‘n Nuwe begin wink vir Kenny Africa
Die naam Kenny Africa het gedurende die afgelope 46 jaar sinoniem met verkeer in die Wes-Kaapprovinsie geword.
Dié verkeershoof is ewe geliefd by motoriste en media vir sy praktiese benadering tot padveiligheid. Die einde van
'n era is nou sig met Africa se aftrede wat in Julie wag.
"Ek wou van kleins af 'n verskil in mense se lewens maak," sê hy. Sy kinderjare was egter glad nie maklik nie. Hy is op die Morawiese sendingstasie Genadendal in die Overberg as die jongste van 11 kinders gebore. Na sy pa se dood toe Africa twee jaar oud was, moes sy ma baie hard werk om die beste opvoeding moontlik vir haar kinders te bied.
Op 18-jarige ouderdom het hy in 1974 by die departement van vervoer aansoek gedoen om 'n verkeersbeampte te word. Na voltooiing van sy opleiding by die kollege op Ottery is hy na die provinsiale verkeersafdeling in Worcester ontplooi.
Na ses maande wou Africa bedank as gevolg van die moeilike werksomstandighede onder die apartheidsbedeling. 'n Bruin kollega het hom oortuig om te bly, maar na die volgende ses maande was hy weer gereed om handdoek in te gooi: "Dieselfde beampte, my vriend offisier Cupido, het my bedankingsbrief opgeskeur en gesê ek moet vasbyt, want ek gaan eendag verkeershoof word."
Africa het toe besluit om sy taktiek te verander en sy persoonlike standaarde vir prestasie nóg hoër te stel. In plaas van die gewone 30 kaartjies per maand, het hy 300 uitgereik; in plaas van een arrestasie per maand, het hy 15 gedoen. Hy het ook meer as 120 ure vrywillige oortyd per maand gewerk.
Eerste bruin verkeersbeampte
Sy harde werk is raakgesien en na 'n jaar het hy die eerste bruin verkeersbeampte geword wat 'n meriete bevorderingstoekenning ontvang. In 1976 word hy die eerste bruin beampte wat na 'n senior rang bevorder is.
In April 2010 is hy as hoofdirekteur van provinsiale verkeer aangestel - 'n posisie wat hy sedertdien met trots en toewyding gevul het. Hy het verskeie toekennings vir uitstaande diens deur die jare ontvang en bekend geword as 'n beampte wat geen genade het vir iemand wat ander padgebruikers se lewens in gevaar stel nie.
Africa het 'n besondere verhouding met die media opgebou sedert hy in 1997 die eerste keer as woordvoerder vir die WesKaapse verkeersafdeling opgetree het: "Ek het amper elke dag met die 196 lede van die media op my Whatsapp-groep gekommunikeer," sê hy trots.
Hy is in die laat 70's met 'n onderwyseres van De Doorns, Trudy, getroud en die egpaar het drie kinders. Hul oudste seun is in 2001 in 'n motorongeluk dood en hul dogter is 'n dosent by Universiteit Stellenbosch. Sy jonger seun is in die polisie. Die egpaar het ook drie kleinkinders, wat hul oupa in die sak het. "As hulle iets wil hê, koop jy dit. Hulle weet nét hoe om dit reg te kry."
As hy nuwe verkeersbeamptes raad kon gee, is dit volgens hom om elke dag die Here te dank vir die geleentheid om te dien. "Bly gemotiveerd en wees altyd bereid om iets ekstra te doen; iemand se lewe mag daarvan afhang."
Op die vraag na sy toekomsplanne wou hy slegs verklap dat hy nie van die toneel gaan verdwyn nie: "Ek mag dalk die politiek betree om die lewens van alle inwoners van die Wes-Kaap te verbeter."
Sy harde werk is raakgesien en na ‘n jaar het hy die eerste bruin verkeersbeampte geword wat ‘n meriete bevorderingstoekenning ontvang.