Swak beeld van SA landbou
Manie kon maar net sy hande saamslaan toe hy hoor hoe ons eie adjunkpresident, Paul Mashatile, Suid-Afrika se landbou as soortgelyk aan dié van die res van Afrika beskryf. Wil iemand nie asseblief die man nooi om ’n suksesvolle kommersiële boerdery in Suid-Afrika te besoek nie? Dit lyk nie of hy al hierdie voorreg ervaar het nie.
Hy het in sy hoofrede op die eerste internasionale Afrika-ondernemerskapskongres in Kaapstad gesê die landbousektore in Suid-Afrika en Afrika bestaan feitlik net uit enkelpersoon-ondernemings wat betrokke is by boerderye met lae waarde en lae produktiwiteit. “Dit hou ons afhanklik as ’n netto-invoerder – wat ook meer problematies geraak het met stygende brandstofen voedselpryse,” het hy gesê.
Manie wil sommer hier al vir hom noem dat Suid-Afrika se landbou ’n netto-uitvoerder is wat verlede jaar kon spog met ’n rekorduitvoer van R255,4 miljard – ondanks die staat se tekortkominge met logistieke hulp en beurtkrag.
Die produkte wat die meeste uitgevoer is, sluit in sitrus, mielies, appels, pere, neute, wyn, sojabone, suiker, wol, druiwe, bessies en avokado’s. Dít is gewis nie deur boerderye met lae produktiwiteit geproduseer nie.
Die invoer van landbouprodukte het R135,5 miljard beloop. As die waarde van die uitvoer met dié van die invoer vergelyk word, spog Suid-Afrika met ’n handelsurplus van R120 miljard. Dít ondanks die feit dat die regering met sy buitelandse beleid handelsbande met tradisionele vennote in die gedrang kan bring.
Mashatile het gesê die landbou het innovasie en entrepreneurskap nodig wat die spel kan verander. Hy meen dat presisieboerdery en landbou-tegnologie teen 2030 ’n ekonomie van ’n miljard Amerikaanse dollar op die vasteland kan ontketen.
Daarom moet Suid-Afrika, soos die res van Afrika, strategies met sy aksies en doelwitte wees om sy mededingendheid in verhandelbare produkte en dienste te verhoog, en ook gereed maak vir ’n digitale en omgewingsvriendelike toekoms.
Hy het verwys na die verbintenis tussen die omgewing, die ekonomie en die landbou. Volgens hom is ekonomiese ontwikkeling ’n proses van strukturele transformasie, terwyl die landbou die noodsaaklike enjin is om die proses aan die gang te kry.
Daarom moet boere, volgens hom, aanpas by boerderymetodes wat produktiwiteit verhoog – asof dit iets is waarvan
elke boer nie reeds baie deeglik bewus is nie.
Manie meen ’n sinvolle ding wat hy wel gesê het, is dat regerings as beleidmakers ’n bemagtigende omgewing vir entrepreneurskap moet skep. Hopelik sal hy vorentoe dáárop klem lê, pleks daarvan om die Suid-Afrikaanse landbou af te takel.
KZN boere aan hul lot oorgelaat
Manie hoor alles is nie pluis by KwaZulu-Natal se departement van landbou en landelike ontwikkeling nie. Funksies en dienste wat uiters belangrik vir die ontwikkeling en volhoubaarheid van die provinsie se boere is, het skynbaar bykans tot stilstand gekom.
Dit sal seker nie verras as nóg ’n staatsdepartement in sy kanon is nie, maar wat veral kommer wek, is dat die derduisende klein- en opkomende boere die grootste verloorders is.
Daar word mos gesê ’n vis vrot van sy kop af.
Só word beweer dat die KwaZulu-Natalse landboudepartement se lang lys politieke leiers deur die jare geen landboukwalifikasies of -ervaring het nie.
Manie hoor van die hoogs betaalde bestuurders het ondergeskiktes nodig om hul werk te doen óf om hulle te leer hoe om hul werk te doen. Dan is daar glo ook belangrike wetenskaplike afdelings met ongekwalifiseerde en onbevoegde bestuurders.
Van die klagtes uit betroubare bronne is dat die grondontledingslaboratorium, wat noodsaaklik vir kunsmisaanbevelings aan boere is, glo deesdae minder as die helfte van die aantal ingediende grondmonsters verwerk as wat hy vyf jaar gelede kon hanteer.
Erger nóg is dat van sy oorblywende funksionerende toerusting na bewering aansienlik verouderd is. Dit lei tot onakkurate resultate en aanbevelings.
Manie hoor dat wetenskaplike navorsing by die departement deesdae bestaan uit ’n hand vol gepubliseerde referate elke jaar – waarskynlik omdat daar meer bestuurders as werklike wetenskaplikes is. Blykbaar is daar ook al langer as vyf jaar nie ’n statistikus of ’n biochemikus by hierdie departement nie. Klaers beweer as wetenskaplikes navorsingstoerusting en ander hulpbronne van hul leierskap aanvra, die versoeke dikwels met ’n totale gebrek aan dringendheid hanteer word. As die toerusting wel gekoop word, is dit by tenderpreneurs teen pryse wat dikwels verdag voorkom.
Daar is glo ook probleme by die landboudepartement se navorsingsplase. Dit is nie ongewoon dat diesel opraak nie en tydens beurtkrag word lakterende koeie nie gemelk nie.
Daarby is daar ook die afgelope nege jaar geen suiwelwetenskaplike wat met die navorsingsmelkkudde werk nie.
Hierdie is alles kommerwekkende beweringe en Manie hoop iemand gaan daadwerklik iets hieraan probeer doen. Boere het dienste nodig!
Dink aan trou
Koos en Saartjie het sowat 18 jaar lank uitgegaan. Saartjie het ál die tyd gehoop Koos gaan haar vra om te trou, maar hy vra nooit nie. Een middag sit hulle langs die meer toe Saartjie al haar moed bymekaarskraap en vra: “Koos, dink jy nie dit is tyd dat ons daaraan dink om te trou nie?”
Ná ’n lang stilte antwoord hy: “Saartjie, nou wie dink jy sal in ons twee belang stel?”