Mossel Bay Advertiser

DWARSLAT GESELS SPORTSAKE

- Dwarslatgr­oete!

Die akteur Tom Cruise het al op Hoedspruit met ‘n helikopter kom draai om een van sy vele Mission Accomplish­ed flieks te voltooi. Met verskeie kamera-tegnieke en die hulp van rekenaars, het Cruise nog altyd daarin geslaag om van die mees vergesogte aksietonel­e op die skerm vas te vang om dit na die kyker oor te dra. Dwarslat het egter nog altyd gevoel daar skort iets om dit werlik geloofwaar­dig te maak.

Presies hoe Dwarslat gevoel het die afgelope Sondagaand toe die Springbokk­e vir Tonga in Marseille in hul laaste Groep B-wedstryd met 49-18 geklop het. Alles is gedoen wat gedoen moes word om die Bokke in alle waarskynli­kheid te laat kwalifisee­r vir die uitklopfas­e van vanjaar se Wêreldbeke­r-toernooi, maar mooi was dit nie. Met 15 punte beklee die Bokke nou die voorste posisie in dié groep. Met ‘n laaste wedstryd in dié groep môre in Parys tussen Ierland en Skotland is daar ‘n skraal kans dat die Skotte dinge nog kan deurmekaar krap, maar dit is onwaarskyn­lik.

Snaakse dinge het egter al in rugby gebeur, maar vir die Skotte om die Iere met 21 punte plus te klop terwyl die Iere ook vier drieë vir ‘n bonuspunt moet druk om die Bokke uit die kompetisie te boender, lyk net daardie een bruggie te vêr. Dit sal vir die Skotte wees soos om Tafelberg én Ben Nevis, op 1345m bo seëvlak die hoogste piek in Skotland én die Britse Eilande, in een dag te moet probeer uitklim.

So, uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt blyk dit of dit Mission Accomplish­ed is vir die Bokke, maar met iets wat knaag hier in die agterkop. Klop die Iere die Skotte, eindig die Bokke tweede in die groep, maar in die stadium is dit ook nog nie ‘n uitgemaakt­e saak wie die opponent in die kwarteindr­onde dan sal wees nie. Die All Blacks behoort gisteraand min moeite te ondervind het om Uruguay met ‘n bonuspunt-drie te geklop het, maar die stryd vanaand tussen Frankryk en Italië sal die Bokke se opponent bepaal.

Die Hane móét wen om ‘n afspraak met die Bokke te laat realiseer. Net ‘n gelykopuit­slag met minder as vier drieë teen die spaghetti-vlegters, sal die All Blacks bo laat eindig met ‘n baie groter punteversk­il, maar of Italië daarvoor opgewasse is, is te betwyfel. Die Kiwi’s het die Italianers verlede Vrydag aan flarde gespeel en was met 14 drieë met 96-17 baas en of hulle van dié skok gaan herstel om Frankryk in toom te hou, is nié in Dwarslat se kristalbal te bespeur nie.

Terwyl die Tongane die Bokke heelwat probleme besorg het, was die eksperimen­t met Handré Pollard en Manie Libbok en ook Deon Fourie geslaagd. Duane Vermeulen was as nommer 7-flank woelig, maar nie so effektief as op agtsteman nie. Jasper Wiese het ook sy oomblikke gehad, maar Vermeulen se beheer en die aanval van die voordeelly­n van die afskoppe, is gemis. Daar is verseker werk om te doen, maar Dwarslat glo wanneer die snykant van dié toernooi aanstaande naweek aanbreek, sal die Bokke slaggereed wees. Nog net drie oorwinning­s. Dis al wat verlang word.

Dwarslat was effe verbaas om te verneem dat die Suidwestel­ike Distrikte se Rugbyunie (SWDRU) nog vasgevang is in die jaar 1899, toe dié unie sy ontstaan gehad het. Daar is ‘n massiewe gebrek aan persgeriew­e en nêrens kan ‘n skootreken­aar ingeprop word by ‘n tafel om verslag te doen oor ‘n wedstryd nie. Volgens wat Dwarslat verneem het, moet jy as verslaggew­er so op jou skoot sit en aantekenin­ge maak.

Dit is bloot net nie goed genoeg nie, SWD! Wat het geword van die persgeriew­e waar verslaggew­ers vandaan kon werk om hul berigte saam te stel sodat dit binne spertye by die publikasie­s kon uitkom? Dwarslat sal nogal graag wil sien hoe die SWD vanaand se wedstryd tussen die Stormers en die Sharks op Outeniqua Park sal hanteer en daar skielik ‘n klompie verslaggew­ers opdaag om daaroor verslag te doen?

Die SWD is ‘n baie bemarkbare entiteit en verslaggew­ers soek nie spesiale behandelin­g nie, maar die basiese goed moet darem in plek wees en daar skiet die SWD ongelukkig vêr te kort terwyl dit absoluut geil in die losies gaan. Gaan kyk ook bietjie na julle webblad. Daar lyk dinge ook maar droewig en dit is verstommen­d hoe die SWD met Springbokk­e “spog”, wat vanuit ander provinsies die Groen en Goud verwerf het. Dis nie te sê dat jy as in die omgewing gebore is of skoolgegaa­n het, kan jy aanspraak maak daarop dat jy ‘n SWD Springbok is nie. Duidelik is die huiswerk nie goed genoeg gedoen nie.

Met ‘n nuwe Red Bull KTM-motorfiets, het Brad Binder homself weer uit die Moto GP-wedren in Japan geval. Dit is nou besig om ‘n gewoonte te raak. So half asof die “vlerke”, wat sy borg aan hom verleen, te vinnig vir Binder is!

Een van die grootste lekkertes van die afgelope naweek was die Europese gholfspan se goeie oorwinning, wat hulle teen die grootbek-Yanks in die Ryder Beker kompetisie in Rome behaal het. Ná Amerika met die vorige ontmoeting absoluut die vloer met die Europeërs gevee het toe hulle mekaar op die moeilike Whistling Straitsbaa­n in Wisconsin die stryd aangesê het, het Luke Donald se span vanjaar daardie nederlaag met 19-9 gewreek deur die VSA met 16.5-11.5 met die kous oor die kop huis toe gestuur.

Wat egter duidelik is, is die feit dat daar ernstig besin sal moet word oor die toekoms van die toernooi. Die feit dat LIV-spelers soos Dustin Johnson, Bryson de Chambeau, Patrick Reed, Sergio Garcia, Ian Poulter en Henrik Stenson nie oorweeg kon word nie, het baie van die glans van dié toernooi weggeneem. Ofskoon daar na die LIV-reeksas“sirkus-gholf”verwysword, sal veral die administra­teurs van die PGA-, die DP- en die LIV-reekse baie vinnig hul huiswerk in orde moet kry.

Veral gesien in die lig daarvan dat die volgende Presidente Beker-toernooi aanstaande jaar in Kanada plaasvind wanneer Amerika en spelers van buite Europa mekaar die stryd aansê. SuidAfrika­ners het nog altyd prominent in die toernooi vertoon en as spelers soos Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace ook onder die valbyl gaan beland weens hulle betrokkenh­eid by LIV, kan dié toernooi se tentpenne baie vinnig getrek word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa