Waterverenigings ‘moet transformasie bevorder’
Die staat wil hê watergebruikersverenigings moet benewens die bestuur van water in hul betrokke gebied ook transformasie ten opsigte van rasen geslagsverteenwoordiging in ál hul bedrywighede bewerkstellig.
VOLGENS voorgestelde wysigings aan die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) moet watergebruikersverenigings in hul grondwet uiteensit hoe hulle ras- en geslagstransformasie gaan bereik.
Die minister van water en sanitasie kan ook, ingevolge die voorgestelde wysigings, eensydig die modelgrondwet wat verenigings móét gebruik, wysig. Dit beteken by implikasie transformasievereistes kan deur die minister voorgeskryf word.
Die Suid-Afrikaanse vereniging vir watergebruikersverenigings (SAAFWUA) sê in sy kommentaar op die voorgestelde wetswysigings ’n watergebruikersvereniging kan homself mettertyd in ’n posisie bevind waar hy weens sy verpligting om demografiese verteenwoordiging in elke sfeer te hê, té veel lede in sy bestuurskomitee hê wat nie watergebruikers is nie en dus nie werklik betrokke is nie.
“Dit kan daartoe lei dat die vereniging nie slaag om sy verpligtinge uit te voer nie, en dat die minister dan (ingevolge die voorgestelde wysigings) op verskillende maniere sal kan ingryp.”
Nic Knoetze, uitvoerende hoof van SAAFWUA, het aan Landbouweekblad gesê dit kan moeilik wees vir verenigings om te verseker dat hul bestuurskomitees verteenwoordigend is, aangesien dit afhang van die beskikbaarheid van gebruikers in die gebied. “Op sekere plekke is dit moeilik om breë verteenwoordiging te bewerkstellig.
“Watergebruikersverenigings word deur beperkings in die gesig gestaar, aangesien hulle nie watertoedeling en dus hul lidmaatskap kan verander nie. Boonop vereis bestuurskomiteeposisies dikwels langtermynbetrokkenheid en nie almal is bereid om in hierdie rolle te dien nie.
“Nietemin is dit deurslaggewend vir bestuurskomitees om verteenwoordigend te wees volgens hul lidmaatskapkriteria, soos uiteengesit in hul goedgekeurde grondwet.
“Dit is verder noodsaaklik om kontinuïteit (in die komitee) te balanseer met vars perspektiewe deur ’n mengsel van ervare en nuwe lede aan te moedig om doeltreffende bedrywighede te handhaaf.”
SAAFWUA is in gesprek met die departement van water en sanitasie oor transformasieriglyne vir watergebruikersverenigings. “SAAFWUA onderhandel reeds die afgelope drie jaar hieroor om te verseker dat die riglyne realisties en uitvoerbaar is,” sê Knoetze.
Regstelling vereiste vir lisensie?
In die voorgestelde wetswysigings word die regstelling van ras- en geslagsdiskriminasie van die verlede die beslissende oorweging gemaak wanneer watergebruikers se aansoeke om algemene magtigings en watergebruikslisensies oorweeg word.
SAAFWUA sê hieroor dat verdere duidelikheid nodig is oor die manier waarop die verantwoordelike waterowerheid diskriminasie van die verlede moet regstel en dat ’n riglyn hiervoor voorsien sal moet word.
SAAFWUA beveel aan pleks van om slegs aandag aan die regstelling van diskriminasie te gee wanneer ’n watergebruikslisensie of algemene magtiging uitgereik word, maatreëls ingestel moet word om te verseker dat nuwe watergebruikers (wat deur regstelling magtiging of ’n lisensie kry) die nodige ondersteuning kry. Daaronder tel tegniese vaardighede, toegang tot finansiering en voldoende ondersteuning van die staat ten opsigte van die bestuur van waterhulpbronne.
Die voorgestelde wysigings sluit ook in dat ’n sekere volume water in elke bestuursgebied vir regstelling uitgehou moet word. SAAFWUA sê meer duidelikheid is nodig oor
die hoeveelheid water wat ter sprake is.
Alle gebruikers word lede
Alle watergebruikers in ’n vereniging se gebied sal ingevolge ’n voorgestelde wetswysiging as lede van die vereniging geag word. Dit beteken dat besproeiingsboere nie meer ’n keuse sal hê om aan te sluit nie.
SAAFWUA verwelkom dit. “’n Watergebruikersvereniging is die waterbestuursinstelling wat alle watergebruike binne sy bedryfsgebied moet bestuur en die koste van die watergebruikers verhaal ingevolge sy goedgekeurde grondwet. Vrywillige lidmaatskap veroorsaak onnodige probleme.”
Verpligte lidmaatskap sal die bestuur van waterhulpbronne makliker maak deur te verseker dat alle gebruikers binne ’n opvangsgebied deel is van ’n gestruktureerde regsentiteit.
“Hierdie wetlike erkenning van watergebruikersverenigings sal probleme uit die weg ruim wat verband hou met gesag en bestuur, wat die doeltreffende inwerkingstelling van die gebruiker-betaal-beginsel moontlik sal maak.
“Deur verpligte lidmaatskap kan verenigings stelselmatig billike kosteverspreiding en nakoming van volhoubaarheidsbeginsels verseker. Dié raamwerk vereenvoudig administratiewe prosesse, verbeter voldoening aan omgewingsregulasies en bevorder die verantwoordelike gebruik van waterbronne, wat die algehele bestuur van water doeltreffender en volhoubaarder maak.”
Aanpasbaarheid nodig
SAAFWUA is egter ernstig gekant teen die voorgestelde wysiging dat waterverenigings verplig gaan wees om die departement se modelgrondwet vir verenigings as hul eie grondwet te gebruik, sonder die keuse om noodsaaklike afwykings te kan motiveer.
“Hoewel die bedoeling kan wees om bestuurstrukture te standaardiseer, is daar kommer oor die praktiese implikasies en die buigsaamheid wat nodig is om vir streeksvariasies en spesifieke gebruikersbehoeftes voorsiening te kan maak,” sê SAAFWUA in sy kommentaar.
Hy sê die modelgrondwet kan wel die grondslag van elke vereniging se eie grondwet vorm.
Luidens die wysigingswetsontwerp kan die minister die modelgrondwet wysig. SAAFWUA sê dié voorstel behoort geskrap te word omdat ’n grondwet nie eensydig hersien kan word nie.
Knoetze sê ondanks sy kritiek op sekere voorgestelde wysigings is daar ook ander wysigings wat SAAFWUA ondersteun.