Landbouweekblad

Toe hy weer sien, is hy ’n afslaer van stoetvee

Deon Klopper het in sy 35 jaar as stoetveeen-wildafslae­r sowat 2,3 miljoen kilometer afgelê na veilings reg oor Suid-Afrika en Namibië. Hy bied ook vanjaar die 33ste agtereenvo­lgende jaar die Dorpers se nasionale veiling op Upington aan.

-

Hoe het jy in die afslaersbe­dryf beland en hoe lank is jy al ’n afslaer?

In die oorgangsja­ar tussen weermag en universite­it het my pa, Willem, vir my gesê ek moet ses maande lank by veeboere in KwaZulu-Natal werk. Dit gebeur toe dat ek op ’n veiling beland waar die afslaer siek was en ek veil toe die beeste op. Ek het toe só goed gedoen dat die veeboere my as afslaer aangestel het. Binne drie maande het Jimmy Maritz, die bestuurder van BKB se stoetveedi­ens, my as stoetvee-afslaer aangestel.

Twee jaar later het ek saam met die legendarie­se Namakwa Dreyer as stoetvee-afslaer by VKB begin werk.

In 1985 het ek aan die Calgary Stampede Internatio­nal Livestock Auctioneer-kampioensk­ap in Kanada deelgeneem en die eerste nie-Amerikaner geword het wat onder die toptien geëindig het.

Wie was jou mentor?

Ek was in ’n baie bevoorregt­e posisie om saam met goeie afslaers te werk. Ek het nie noodwendig ’n mentor gehad nie, maar iemand saam met wie ek gewerk het by wie ek baie geleer het, is Clive Gardner. Ek beskou Clive as een van die beste afslaers in Suid-Afrika. Hy het my geleer van die absolute profession­aliteit wat dit verg om ’n stoetvee-afslaer te wees.

Die ander persoon in die veilingsbe­dryf vir wie ek die wêreld se respek gehad het, was Jimmy Maritz. Hy was ’n dinamiese man wat my baie in my lewe gehelp het.

Waar bevind jy jouself tans?

Ek werk as onafhankli­ke afslaer en konsentree­r steeds op stoet- en wildveilin­gs. My vrou, Alida, is so drie jaar gelede oorlede, en ek het weer getrou. Ek en Anette Steyn bly in Koës, Namibië, maar ek doen steeds stoetveili­ngs reg oor Namibië en Suid-Afrika.

Met vanjaar se nasionale Dorper-veiling in Upington sal dit my 33ste jaar aaneen wees dat ek dit aanbied.

Ek het ’n baie spesiale plek in my hart vir die Dorperbedr­yf.

Watter raad sal jy aan jong afslaers gee?

Ken jou produk en weet wat jy opveil. Moenie probeer om groter as die bedryf te raak nie en gebruik geleenthed­e. Om ’n goeie afslaer te wees, is soos om rugby te speel – jy moet oefen en jy moet luister.

Hoe gaan dit met die bedryf?

Na my mening is van Junie laas jaar tot nou toe een van die swaarste jare wat ons in ’n lang tyd beleef het. Die koste om vandag ’n ram of bul in die ring in te jaag, is astronomie­s. Ek meen – kyk wat kos ’n sak voer. Ek is bekommerd oor die finansiële kapasiteit van boere.

Dit is nie maklik om te boer nie. Daar is struikelbl­okke soos minimum loon, beurtkrag en die hoë dieselprys, en dit kom alles uit die boer se sak.

Dan het die ontsettend­e droogte in die Noord-Kaap veral ’n impak op die speenkalfe­n lampryse. Die droogte was erg in 2019. In 2020 en 2021 het dit beter gegaan, maar nou is ons terug waar ons was – eintlik is ons ’n bietjie slegter daaraan toe as in 2019.

Ek sien dit op die veilings. Mnr. X koop gewoonlik sewe of agt ramme, nou sal hy net drie koop.

Wat gee jou hoop vir die bedryf vir die toekoms?

Daar sal altyd ’n vraag na bulle of ramme wees, want daarsonder kan die veebedryf nie vorentoe gaan nie. Ons moet net die struikelbl­okke uit die pad kry.

As jy met jou rug teen ’n muur staan, kan jy sien wat aangaan en jy kan planne beraam. Staan jy met jou rug teen die natuur is dit anders – jy is dan oorgelaat aan God se genade.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Deon Klopper bied vanjaar vir die 33ste keer die Dorpers se nasionale veiling op Upington aan.
FOTO: VERSKAF Deon Klopper bied vanjaar vir die 33ste keer die Dorpers se nasionale veiling op Upington aan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa