Die ander sê
Wat Karoolam en Mont St. Michel-lam van Frankryk gemeen het
’N ETE of koopervaring kan interessanter wees as ’n mens meer van ’n produk en sy oorsprong weet. In 1994 het die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) ’n ooreenkoms oor intellektuele eiendom tot stand gebring, met ’n afdeling oor geografiese indikators (GI). Dit het die beskerming van sekere produkte vergroot. Daar word van alle lede van die WHO verwag om seker te maak dit word toegepas.
In 2023 is Karoolam geregistreer, en daar is heelwat ooreenkomste tussen die storie van Karoolam en Mont St.-Michel-lam, wat in 2013 sy GI-erkenning gekry het.
Uitgestrekte sout weiveld omring die Mont St. Michel-abdy, ’n wêrelderfenisgebied in Normandië in Frankryk. Die weiveld word twee keer per dag deur water uit die Engelse Kanaal oorstroom. As gevolg van die hoë soutinhoud van die weiding en die kusklimaat is die lamsvleis sag en sappig. Die unieke karakter van dié vleis geniet dus beskerming teen namaaksels.
Karoolam se storie het heelwat raakpunte hiermee. Die Karoo bedek byna 50% van Suid-Afrika se oppervlak, met ’n lae bevolking en is ver van groot stede. Hier wei skaaptroppe vrylik tussen verspreide bossies. Die vleis word as’t ware lewend gegeur op veldweiding.
Om dié outentieke produkte buite die streek van oorsprong en oor nasionale grense heen te verkoop, behels egter ’n paar kwessies. Dit sluit naspeurbaarheid, etikettering en die misleiding van verbruikers in. Volgens die Karoolam-konsortium, wat die integriteit van alle belanghebbendes probeer beskerm, is ’n streng naspeurstelsel nodig om die verbruiker van die egtheid van die produk te verseker.