‘Souwesia-ontwikkeling sal gemeenskap bevoordeel’
"Mosselbaai-munisipaliteit se ontwikkelingsvoorstelle vir Souwesiastrand is daarop gemik om die area tot die voordeel van die gemeenskap te herstel en om voorkeurfasiliteite daar te stel," het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Hy het benadruk dat daar geen sprake is dat die strandgebied of enige van die Souwesia-grond verkoop of vervreem gaan word nie, of dat dit in 'n tweede Diasstrand sal ontwikkel nie.
Herstel van regte
"Ons is juis besig met die herstel van regte. Juis daarom het ons pas ook 'n lae-koste behuisingsprojek in Diasstrand bekend gestel."
Raadsheer Levendal sê dit sou onverantwoordelik wees sou die Mosselbaaimunisipaliteit fondse spandeer op een oord terwyl ander oorde onder privaatbestuur geplaas word.
"Die munisipalteit het juis begrip getoon vir die gemeenskap se behoeftes. Om ‘n oord te skep met fasiliteite - op ‘n aanvaarbare standaard en waartoe almal toegang het - word aanbeveel dat Souwesia herontwikkel word om voorsiening te maak vir 'n driester-gegradeerde woonwapark asook 'n addisionele tentkampering- en dagkamperingsterrein. Die woonwapark sal sowat 48% van die ontwikkeling beslaan. Die tent en dagkamperingsarea kan boonop gebruik word as 'n area waar gemeenskapfeeste aangebied kan word, juis om die plaaslike ekonomie te stimuleer en werksgeleenthede vir ons jeug te skep. Boonop sal voldoende parkering voorsien moet word."
Apartheid
Raadsheer Levendal verduidelik dat Souwesia onder die ou apartheidswetgewing as ‘n Kleurlinggebied geklassifiseer was. Omdat die sogenaamde Kleurlinge nie toegang tot heelwat ander strandgebiede gehad het nie, was Souwesia baie gewild en is die gebied ten volle benut. Met die afskaffing van apartheid het almal egter vrye toegang tot alle strande in die groter Mosselbaai gekry en het die gewildheid van Souwesia afgeneem. Dié afname in gewildheid het tot vandalisme gelei, tot so ‘n mate dat die geboue onveilig geraak het en dat uiteindelik gevra is dat dit gesloop moes word.
"Die voormalige munisipale raad van Groot Brakrivier, onder ANC-bewind, het by wyse van ‘n raadsbesluit die voorneme te kenne gegee dat hulle die gebied bekend as Souwesia wou vervreem. Hulle wou die grond verkoop.
Hiervoor is tenders geadverteer en ‘n tender vir die verkoop van die grond is wel toegeken. Die onsuksesvolle tenderaars het appél aangeteken en die verkoopsproses is nooit voltooi nie. Met die inlywing van Groot-Brakrivier se munisipaliteit by die groter Mosselbaai munisipale area het die nuwe raad die aangeleentheid heroorweeg en is teen die voorgenome verkoop van die grond besluit. Die voorheen suksesvolle tenderaar het daarna selfs die Mosselbaaimunisipaliteit gedagvaar."
Prioriteite
"Mosselbaai-munisipaliteit moet beskikbare hulpbronne prioritiseer. Die munisipaliteit se prioriteite is basiese dienste soos die voorsiening van water, sanitasie, elektrisiteit, vullisverwydering, die instandhouding van strate, en dies meer. Die munisipaliteit moet daarteen waak dat skaars hulpbronne nie gebruik word vir aktiwiteite wat nie munisipale verantwoordelikhede is nie, of vir aktiwiteite wat deur die privaatsektor gedoen kan word nie. Daarom het die munisipaliteit die De Bakke/Santosoord onder privaatbestuur geplaas, en daarom is die voorstel om ook die Punt-woonwapark se bestuur te te privatiseer. Die verdere voordeel is dat wanneer die fasiliteite onder privaatbestuur is, dit investering uit die privaatsektor lok. Dit beteken egter nie dat die munisipaliteit die grond afgee, verkoop of wegmaak nie, dis bloot die bestuur van die oorde wat geprivatiseer word terwyl die fasiliteite boonop kontraktueel deur die privaatkontrakteurs verbeter moet word," sê raadsheer Levendal.
Grondeise
Sover die munisipaliteit kon vasstel, is daar geen hangende grondeis ten opsigte van Souwesia nie. Daar is wel 'n beletsel dat op die groter area waar die oord voorheen was, geen addisionele ontwikkeling mag plaasvind nie juis weens die botaniese waarde daarvan. Daarom sal hierdie gedeelte as openbare oopruimte geag moet word.
Die raad se volledige voorstel sal later vandeesmaand gepubliseer word vir openbare kommentaar. Dit bied die geleentheid vir enige inwoner om kommentaar te lewer of om teenvoorstelle te maak.
Alle voorstelle sal oorweeg en verwerk word voordat die raad van die slotsom van die openbare deelnameproses ingelig word en voordat 'n finale besluit geneem sal word.