Mossel Bay Advertiser

Jong man pak inbreker wat hy twee keer betrap

- Cornelle Carstens

‘n Jong inwoner van Rooielsstr­aat 40, Hartenbos Heuwels het sy hande onlangs vol gehad toe hy ‘n inbreker twee keer op dieselfde aand in sy slaapkamer betrap het.

Volgens Benjamin Roach (21) is hy eintlik nie ‘n baie brawe ou nie, maar in die vroeë oggendure van Vrydag, 1 September het die adrenalien hom vol bravade laat optree.

Roach se pa werk in die buiteland en sou op die Vrydag terugreis na die Midde-Ooste.

“Ek het omtrent so twee uur die oggend wakkergesk­rik toe iemand my kamerlig aanskakel. En daar staan hierdie ou. En ons kyk net vir mekaar, seker vir ‘n paar sekondes.” Toe Roach tot verhaal kom, het die man reeds twee van sy bedkassiel­aaie, ‘n kamera en sy selfoon gegryp en begin weghardloo­p.

“Ek besef toe, ek sal seker agter die ou moet aanhardloo­p.” Roach het die man deur die skuifdeur wat na buite lei, waardeur die vermeende inbreker vermoedeli­k toegang tot sy kamer verkry het, agternages­it. In die hardloop, het die verdagte van die goedere neergegooi.

‘ Fight gaan vir ewig aangaan’

“Nadat ek my goed opgetel het, is ek terug die huis in en het my rekenaar aangeskake­l sodat ek my selfoon deur middel van ‘n GPSsein kon probeer opspoor. Ek het die kamerlig afgeskakel en gewag.

“Ek het buitentoe gestap om te sien of ek die man êrens kan kry en toe ek weer sien, is hy sowaar weer in my kamer.”

Roach het die man ‘n tweede keer agternages­it, hom ingehaal en beetgepak in ‘n poging om sy selfoon terug te kry. “Ek het al die tricks wat mens op TV sien probeer, maar dit het nie gewerk nie. Ek het die heeltyd om hulp geroep en vir die man geskree om my foon terug te gee. Hy het gesê hy het ‘n mes, maar ek het dit nooit gesien of gevoel toe ons handgemeen was nie.”

Uiteindeli­k het die verdagte Roach se foon op die grond neergegooi. “Ek het dit met my los hand probeer van die grond af optel, toe die man op my hand begin trap. Hy het my ander hand waarmee ek hom vasgehou het begin byt. Ek het besef hierdie fight gaan vir ewig aangaan en niemand het kom help nie, toe het ek maar die ou laat gaan.”

Onlangs verhuis

Met sy tuiskoms, was die res van sy huismense teen hierdie tyd wakker van die kabaal.”My voete was seer van die kaalvoet hardloop op die teer en my hand het gebloei. Daar was geringe skade aan my foon en ook my kamera wat die man neegegooi het.”

Intussen het die buurtwag, asook die bure goeie ondersteun­ing aan die gesin gebied vertel Roach. “Die ou het geld by my gevat, maar iemand wat ek glad nie ken nie het op facebook laat weet hulle het my ID en lisensie opgetel.”

Die gesin woon nog nie ses maande in Mosselbaai nie, nadat hulle uit Port Elizabeth getrek het vanweë die misdaadsit­uasie.

“Dis net crazy om so iets te ervaar. Ek slaap deesdae met ‘n baseball bat langs my bed.”

‘n Saak van huisbraak word deur die Da Gamaskop-polisie ondersoek.

‘Ek het omtrent so twee uur die oggend wakkergesk­rik toe iemand my kamerlig aanskakel.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa