Kwaste swaai by die DBV
Nadat plaaslike kunstenaars die Tuinroete DBV die naweek onder hande geneem het, is dit des te meer 'n besoek werd, selfs vir diegene wat nie in die mark is vir 'n nuwe troeteldier nie. Die organisasie se terrein in
Bill Jeffrey-rylaan spog nou met die allermooiste muurskildery danksy 'n gesamentlike poging wat op Mandeladag aangepak is.
Volgens Gerda Reynders, bestuurder van die plaaslike tak, is hulle meer as tevrede met die artistieke uitkoms, maar wat hulle ander Mandeladagmikpunte betref, is die behoefte maar nog ver van bevredig. Die organisasie het op hulle wenslysie vir Mandeladag gehad om 67 sakke honde- en 67 sakke katkos, asook R6 700 in te samel.
Kunstenaars wat aan Saterdag se projek deelgeneem het was James Malgas, Riëtte Delport oftewel die kunstenaar Rut, Lance Barnard, Maeve Parker en ma-en-dogterspan, Liani en Kira Swanepoel. Hulle is bygestaan deur groepe hoërskoolleerders van onder meer Hoërskool Outeniqua en Hoërskool Punt.
Die kunstenaars was dit eens dat dit heerlik was om weer die verfkwaste, veral in 'n gesamentlike poging op te neem. "Dis die eerste keer dat ek weer in die publiek kom en my verfkwaste natmaak. Die lockdown het my lui gemaak. Nie een van my skilderye tuis is klaar nie, want die frustrasie het my gevang. Mens kan nie altyd gelukkig en kreatief voel in tye soos hierdie nie. Dis heerlik om op 'n geskiedkundige dag soos vandag fellowship met ander kunstenaars te kan hê. Ons het nodig om mekaar op te bou," het straatkunstenaar, James Malgas gesê.
Kira Swanepoel het dit beaam en gesê dat dit heerlik is om weer tussen mense te kom na die weke van isolasie.
Verbygangers het die verwery met groot belangstelling dopgehou. "Ons wil graag wys dat ons as kunstenaars tesame iets positiefs binne die gemeenskap kan skep. Veral gedurende hierdie pandemie. Dit bring weer 'n bietjie kleur in die gemeenskap. Dis iets moois."
Die DBV se grensmuur op Louis Fourieweg word op 'n latere stadium ook geverf.
Enige skenkings om by die DBV se Mandeladag-mikpunt uit te kom, kan in Mosselbaai of George geskenk word. Vir meer inligting, skakel 044 693 0824.