Baie vrae oor nuwe virus by aartappels
’n Betreklik nuwe aartappelplaag, die ringvlekvirus, skep groot kommer omdat daar so min bekend is daaroor. Hoewel dit nie tans lyk of dit opbrengste knou nie, kan dit gehalte (en dus boere se inkomste) beïnvloed. Dit word onder meer deur saad versprei, wat beteken die virus kan teen ’n spoed versprei en die kans bestaan dat onbesmette saad skaars en duur kan raak.
Hy het R5 miljoen tot R6 miljoen se inkomsteverliese die afgelope drie jaar gely weens die ringvlekvirus (PepRSV), wat in 2020 vir die eerste keer buite Brasilië se grense in Suid-Afrika geïdentifiseer is, vertel ’n moerkweker van KwaZulu-Natal wat verkies om anoniem te bly.
Die virus kom nou al die afgelope drie jaar, sedert 2022, in sy aartappellande voor. PepRSV is tot Desember as kwarantynplaag in Suid-Afrika beskou, wat beteken die produsent kon nie moere bemark nie. Uiteindelik was die aartappels net goed vir verwerking, wat ’n enorme finansiële slag was. Sedert die virus se status as kwarantynplaag gelig is, kon hy darem die aartappels vir tafelaartappels uitgroei.
“My hande is afgekap, maar ek moet aangaan,” het hy moedeloos vertel.
Hy, en ander produsente, het die kommer uitgespreek dat Suid-Afrika in ’n situasie kan beland waar daar nie genoeg onbesmette saadaartappels gaan wees nie en dat tekorte kan ontstaan.
Dr. Lindy Esterhuizen, senior navorser in virologie aan die Landbounavorsingsraad (LNR) by Roodeplaat, beklemtoon plantvirusse kan nie na mense oorgedra word nie, en aartappels met PepRSV is dus veilig om te eet. Maar weens die ringvleksimptome is dit minder aantreklik vir verbruikers en sal besmette aartappels as laergraadproduk verkoop word.
“Dit sal die waarde verminder en tot inkomsteverliese vir boere lei,” verduidelik sy die ekonomiese impak van die virus wat tot dusver al in die Vrystaat, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal en die NoordKaap aangemeld is. Dis al by die kultivars Mondial, Sifra, Panamera, Allison, Avelanche, UTD en Lanorama opgemerk.
Hoewel Dirk Uys, bestuurder van navorsing en vernuwing by Aartappels SA, meen dis tans net ’n klein persentasie van die land se aartappels wat geraak word, meen dié boer dit kan baie meer wees, aangesien die virus dikwels nie-simptomaties voorkom en daar tans net visuele inspeksies plaasvind om die virus op te spoor.
Terwyl die virus onderhewig was aan regulasies vir kwarantynplae, was kommersiële produsente waarskynlik ook versigtig om daarvoor te toets uit vrees dat hulle nie saad kan bemark nie. Die LNR sal vanjaar voortgaan om aartappels op verskeie varsproduktemarkte te monitor om die omvang van besmetting onder kommersiële produsente te bepaal.
Die LNR monitor vanaf Junie kommersiële aartappels op die Johannesburgse varsproduktemark. In die eerste steekproef het 23% aartappels uit 311 sakke positief getoets vir die ringvlekvirus. Die meeste van die besmette aartappels het nie visuele simptome gewys nie.
Danie Slabbert van Reitz sit tans met een van die ergste besmettings van ringvlekvirus in die land. Dit is laat in Januarie by hom geïdentifiseer.
“Die nuus het my platgeslaan … Ek hou gewoonlik saad terug vir my boerdery in Limpopo, maar die slegte ding van die virus is dat ’n mens dit glad nie kan doen nie. Dis ’n groot verlies. Ek het al ’n klomp saad (wat die hoogste pryse in die bedryf haal) gepak, maar moes dit toe as tafelaartappels bemark. Dit veroorsaak ’n afname van sowat 10% op my totale omset en 30% in my wins.”
Hy het vanjaar as ’n goeie, normale seisoen beskou, hoewel hy ’n paar aanpassings aan voeding gemaak het, en eintlik ’n beter opbrengs verwag het. Slabbert kon geen simptome op die plante sien nie, tot hy die knolle met die ringvlekke opgelet het. Hy beraam die invloed op sy gehalte was sowat 10%.
“As ons net 10% verliese in die opbrengs en gehalte van Suid-Afrikaanse aartappels weens die virus sien, sal dit miljoene rande beloop. Wat my bekommer, is dat die prys van skoon moere die hoogte kan inskiet.”
