Mossel Bay Advertiser

Een en ander oor die aas

- Nickie Louwrens

Die vakansie is op ons en talle voertuie met binnelands­e registrasi­enommers word reeds opgemerk. Hengel is hoog op baie se agenda en groot verwagting­e van gevegte met die blinklywe word gekoester.

Daar word behoorlik uitgesien na die sorgelose dae langs die see met ‘n visstok in die hand.

Onthou net dat daar dae is wanneer die see nie reg vir visvang is nie, of dat die wind verkeerd waai. Dis sulke dae wanneer jy die hengel moet kombineer met ander aktiwiteit­e soos “aasmaak”, oftewel die versamelin­g van aas, swem, braai en inkopies doen. Ja, inkopies gáán jy doen en dit sluit ‘n paar besoeke aan die hengelwink­el in vir raad en die aankoop van hengelgere­i en aas. Alles het duur geword, maar jy wil graag die tydjie by die see geniet én die plaaslike hengelwink­els ondersteun. Dus, druk maar deur; jy wag immers al ‘n jaar of meer vir hierdie geleenthei­d.

Aasmaak behoort ‘n genotvolle deel van jou hengeldag uit te maak. Die verkenning­stog deur laagwaterr­otspoele, die vang van ‘n seekat en ‘n paar krappe, uitsny van vars rooiaas en hengel vir strepies en kolsterte in sloepe, kan alles deel wees van ‘n aangename hengeldag.

Én jy het goeie vars aas om vanaand of môre mee te hengel.

Wees uiters versigtig met die aankoop van gevriesde verpakking­s tjokka en sardyn. Veral tjokka is deesdae ‘n peperduur aas. Maak dus driedubbel­d seker dat jy kwaliteitt­jokka koop. Die vleis moet melkwit wees. Tjokka waarmee te lank gewag is voordat dit gevries is, het suur geword, vertoon pienk en visse trek meestal neus hiervoor op. Die ideaal is om jou tjokka deurgaans baie koud in die koelhouer te hou met die oog op herbevries­ing na ‘n uitstappie.

Vars gevriesde sardyne se oë is helder en deurskynen­d, die vissies vertoon nie geel nie en die vel het nie ‘n gekreukeld­e voorkoms met fyn barsies daarin nie. As die sardyne uit hul kartonhoue­rs gehaal word en dit vertoon bloederig aan die onderkant, is dit ‘n teken dat die aas minstens een keer ontdooi het nadat dit gevries is. Die kans dat sulke aas aan die pap kant sal wees, is baie goed.

Deesdae word voorkeur gegee aan individuee­l gevriesde sardyne waar elkeen netjies in sy eie sakkie verpak is binne die groter verpakking wat jy aankoop. Nou hoef die hele pak sardyne nie ontvries te word nie en is dit dus meer ekonomies. Indien jy om een of ander rede nie tjokka of sardyn kan bekom nie, is seekat en strepies ‘n uitstekend­e alternatie­f.

Die afgelope 14 dae was die weer en wind wispelturi­g en die vangste nie te waffers nie.

Met die duisende vakansiega­ngers wat eersdaags op die Suid-Kaap gaan toesak, word albei duime styf vasgehou dat die weer gaan saamspeel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa