemeenskappe self bestuur. Hierdie ideaal word egter gerem deur ’n reeks faktore wat gelukkig nie onoorkombaar is nie.
Mense vergeet gou. Boere voel gerus, al was daar ’n paar voorvalle in hul distrik. Plaasveiligheid kan as “afgesaag” beskou word en dus nie meer so ’n groot impak op besige boere maak nie.
Leiding (of te min daarvan). ’n Gebrek aan leiding is nog ’n probleem. Iemand moet tog ’n plan van aksie aanvoer, aandryf en in stand hou. Koste-implikasies. Dit klink makliker om sommer net ’n private sekuriteitsmaatskappy aan te stel, maar dit is baie duur en word nie goedkoper nie.
Paraatheid ontbreek
Volgens Nico du Preez, veiligheidskoördineerder van die Steytlerville-landbouvereniging se plaaswag, is ’n gebrek aan paraatheid die grootste gevaar. “’n Aanval kan op enige plek en tyd plaasvind – dit gebeur nie net in ander distrikte nie. Paraatheid is ’n afskrikmiddel – ’n gebrek daaraan is ’n swakheid wat deur misdadigers uitgebuit word.”
Dit is moeilik om boere uit hul gemaksone te kry en hulle te oortuig dat tye verander, sê hy. Die politiek het verander, asook die aard van misdaad. Dit is ’n fout om die verantwoordelikheid op die buurman of polisie te plaas, terwyl jy nie self koste wil aangaan of moeite doen nie.
Soms lyk dit asof ons in ’n droomwêreld leef. Dit verg natuurlik dissipline, maar jy moet paraatheid deel van jou lewe maak. “As jy paraat is en jy weet al jou bure is ook paraat, bring dit gemoedsrus. Dit is in elk geval elke boer se verantwoordelikheid om sy gesin so goed moontlik te beskerm,” sê Nico.
Hy werk nou saam met Johan Marais, die ander veiligheidskoördineerder van die plaaswag. “Ons het al in 2016 met beplanning van ons plaaswag begin, wat uiteraard binne die raamwerk van die nasionale landelike veiligheidstrategie en die Grondwet moes geskied. Dit kan nie gesien word as ’n vigilantegroep of derde mag nie. Ons val onder die sambreel van die SAPD. Ons lede het nie die mag van polisiebeamptes nie, maar kan burgerlike inhegtenisnemings doen.”
Nog wenke is dat boere versigtig moet wees om slagvee op hul plaas te verkoop. “Dit skep ruimte vir misdadigers.”
Boere moet ook nie voor die voet werkers aanstel sonder om eers verwysings na te gaan nie. “Handhaaf te alle tye ’n goeie verhouding met jou werkers.”
Samewerking met polisie
Samewerking met die SAPD was van die begin af ’n mikpunt. Nou het die boere ’n
toegewyde beampte wat dag en nag tot hul beskikking is. “Ons vergader gereeld met die stasiebevelvoerder en daar word weekliks ’n misdaadverslag op WhatsApp uitgestuur. ’n Gesamentlike operasie onder leiding van die polisie word minstens een keer per jaar uitgevoer. Dit is veral belangrik tydens feestye.”
Die plaaswagkomitee bestaan uit ’n aantal lede en die voorsitter van die landbouvereniging – almal met militêre en praktiese ondervinding. Volgens Nico is dit belangrik, want plaasaanvalle word dikwels met militêre presisie beplan. Ook die beplanning en uitvoer van ’n gebeurlikheidsplan vereis dat almal weet wat om te doen.
STAP 1: Radio’s bring gemoedsrus
Die eerste stap was om ’n radionetwerk in werking te stel en te sorg dat almal ’n radio het. “Ons het met eie geld die torings opgerig. Nou hou ons elke aand roll call om seker te maak die radio’s werk en om agter te kom as daar fout op ’n plaas is. Die radio’s gee ook gemoedsrus. Selfs die kinders het al geleer hoe dit werk en kan ’n noodoproep maak.”
