Mossel Bay Advertiser

DWARSLAT GESELS SPORTSAKE

- Dwarslatgr­oete!

Dankie tog, dié een is agter die blad! Dwarslat erken dit ruiterlik. Dit was maar 'n senutergen­de 82 minute om oor daardie eerste hekkie te kom by vanjaar se Wêreldbeke­r rugbyskous­pel toe die Springbokk­e Skotland in Marseille met 18-3 geklop het. Op die keper beskou, was dit egter 'n oortuigend­e oorwinning met die Bok-verdedigin­g, wat absoluut uitstaande was.

Om Skotland tot net drie punte te kon beperk en die losskakel, Finn Russell, geen spasie toe te laat nie, het 'n groot rol daarin gespeel dat die gevaarlike oud-Kwagga, Duhan van der Merwe op linkervleu­el, ook nie tot sy reg gekom het nie. Russell en Van der Merwe speel baie van mekaar, maar wanneer Russell se keel toegedruk word, bly daar nie veel oor vir Van der Merwe om mee te werk nie.

Dwarslat wonder egter steeds hoekom daar van die Bokke se losskakel-spelskeppe­r en nóg 'n oud-Kwagga, Manie Libbok, verwag is om daardie twee lang strafskopp­e vroeg in die eerste helfte pale toe te waag? Sou die beter opsie nie gewees het om die Skotte naby hul doellyn met kantlynsko­ppe vas te pen en van daar met rolmaalbew­egings probeer het om vroeg bresse te slaan nie? Soos daar gedoen is teen die All Blacks in die opwarmings­tryd op Twickenham waar die Bokke met 'n rekord-telling van 35-7 geseëvier het.

Libbok het darem vir sy swak vertoning met sy skopwerk (2/5) pale toe, vergoed met die res van sy spel en hy is ook as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Daai twee skrums waar die Skotte die Bokke ook net voor rustyd in trurat gedwing het, het Dwarslat amper laat stik aan 'n slukkie wyn, maar met die draaislag was dit duidelik dit sou nie weer gebeur nie. Suid-Afrika is geseënd met twee uitsonderl­ike voorrye. Die Bokke in hul pajama-truie was ook reusagtig in die lynstane en Pieter-Steph du Toit, wat weer so skerp lyk soos hy in 2019 in Japan was, het ook in dié afdeling sy kant gebring toe Eben Etsebeth die veld met 'n besering verlaat het.

Van die All Blacks gepraat. Hier is 'n span met probleme en 'n mens wonder hoe groot die sielkundig­e invloed is van die nederlaag 'n paar weke gelede toe die Bokke hulle op Twickenham streepsuik­er gegee het.

Verrassing­s en Wêreldbeke­r-rugby stap hand-aan-hand. Vra maar vir Heyneke Meyer se Springbokk­e toe hulle in 2015 deur Japan van alle spanne in Brighton met 34-32 die knie moes buig. Sover was daar nog nie aardskudde­nde verrassing­s by vanjaar se toernooi om die Webb Ellistrofe­e nie behalwe natuurlik Engeland se oorwinning met 27-10 teen die Argentyne.

Die Rose het vir 77 minute net met 14 spelers gespeel ná Tom Curry in die derde minuut gerooikaar­t is. Die Engelse losskakel, George Ford, het Los Pumas egter ge-Jannie de Beer met drie skep- en ses strafskopp­e. De Beer het die einste Rose in 1999 in die kwarteindr­onde met vyf skepskoppe uit dié toernooi geboender.

Dit bring Dwarslat terug na moontlike verrassing­s by vanjaar se toernooi. Dit gaan dalk klink na 'n wilde stelling, maar Dwarslat sal glad nie verbaas wees as Italië die All Blacks oor twee weke in Lyon verras nie. Neem ook in ag dat die All Blacks agt van sy laaste 21 toetse - Ierland (3), SuidAfrika (2), Frankryk (2) en Argentinië (1) - verloor het en ook teen Engeland gelykop gespeel het. Hulle is reg om gepluk te word.

Met 'n regtervleu­el aan die linkerkant, 'n heelagter op regtervleu­el, 'n losskakel op heelagter en drie nommer-6 flanke as 'n lostrio die afgelope Vrydagaand teen die Franse nogals, lyk dinge half deurmekaar by die Kiwi's. Die samespel lyk ook verdag terwyl die skrums net nie meer daai oemf het nie. Om dit alles teen Namibië te probeer regskaaf - geen disrespek teen die Woestynman­ne nie - voor die stryd teen Italië, kan perdalks 'n stappie te ver wees.

Dis nog vroeg in die toernooi, maar hier sal indringend na die toepassing van die rooikaart-stelsel gekyk moet word. Daar is net te veel grys gebiede.

Ander sport

Kort na Brad Binder homself in die San Marino Moto GP uit 'n moontlike podiumposi­sie geval het, het Novak Djokovic van Serwië sy aanspraak om as die GOAT (Greatest of All Time) op die tennisbaan bestempel te word, verstewig. Ná die Amerikaans­e tiener Coco Gauff die vorige aand in New York by Flushing Meadows haar tienerheld­e, die susters Williams, Venus en Serena, se prestasie nagedoen en haar eerste Amerikaans­e Ope titel verower het, het Djoko sy vierde VSA

Ope en 24ste Grand Slam enkelspelt­itel gebuit.

Op 36-jarige ouderdom is hy nou die oudste wenner van dié titel en hy is besig om die gaping tussen hom en Roger Federer en Rafael Nadal stadig maar seker te vergroot. Federer van Switseland het na 20 enkelspelt­itels uitgetree en Nadal van Spanje met 22 titels, gaan gebuk onder aanhoudend­e beserings terwyl die Serwiër nog goed genoeg lyk om vir minstens nog 'n paar Grand Slam toernooie sy raket die praatwerk te laat doen.

Hy sal verseker in 2024 die drie Grand Slam titels, wat hy vanjaar verower het, die Australies­e, Franse en Amerikaans­e Opes, verdedig. Daaroor is geen twyfel nie. Djokovic het net by Wimbledon gestruikel toe hy in die eindstryd in vyf stelle deur die 20-jarige Carlos Alcaraz van Spanje tot oorgawe gedwing is.

Djokovic en die Australies­e vrou Margaret Court is nou die gesamentli­ke houers van Grand Slam enkelspelt­itels. Court het as amateur in 1960 haar eerste Grand Slam titel in Australië verower en dit nog twaalf keer gedoen voor die ope era in 1968 aangebreek het. Daarna het sy nog 11 enkelspelt­itels bygevoeg.

Met Djokovic, wat in alle waarskynli­kheid by Court sal verbyskuif met betrekking tot enkelspelt­itels, sal Court, wat 'n prediker is, se algehele Grand Slam totaal van 64 titels nie in Dwarslat se tyd verbeter word nie. Sy het ook 19 dubbelspel- en 21 gemengde dubbelspel­titels verower.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa