LBW haar pa se ‘storieboek’
In November laas jaar is my pa skielik oorlede. Hy was jare lank ’n boer op Laingsburg en het elke uitgawe van Landbouweekblad gelees. LBW is amper sinoniem met hom, want dit is een van die min tydskrifte wat hy gelees het – van voor tot agter, nes ’n storieboek.
Sy naam was Christoffel Hendrik van Zyl. Hy het met olywe, asook skape en uiesaad geboer op ons Karooplaas – eers Kleingeelbek en toe later verander na Makarios (dit beteken geseënd). My ouma het vir hom ingeteken om elke uitgawe van LBW te ontvang en sy boekrak was vol daarvan.
In 2002 was daar in die tydskrif ’n artikel oor ’n uiesaadskoonmaker wat hy ontwerp en gebou het om die proses van saadverwerking te vergemaklik en vinniger te maak.
Hy het ook dat ons kinders vir al die wonderlike kompetisies inskryf. Natuurlik wou ons mos ’n quadbike wen, so briewe het ons geskryf!
Gewen het ons nou nie, maar ek onthou die dag toe my pa my trots by die skool kom haal het met ’n glimlag op sy gesig. Die nuutste LBW was oop by daardie week se kinderbriefplasings om die quadbike te wen. My brief en my prentjie het lekker groot op een van die blaaie gepronk. My pa se trots en vreugde was beslis meer werd as enige vierwielmotorfiets.
In 2010 moes my pa ongelukkig ons plaas verkoop. Maar steeds was LBW sy gunsteling-“storieboek” en ek het altyd op sy verjaarsdag en op Kersfees vir hom een gekoop. Altyd as ek een sien, sal ek my pa onthou. Hoe hy dit van voor tot agter geniet het.
Dankie, Landbouweekblad, dat julle sorg vir ’n wonderlike herinnering aan my legende van ’n pa.
Merene van Zyl
Brief per e-pos ontvang
Die ware betekenis van Paasfees
Paasfees gaan oor versoening, verlossing, vergifnis en verheerliking. Sal dit nie wonderlik wees as ons in Suid-Afrika ons fondamente op hierdie elemente bou nie?
Ons almal is dit aan mekaar verskuldig – ongeag kleur, tradisies, morele waardes en taal. God het ons nie nodig gehad nie, maar Hy wou ons graag hê. Dit is die wonderlikste van alles!
Dit gaan tans baie sleg in ons pragtige land. Die mensdom is pessimisties. Niks loop reg en normaal nie. Dit is asof God se taal van liefde, hoop en genade nie meer bestaan of plek in ons lewe het nie.
Versoening begin by my en jou. Ons moet ons beywer vir vrede tussen ons en ons lewensmaats, tussen ons en ons ouers en kinders, en tussen ons en ons familie, vriende en bure. Jesus het self gesê: “Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Hierdie wyse woorde van oudpres. Nelson Mandela sal ek altyd koester: “Daar kan geen beter openbaring van ’n samelewing se siel wees as die manier waarop hy sy kinders en vroue behandel nie.”
Ons boere lê my baie na aan die hart. Ek sal aanhou baklei vir die beveiliging van ons geliefde boere, hul werkers en hul gesinne.
Hulle is gedurig in my hart, gedagtes en gebede.
Kom ons vat hande en maak hierdie Paasfees ’n verskil in ons medemens en boere se lewe. Hulle wat net ’n bietjie liefde, ’n drukkie, ’n gebed en ’n woordjie nodig het om hul lewe op te kikker.
My grootste droom en wens is dat elke mens oor die wêreld heen Paasfees sal sien as ’n tyd van omgee, onmeetlike liefde en emmers vol genade, hoop en liefde.
Kom ons kniel voor die kruis en gee ál ons emosionele bagasie vir God. God het aan die kruis gesterf vir my en jou sondes. Moenie skaam wees om uit te reik na ander mense wat nog nie ons Koning ontmoet het nie.
Mag Suid-Afrika se mense hande vat saam met God en van hierdie land ’n beter plek maak om in te bly. Geseënde Paasfees. Vier dit saam met familie en vriende. Ons is dit aan God verskuldig.
Antoinette Schoeman
Riebeeckstad Brief verkort. — Red.
Werkloosheid: Deregulering die antwoord
Die berig “Minimum loon: ‘Ek moet van my werkers laat gaan’ ” (LBW, 22 Februarie 2024) het betrekking.
Alle partye jaag werk na, maar hoe word dit bereik? Nie een politieke party sê behoorlik hoe dit bereik gaan word nie. Die ANC en swart bemagtiging word blameer.
Moet die politici of die staat werk skep? Na raming misluk 75% van die werkgeleenthede wat die staat teen sowat R750 000 per werkgeleentheid skep, binne die eerste jaar.
Met deregulering kan Suid-Afrika miljoene nuwe werkgeleenthede skep, meen Cofesa as werkgewerskonfederasie, die Vryemarkstig- ▶
ting en meer as 60 van die wêreld se voorste ekonome, waaronder talle Nobelpryswenners van die World Economic Freedom Index.
In Suid-Afrika gee bedingingsrade die toon aan wat as maatstaf gebruik word, met ’n rimpeleffek deur die hele ekonomie. Tafadzwa Chibanguza, ekonoom van die staal- en ingenieursbedryfsfederasie van Suider-Afrika (Seifsa), kla dat dié bedrywe sedert 2008 40 poste per dag verloor.
Saam met Gerhard Papenfus van die nasionale werkgewersassosiasie van Suid-Afrika (Neasa) en Gordon Angus van die Suid-Afrikaanse ingenieursen metaalgietersassosiasie (Saefa) pleit Cofesa dat werkgewers op bedingingsrade nie die minister van indiensneming en arbeid versoek om ooreenkomste na nie-partye uit te brei nie. Dit sal reguleringsdomino’s laat val.
Dié uitbreidings verhoog die loonrekenings van nie-partye met sowat 32% en maak hulle onmededingend teenoor ingevoerde produkte. Margaret
Thatcher van Engeland en Jim Bolger van Nieu-Seeland het van bedingingsgrade ontslae geraak en hul lande se ekonomie omgedraai, en verbasend het lone bly styg.
Wyle aardsbiskop Desmond Tutu het gesê: “Armoede is mensgemaak.” Amen.