Springroses se sterre skitter blink
Springroses het teen 1971 ‘n oorvloed van talentvolle jong rugbyspelers gehad.
Naas Jack du Plessis was Clemment Strydom (vleuel) ongetwyfeld die mees uitstaande speler wat hierdie klub teen daardie tyd opgelewer het. Hy was baie van sy tydgenote vooruit wat balretensie betref. Hy was ook een van die min vleuels in sy tyd, wat in volle vaart ‘n rugbybal met een hand van die grond af kon optel. Sy bedrieglike systappe en taktiese skoppies het van hom die mees aanvallende vleuel in sy era gemaak. Na afloop van die
Rhodes-toernooi, 1971 in Kaapstad het hy sy nasionale kleure gekry. Hy was ‘n volwaardige Springbok.
Nog ‘n speler by hierdie toernooi van Mosselbaai wat groot hoogtes bereik het was Michael Mitchell. Naas
Bushie Michaels (flank), Alfred Mitchell (stut) en Derick Heunis (agsteman) van die 1950’s, was Michael Mitchell
(Iky) die mees uitstaande voorspeler van sy era. Mitchell wat saam met Strydom in die nasionale span van 1971 opgeneem is, het die destydse SARUkaptein, Winston Peterse uit die kussing gelig.
Mitchell se insluiting in die SWD-span daardie jaar, is voorafgegaan deur heelwat kritiek vanuit sekere plaaslike rugbykringe, maar hy het sy kritici uiteindelik verkeerd bewys en was almal se held.
Twee voorspelers wat ongelukkig nie die SARUspan gehaal het nie, was Basil, Iky se jonger broer asook hul neef, Ron Mitchell. Hierdie twee voorspelers met hul aggresiewe en klipharde inklimspel, was volgens rugbykenners van die beste wat hulle nog gesien het tydens die SARUtoernooi van 1971. Beide broers, Michael en Basil, het later hul rugbyloopbane in die groter Kaapstad gaan voortsit en het vir verskillende provinsies gespeel.
* In 'n volgende uitgawe, vertel Charles meer oor Harry James, oftewel Die Hek.