Mossel Bay Advertiser

Humans se moordenaar swaar gestraf

- Louise Karsten

Na ‘n sitting van 10 dae in die rondgaande hooggeregs­hof op Mosselbaai in die saak tussen die Staat en Thamsanqa Sishuba (27), het Regter Robert Henney op Dinsdag, 12 September vonnisople­gging gedoen. Die gemeenskap van Groot-Brakrivier was in Junie 2016 werklik geskok na die wrede en grusame dubbele moord op geliefde inwoners van die dorp, Tewie (72) en Eurika (62) Human.

Tewie is in sy motorhuis by hul woning in Sandhoogte­pad, sewe keer met ‘n panga oor die kop geslaan. Die wonde was elk 35mm diep. Hy is letterlik doodgekap.

Eurika is eers gedwing om R14 000 vanaf die egpaar se bankrekeni­ng na ‘n FNBbankrek­ening in Lesotho oor te plaas, waarna sy met ‘n mes in die nek en hart gesteek is.

Die moordenaar­s het die Humans se honde, ‘n staffordsh­ire-bulterriër en ‘n yorkshiret­erriër in die huis saam met Eurika se liggaam toegesluit en die motorhuis se deure is ook gesluit. Tydens die verhoor het dit geblyk dat dié dade gepleeg is sodat die gemeenskap moet dink die egpaar is met vakansie.

Tewie het volgens ‘n patoloog nog enkele dae na die aanval geleef. Dié bevinding is gemaak omdat sy liggaam tydens die nadoodse ondersoek nog “goed bewaar” was. Die nek- en borswond wat Eurika toegedien is, was fataal en sy is onmiddelli­k dood.

In die oë gekyk

“Staan asseblief,” het Regter Henney tydens vonnisople­gging en ten aanskoue van die Humans se familie en vriende aan Sishuba gesê.

Regter Henney het Sishuba vas in die oë gekyk toe hy gesê het: “Op aanklag 1, roof met verswarend­e omstandigh­ede op Tewie, 15 jaar gevangenis­straf. Op aanklag 2, roof met verswarend­e omstandigh­ede op Eurika, 15 jaar gevangenis­straf. Op aanklag 3, moord op Tewie, lewenslang­e gevangenis­straf en, op aanklag 4, moord op Eurika, lewenslang­e gevangenis­straf.”

Die snikke van ‘n familielid het in die hof weerklink terwyl polisiebea­mptes ‘n verdwaaste Sishuba na die aanhouding­selle geneem het.

Verkleurma­nnetjie

Sishuba het sy weergawe van wat op die dag van die moord gebeur het, drie keer tydens die verhoor verander. Een van sy weergawes is dat sy vriend, Lebohang (Steven) Lekoro, wat voltyds vir die Humans gewerk het, hom gevra het om op die dag van die moord werk vir die Humans te doen.

Sishuba het deurentyd die skuld op Lekoro gepak en het aan Regter Henney gesê dat hy onbewus was van die moordplann­e. Regter Henney het egter tydens uitspraak dit aan

Sishuba gestel dat die moord goed en vooraf beplan was en het dit beskryf as ‘n daad van pure gierigheid.

Sishuba het eers ‘n bekentenis aan die ondersoekb­eampte, ao Gerald Rabie gemaak nadat ao Rabie hom met die toneel verbind het deur middel van ‘n palm-afdruk. Teen daardie tyd het Lekoro reeds landuit na Lesotho gevlug. Lekoro is steeds op vrye voet.

Sishuba was tydens kruisonder­vraging deur die staatsaank­laer, Christhénu­s van der Vijver, aggresief en bakleierig. Hy het ook gereeld die hofverrigt­inge probeer onderbreek deur in Sotho te begin praat terwyl Regter Henney met die regspanne gepraat het.

Regter Henney het Sishuba as ‘n verkleurma­nnetjie beskryf en het gesê dat, indien hy van die begin af met die polisie eerlik was, daar ‘n kans sou wees dat Lekoro vasgetrek kon word voordat hy landuit gevlug het.

Regter Henney het dit aan Sishuba gestel dat hy geen berou oor sy dade getoon het nie en slegs jammer is dat hy uitgevang is.

Na afloop van die hofverrigt­inge het familie van die Humans gesê dat hulle tevrede is met die sterk vonnis. “Ons sal egter eers gemoedsrus kry wanneer Lekoro ook vir sy dade boet,” het die Humans se skoonseun, ds Gerhard Petersen gesê.

Sishuba sal volgens regskenner­s minstens 25 jaar gevangenis­straf uitdien voordat hy om parool kan aansoek doen.

 ??  ?? Die Humans se huis waar die grusame moorde gepleeg is.
Die Humans se huis waar die grusame moorde gepleeg is.
 ??  ?? Thamsanqa Sishuba tydens ‘n hofverskyn­ing.
Thamsanqa Sishuba tydens ‘n hofverskyn­ing.
 ??  ?? Tewie en Eurika Human.
Tewie en Eurika Human.
 ?? Foto: Louise Karsten ?? Verligte familie van die Humans buite die hof na die vonnisople­gging: Danie Vos, Gerhard Petersen en Francois Vos.
Foto: Louise Karsten Verligte familie van die Humans buite die hof na die vonnisople­gging: Danie Vos, Gerhard Petersen en Francois Vos.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa