Ek het iemand geskiet, wat is die prosedure nou?
Deel 2 van AfriForum se wenke in die geval waar jy met jou vuurwapen in noodweer moes afvuur.
7. Neem self foto’s van die toneel, verkieslik voordat die polisie opdaag. Moenie die foto’s aan al jou vriende versprei nie. Dit behoort slegs met die ondersoekbeampte gedeel te word en vir jou eie rekorddoeleindes gehou te word. Moenie die gebeure met te veel ander getuies bespreek nie – veral nie met onafhanklike getuies nie. Neem hul besonderhede, neem ’n foto daarvan sodat jy weet wie hulle is en gee hul besonderhede aan die polisie. Moet onder geen omstandighede enige foto’s op sosiale media deel nie. Belangrike dinge om te fotografeer, sluit in:
i. die posisie van die verdagte in verhouding tot ander landmerke, meubels en ander tasbare goedere – neem die foto van ’n afstand sodat die agtergrond gesien kan word
ii. die wapen – neem dit van naby, sodat dit duidelik geïdentifiseer kan word, en ook van ’n afstand sodat mens kan sien hoe dit lê en die verhouding daarvan tot ander voorwerpe
iii enige ander uitstaande kenmerke – byvoorbeeld ’n deur of ‘n venster wat deur die misdadiger beskadig is om toegang te kon verkry, of gereedskap wat gebruik is, soos ’n koevoet of skroewedraaier
iv. koeëlgate in mure of op die vloer – ook waar die leë doppies lê in verhouding tot ’n muur of op ’n mat
As jy kan, probeer om al die foto’s vanuit dieselfde hoek te neem ten einde dieselfde perspektief te kan behou. Onthou om nie die toneel te vertrap en dinge rond te skop nie. Maak seker dat die toneel nie versteur word nie.
8. Moenie met jou vuurwapen in jou hand rondloop wanneer die polisie opdaag nie.
Plaas die vuurwapen op ’n veilige plek soos die wet vereis, met ander woorde in sy skede aan jou lyf of in die kluis. Wys die vuurwapen en/of die vuurwapenlisensie vir die polisie indien hulle jou daaroor uitvra. As die polisie op ’n skiettoneel aankom waarheen hulle ontbied is, en ’n persoon kom na hulle toe aangestap met ’n vuurwapen in die hand, kan die persoon as ‘n bedreiging beskou word.
9. Moenie met die toneel of bewysstukke peuter nie, al voel jy dat ’n voorwerp nie as ’n bewysstuk tel nie. Enige verandering wat jy op die toneel aanbring, insluitend wesenlike veranderinge aan die vuurwapen wat jy gebruik het, mag agterdog wek. Wanneer die polisie vra om jou wapen te sien of inspekteer, stel dit dadelik aan hulle beskikbaar. Jy moet ook jou vuurwapenlisensie aan die polisie toon indien hulle dit versoek.
10. Jy is onder geen verpligting om dadelik ’n verklaring af te lê nie. Jy het ook die reg om stil te bly. As jy jou swygreg uitoefen, is dit belangrik om te besef dat die speurders slegs die fisiese bewyse het om mee te werk en dat jou weergawe van die geval nie by die voorlopige ondersoek ingesluit sal word nie. Jy sal wel in ’n stadium ’n verklaring móét aflê, maar jy kan dit met die hulp van jou prokureur doen en dan aan die ondersoekbeampte oorhandig. Moenie jok, inligting weerhou, inligting opmaak of belangrike feite weglaat nie.
11. Die polisie sal waarskynlik beslag lê op die vuurwapen wat jy gebruik het sodat hulle ballistiese toetse kan uitvoer en dit moontlik later as ’n bewysstuk tydens die hofsaak of ander formele ondersoek verhoor kan gebruik. Die vuurwapen sal ook forensies ondersoek word en ’n verslag sal aan die speurder uitgereik word.
12. Die enigste rede waarvoor jy op die toneel in hegtenis geneem mag word, is as dit duidelik uit die feite blyk dat jy moontlik skuldig is aan die opsetlike pleeg van ’n misdaad. Optrede uit noodweer (wanneer jy binne die riglyne opgetree het om jou lewe te beskerm of dié van iemand anders wat onmiddellik deur ’n boosdoener bedreig word) is nie ’n misdryf nie, maar juis gronde om jou van enige moontlike misdryf ten opsigte van die dood van dié boosdoener vry te skeld.
13. Die polisie sal ’n dossier saamstel uit al die feite wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het. Dit sluit onder meer al die verklarings in (ook joune) en bewysstukke deur amptelike fotograwe, die nadoodse ondersoek en ballistiese toetse. Die voltooide dossier word tesame met ’n dekbrief wat deur die ondersoekbeampte opgestel is, aan die staatsaanklaer oorhandig. Die staatsaanklaer sal dan besluit of daar vervolging sal plaasvind. Indien daar geen afdoende bewyse is dat die daad wel die pleeg van ’n vervolgbare misdryf regverdig nie, sal die staatsaanklaer nie die aangeleentheid laat vervolg nie.
Die dossier kan wel heropen word indien daar nuwe feite aan die lig kom wat wel ’n vervolgbare misdryf daarstel. Dikwels word die aangeleentheid verwys vir ’n geregtelike doodsondersoek om enige twyfel uit die weg te ruim oor die gebeure wat tot die voorval aanleiding gegee het.
14. Laastens is dit ’n goeie idee om ’n mate van nabetragting of berading te ondergaan. Jy en/of ander betrokkenes sal heel waarskynlik trauma ervaar en benodig ondersteuning. Posttraumatiese stresversteuring is ’n werklikheid.
Jy is onder geen verpligting om dadelik ’n verklaring af te lê nie. Jy het ook die reg om stil te bly.
Onthou om nie die toneel te vertrap en dinge rond te skop nie.