Verf uit die hart van die natuur
'n Fyn oog vir vorm en kleur, saam met 'n ondersoekende gees, het 'n skilder van formaat in Stilbaai opgelewer.
In Willie Deyzel se huis in Panoramasingel is dit nie net die uitsig oor die Goukourivier wat jou asem wegslaan nie. Elke moontlike spasie teen die mure en selfs op die vloer getuig van dié nederige man se uitsonderlike skildertalent en produktiwiteit.
Hy vertel met 'n skaam glimlag hoe hy van kindsbeen af skilder. "My eerste kunsklasse in sub A en B was by Jan Volschenk, die bekende Vera Volschenk se pa." Hoewel hy by dieselfde onderwyser sangklasse ook gehad het, was dit minder suksesvol. Hy lag droogweg: "Ek is altyd gesê om liewer stil te bly, maar my tekenboeke is eenkant gehou."
Hy is baie lief vir die natuur en ken bome en diere goed. Hy vertel hoe hy in die 80's op Williston 'n klein algemene winkeltjie bedryf het. Met sy wye kennis van blomme het hy 'n inligtingskantoor vir blomkykers in sy winkel se stoor begin. Daar het hy onder meer kaartjies waarop hy plaaslike tonele en plante geskets het, verkoop. Hy kon byna nie voorbly daarmee nie, vertel hy. "Ek het altyd blanko kaartjies byderhand gehou en kon sekere tonele naderhand so vinnig teken soos wat jy kan skryf."
Sy werk is tydens 'n uitstalling deur 'n Stellenboschse kunsdosent raakgesien, wat hom aangemoedig het om meer tyd aan sy kuns te spandeer. Van daar af reken hy, het hy amper elke dag van sy lewe tot dusver 'n skildery of skets gemaak. Hy het ook in olieverf begin werk en volgens sy berekeninge het hy tot op datum al meer as 8 000 skilderye afgehandel.'n Omwenteling in die materiale wat hy gebruik, het gekom toe hy met Gregoire Boonzaaier kennis maak. By hom het Deyzel geleer om met natuurlike materiale soos roet en asyn te teken. Hy het met blomme, bas, vrugte, lichene - kortom enigiets wat vir hom interessant gelyk het, begin eksperimenteer. Sy inspirasie was onder meer Boesmantekeninge, waar hy opgemerk het die klipblom ('n licheen in die omgewing) het dieselfde kleur as die rotstekening. Daarna het hy die kleure van plante soos aalwyn, bougainvillea en freesias ingebring. "Ek kook dit, stook dit, gee dit tyd om te ontwikkel. Die chemiese proses verander die oorspronklike produk en jy weet nooit presies watter kleur daar gaan uitkom nie."
Vir 'n spesifieke blou met 'n byna deursigtige karakter sê hy werk net malva. "Hoewel die malva rooi is, lewer dit dié besondere blou op. Ek kan net blou teken wanneer daar malvas is." Wattelbas is 'n ander onmisbare element om die kenmerkende ligbruin te kry wat sekere bome het. 'n Kleur wat te donker is, word met suurlemoen ligter gemaak.
Hy skilder net op fotografiese kwaliteit papier en seël die voltooide kunswerke met gesmelte byewas.
Sy gedagtes loop ver paaie wanneer hy sê: "Ek sal altyd aanhou skilder."
Deyzel en sy vrou Frieda is reeds 65 jaar getroud en het vier kinders, sewe kleinkinders en agt agterkleinkinders.