Van Brasilië na Suid-Afrika
PepRSV is saam met tobacco rattle virus (TRV) en pea early browning virus (PEBV) een van drie virusse in die Tobravirusgenus. Tans word baie staatgemaak op inligting oor TRV om PepRSV te bekamp.
Esterhuizen sê ’n mens sal waarskynlik nooit weet hoe of wanneer die ringvlekvirus in Suid-Afrika beland het nie. “Dit kon deur besmette tamatie- of sonneblomsaad ingekom het, met ornamentele plante of met aartappels.” Sanette Thiart, besturende direkteur van Aartappelsertifiseringsdienste, noem egter dat geen aartappels van Brasilië af ingevoer word nie.
Dit blyk dat Nanidorus minor-aalwurms (stompwortelaalwurms) as vektor optree om die virus na ander plante of onkruid oor te dra.
Volgens Uys word PepRSV dikwels misgekyk, omdat dit in baie gevalle nie simptome toon nie. Dit kan egter ringvlek-simptome op die knolle toon, en ringvormige interne verbruining in die knolle veroorsaak. Op die blare word dit as vergeling waargeneem.
Daar is baie min bekend oor PepRSV, want dit was voorheen slegs beperk tot Brasilië, waar dit al soetrissies, tamaties, artisjokke en ander Bidens-spesies besmet het. Ander gashere sluit in tabak, bone, ertjies, fababone, knapsekêrel en hondebos.
“PepRSV word nie as ’n groot probleem in Brasilië op aartappels of enige ander gewas beskou nie, daarom werk navorsers nie juis daaraan nie. Dis eers sedert ons in Suid-Afrika die verwantskap tussen PepRSV en bruin kurkagtige weefsels op aartappels sien dat dit as ’n probleem ervaar word,” sê Esterhuizen.
Intussen het prof. Tatsuya Nagata, ’n navorser aan die Universiteit van Brasilië, aangedui hulle sal meer op hul hoede wees vir PepRSV op aartappels noudat hulle bewus is van dié verband.
Hoekom ontbreek beter toetse?
Vir Esterhuizen lê een gevaar daarin dat PepRSV deur saadaartappels oorgedra word, en dus die potensiaal het om oor groot afstande in Suid-Afrika en sy buurlande te versprei, wat ’n fitosanitêre risiko en gepaardgaande ekonomiese risiko inhou.
Zimbabwe en Botswana het in Januarie hul grense gesluit vir aartappelinvoer uit Suid-Afrika uit vrees dat die virus na hulle kan versprei, maar Esterhuizen meen uitgebreide monitering moet ook in die buurlande gedoen word, indien daar geld beskikbaar is, om vas te stel of die virus nie reeds daar teenwoordig is nie.
“Aangesien die virus hoofsaaklik niesimptomaties in vroeë aartappel-generasies is en die sertifiseringskema nie tans daarvoor toets nie, word die besmette aartappels verkoop en dien dit as bron van infeksie vir boere afwaarts in die aartappelketting. Die risiko is tans daar dat enige produsent wat gesertifiseerde saad koop, sy eie lande en plaas met die virus besmet, en gehalteverliese hom in die gesig staar. Die LNR bied daarom tans gratis toetse aan boere om hul aartappelsaad te toets vir ringvlekvirus en só die aanplanting ▶
van besmette materiaal te vermy.” Verskeie produsente met wie Landbouweekblad gesels het, is ontsteld daaroor dat die virus reeds die afgelope vier seisoene opgemerk word, maar daar nog nie beter toetse daarvoor beskikbaar is nie.
“Wat my hartseer maak, is dat die virus al in 2020 in ons land opgelet is, maar dit voel of dit onder die radar gehou is totdat dit by die boer uitgekom het. Ons kon baie koste bespaar het as daar groter deursigtigheid was. Dis kommerwekkend dat die huidige sertifiseringsmodel ná al die jare nie vir die virus toets nie,” sê Slabbert.
Kwessie met sertifisering
Thiart sê hulle het nog net ses gevalle van die virus gekry, wat almal afgekeur is vir sertifisering. “Ons het in 2020 een knol in ’n pakhuis gekry met vreemde simptome en een in ’n kommersiële aanplanting in die Oos-Vrystaat. Ons het besef dis ongewoon en getoets vir alles waarvan ons weet. Daarna het ons die twee knolle na die Universiteit van Pretoria gestuur vir verdere ontleding. Dit het soos ’n virus gelyk, maar hulle het ook nie geweet nie.
