Meer aan Loslitdag as net ‘n tema
Curro Mosselbaai se intermediêre fase leerders het vanjaar te doene gekry met die ware betekenis van Loslitdag. Jaarliks word die geld wat ingesamel word met die verkoop van Loslitdag-plakkers wat lede van die publiek in staat stel om of gemaklike klere of volgens ‘n tema aan te trek op ‘n werks- of skooldag, aangewend ter ondersteuning van persone met gestremdhede.
Vrydag het die leerders van graad 4 tot -7, ‘n eerstehandse weergawe gekry van die leefwêreld van twee gestremde vroue van Mosselbaai. Beide die vroue is nie gebore met gestremdhede nie, maar het later in hulle lewens gestremdhede ontwikkel.
‘Ek kan weer lekker stap’
Amanda Bester en haar gidshond Reo was ‘n treffer. Amanda het verduidelik hoe sy in haar laerskooldae na ‘n skool vir swaksiendes is. Sy het mooi verduidelik wat die verskil tussen ‘n skool vir swaksiendes en blindes is. Amanda se sig het toenemend versleg totdat sy vroeër vanjaar in aanmerking gekom het om ‘n gidshond te kry.
“Ek hou baie van stap, maar kon nie meer op my eie rondbeweeg nie. Ek het ook in goed begin vasloop. Nou dat ek Reo het, kan ek weer lekker stap.” Amanda het aan die kinders verduidelik hoe om ‘n gidshond te benader as hulle wil kennis maak. “As ‘n gidshond in sy harnas is en werk, moet hy nie gesteur word nie anders trek dit sy aandag af en kan hy nie doen wat sy hanteerder van hom verwag nie. Vra gou eers of jy aan die hond mag vat.”
Ondersteuning is belangrik
Desray Rabe, wat met gestremdheid saamleef vir die afgelope 18 jaar nadat sy op 23-jarige ouderdom ‘n aneurisme oorleef het, het ook met die leerders gesels.
Nadat sy uit ‘n wekelange koma ontwaak het, moes sy egter van voor af leer praat en loop.
“Ek kon net drie woorde sê - eina, pyna en wyna en niemand kon verstaan wat ek daarmee bedoel nie.” Sy was aanvanklik rolstoelgebonde, maar het na geestelike inkeer op ‘n vrouekamp besluit dat sy weer selfstandig wil kan beweeg. Sy kan nie haar regterarm of -hand gebruik nie en beweeg haar regterbeen met inspanning.
“Ek was toe reeds ‘n mamma van twee Amanda Bester verduidelik dat gidshonde nie gesteur moet word wanneer hulle hul harnasse dra nie. seuns. Ek was gelukkig dat ek saam met my een seun, wat toe in graad 1 was weer kon leer klank en skryf, met my linkerhand.”
Sy het die leerders aangemoedig om persone met gestremdhede nie mis te kyk nie, maar om hulle waardig te laat voel en te behandel. “Moenie bang wees om ‘n gestremde persoon direk aan te spreek nie. Soms maak mense asof ons nie meer vir onsself kan besluit of praat nie.”
Desray het die leerders herinner aan die belangrikheid van vriende en familie as deel van ‘n mens se ondersteuningstelsel. Sy het ook prakties beduie watter uitdaging dit is om ‘n bottel oop te draai as jy skielik net een hand mag gebruik.
Sy studeer maatskaplike werk deur Unisa en voltooi eersdaags haar studies.