Die feit dat almal met radio’s verbind is, het reeds bygedra tot ’n hegter gemeenskap. “Ons ken al mekaar se stemme. Sonder hierdie vorm van kommunikasie moet jy staatmaak op onbetroubare selfoonseine wat jou lelik in die steek kan laat.”
As ’n boer nie lid van die georganiseerde landbou is nie, betaal hy meer vir die dienste. En as iemand ’n gewoonte daarvan maak om nie die roll call te antwoord nie, word dit met hom opgeneem omdat hy ’n swak skakel in die veiligheidsketting is. “Jy moet deel wil wees van die proses en optimisties bly oor die plaaswag. Daar is eenvoudig nie plek vir dwarstrekkers nie,” waarsku Nico.
STAP 2: Geslote kamerastelsel
Die volgende stap was die oprig van kameras op strategiese plekke langs die paaie. Ook dit is op eie koste gedoen.
Dit is gedeeltelik gefinansier deur ’n klein heffing te plaas op elke sak mielies wat die landbouvereniging gedurende die lang droogte aangekoop het. In dié geval het die droogte gehelp, maar daar is seker ander maniere om geld in te samel.
Destyds het die drie radiotorings R115 000 elk gekos, en elke kamerapunt R75 000. Dit alles het noukeurige beplanning geverg, want daar moes byvoorbeeld gesorg word dat almal opvangs sou hê.
Al die torings en toerusting behoort dus aan die landbouvereniging. Daarom kan albei stelsels teen ’n lae maandelikse of jaarlikse koste bedryf word. Dit skakel wel nie onderhoudskoste en versekering uit nie.
“Dit is geheel en al ons eie stelsel,” benadruk Nico. “Ons het dit gebou, ons onderhou dit, beheer dit en monitor dit. Daar is geen risiko dat sensitiewe inligting uitgelek of verkeerd aangewend kan word nie. Dit is ook net te duur om ingeskakel te wees by sentrale beheerkamers.”
Reaksietyd is deurslaggewend – hoe verder weg die beheerkamer is, hoe langer duur dit om op ’n aanval te reageer.
Die kameranetwerk is geslote, hoewel van die torings aan die nasionale voertuigintelligensiewolk (Navic) gekoppel is. Naburige boere kan hul kameras aan Navic koppel, maar moet dan self die koste dra. Die gebruik van hommeltuie is ook ’n moontlikheid.
Minder veediefstal
Voordat boere ’n uitgebreide kameranetwerk gereed het, sal hulle geen idee hê van wat op hul distrik se paaie aangaan terwyl hulle slaap of rugby kyk nie. “Ons het gou gesien daar ry baie ongewenste voertuie en voertuie met vreemde nommerplate rond. Namate die misdadige elemente agtergekom het hulle word dopgehou, het die verkeer saam met veediefstal verminder. Die kameras het selfs al gehelp om veediefstalsake op te los,” sê Nico.
Hy waarsku egter dat die Popi-wet, oftewel die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Wet 4 van 2013), hier ter sprake kan kom.
Paraatheid is sonder twyfel ’n afskikmiddel. “Ons weet van ’n geval waar ’n aanval in ons gebied beplan is, maar in ’n ander, minder parate distrik uitgevoer is.”
Nico-hulle is bekommerd dat landbouverenigings in veral die afgeleë gebiede nie genoeg aandag gee aan georganiseerde sekuriteit nie. Hulle wil as voorbeeld dien vir landelike veiligheid, hul kennis oordra en boeregemeenskappe inspireer waar daar nog niks gereed is nie.
“Ons het onlangs ’n suksesvolle veiligheidsaanbieding hier op Steytlerville gehou waar Vrystaat Landbou sy veiligheidstrategie kom verduidelik het. Die doel van die dag was om te wys dat daar wel distrikte in ander dele van Suid-Afrika is wat veiligheid ernstig beskou.
“Misdaad is ’n nasionale bedreiging. Dit is noodsaaklik dat ons dieselfde taal praat en bewus moet wees van die risiko’s, neigings en hoe misdadigers te werk gaan.”
Naburige distrikte kan koste besnoei en deel deur saam te werk, veral waar roetes oorvleuel. Tekortkominge word ongelukkig eers duidelik ná ’n aanval of moord.