“Uiteindelik het dr. Gerhard Pietersen, navorsingsdirekteur van PathSol, dit met nuwegenerasie-sekwensie as PepRSV geidentifiseer. In 2021 het ons niks gesien nie, maar vier verdere gevalle in 2022 en verlede jaar gekry. Dis regtig min.”
Sy erken hulle het nog nie al die antwoorde nie, maar sê dis onmoontlik om álle materiaal met PKR-toetse te toets.
“Ons het tyd nodig om ’n ingeligte antwoord te kry voor ons die virus in die sertifiseringskema opneem. Ons moet eers bepaal of dit wetenskaplik gefundeer is om met PKR te toets vir PepRSV en dan moet dit ook ekonomies en tegnies regverdigbaar wees, met ander woorde, kan jy dit bekostig om tonne aartappels na laboratoriums te stuur om vir PepRSV te toets, of moet jy ’n toleransie gaan skep omdat die virus nie so ’n groot ekonomiese impak het nie? Daarvoor moet ’n ekonomiese impakstudie gedoen word en dit sal bepaal of die virus se status gaan verander.”
Tans hanteer die sertifiseringskema PepRSV volgens visuele inspeksies, soos wat met tobacco rattle virus, oftewel TRV gedoen word.
“Ons sertifiseringsbeamptes is baie goed opgelei en weet waarvoor om te kyk. Ons het minstens twee land-inspeksies en trek ook groot monsters wat visueel gefynkam word vir PepRSV. Ons kyk ook daarvoor uit tydens knolinspeksie.”
Indien enige simptome raakgesien word tydens die sertifiseringsproses, word ’n diagnostiese monster getrek en met PKR getoets.
“As dit positief is, word die hele sertifiseringsproses gestop en sertifisering afgekeur. Moere van daardie eenheid, en alles binne ’n 50 m-radius daarvan, word afgekeur op grond van die toetsuitslae.”
Thiart beklemtoon weer baie werk is nodig voor die skema gewysig kan word.
“Ons doen die beste wat ons kan met die metodes wat ons het, al is dit nie noodwendig genoeg om boere te kan beskerm nie. PKR-toetse is baie gevoelig. Gestel ons toets alle eenhede in Suid-Afrika met PKR (daar is net drie laboratoriums in die land wat nou daarvoor kan toets), en as ons baie positiewes kry, het ons eersdaags nie meer moere om te plant nie, en dan gaan daar nie aartappels wees om te eet nie.”
Hulle is wel in proses om alle genebronne wat in die sertifiseringskema gebruik word, te toets om seker te maak die ketting begin nie met ’n siek bron nie. Uit die 131 monsters in een van die saadhuise se genebanke wat tot dusver getoets is, was almal negatief vir PepRSV.
“Indien ons ’n positief sou kry, sal ons dadelik die genebron uit die pakke haal sodat dit nie vermeerder kan word nie.”
Ook in sonneblomme gevind
In 2021 en 2022 is PepRSV ook op sonneblomme in Sannieshof (Noordwes) en Senekal (Vrystaat) gevind.
“Ons vermoed PepRSV is natuurlik oorgedra tussen aartappels en sonneblomme deur aalwurms in die grond. Omdat TRV deur saad oorgedra word by sonneblomme, is dit moontlik dat PepRSV ook deur saad oorgedra kan word by sonneblomme.”
Dr. David Read, postdoktorale genoot aan Fabi (die Universiteit van Pretoria se instituut vir bosbou en landbou), sê hulle het ongeteikende virusmonsterneming op sonneblomme gedoen toe PepRSV een van die virusse is wat opgeduik het.
“Daar is baie min tot niks bekend oor virusse op sonneblomme nie; daarom het ek data begin versamel. Ek was tot onlangs nie eens bewus van PepRSV op aartappels nie, want dit was taamlik stil gehou in die bedryf,” sê Read.
Hy sê die verspreiding – waarvan hulle kennis dra – is tans baie beperk.
“Ek het ’n paar geïsoleerde plante gesien wat simptome toon. Wat ons tot dusver agtergekom het, was dat PepRSV duidelik ringvlek-simptome maak, maar sonder enige nekrose.”
Een van hul M-studente gaan vanjaar probeer bepaal wat die effek van PepRSV op sonneblomme is en hoe dit oorgedra word. “Ek dink nie die virus noodsaak tans paniek nie, maar ons moet weet wat die invloed daarvan is en wat dit aan sonneblomme doen.”