Mossel Bay Advertiser

Arende lak Stormers blou

- Colin Hoffmann

In 'n voorseisoe­nse opwarmings­wedstryd het die rugbyspan van die Phangela Suidwestel­ike Distrikte (SWD) Arende met 64-26 verlede Vrydagaand op Outeniqua Park teen die DHL Stormers streepsuik­er gekry, maar die besoekers het gewéét hulle was betrokke in 'n oorlog in die kleine. Die Arende se fisieke spel het 'n volgepakte stadion kort-kort na sy asem laat snak soos daar onder die meer gerekende Stormers ingeklim is.

Die oorwegend Stormers-vlae veral op die hoofpavilj­oen, het hoe later hoe laer begin swaai soos die Arende die opposisie bekstil geduik het.

Selfs John Dobson, afrigter van die Stormers, was vol lof vir die tuisspan se inklimspel. "Moenie dat die telling jou flous nie. My spelers wéét hulle was in 'n baie fisieke stryd betrokke en daar gaan 'n paar seer lywe môreoggend hulself uit hul beddens sleep. Dit voorspel goed vir die Arende se seisoen wat voorlê en ek dink ons kan volgende Vrydagmidd­ag (vanmiddag) meer van dieselfde verwag wanneer ons met 'n Westelike Provinsie (WP) XV-tal weer teen die Arende te staan kom," het Dobson gesê.

Dié wedstryd waarna Dobson verwys, dien as voorwedstr­yd voor 'n opwarmings­wedstryd tussen die Stormers en die Sharks om 18:30 óók op Outeniqua Park afskop. Die vyftiental­le van die WP en die Arende se wedstryd begin om 16:00.

Alles gegee

Anton Moolman, afrigter van die Arende, was self in sy skik met die manier waarop sy troepe onder die Stormers ingeklim het. "Alles wat ek gevra het, het hulle gegee en ek is werklik in my skik met hoe ons gespeel het. Die telling is bysaak. Waaroor dit vir my gegaan het, was dit wat tussen die vier lyne gebeur het en daar het hulle alles gegee. Die feit dat ons basies net drie dae se voorbereid­ing kon inpas vóór dié wedstryd, maak dit nog meer spesiaal," het Moolman gesê.

Die Moolman-troepe se seisoen begin basies eers op 1 November, wanneer meeste van die spelers se kontrakte dan eers inskop. Hyself het eers verlede Maandag uit Frankryk teruggekee­r waar hy die skitterend­e toets in Groep B van die Wêreldbeke­r-toernooi in Parys tussen Suid-Afrika en Ierland bygewoon het. Voor Moolman die pos as hoofafrigt­er van die Arende verlede jaar aanvaar het, het hy ook vir bykans drie jaar in Frankryk afgerig waar hy ook die direkteur van jeugontwik­keling by die Aúvergne-Rhone-Alpes-klub was.

Voor dit het Moolman en Dobson ook vir ses jaar nou saam gewerk toe die Arendebrei­er die direkteur van die WP Akademie was.

Sy betrokkenh­eid en visie met die ontwikkeli­ng van veral die jonger garde spelers, het ook daartoe aanleiding gegee dat Moolman een van die SWD-helde teen die Stormers, die nommer 4-slot Ethan Stuurman, van 'n strand op Plettenber­gbaai oorgehaal het om rugby sy toekoms te maak.

"Ek het dié outjie verlede jaar opgemerk terwyl hy as lewensredd­er sy werk op die strand gedoen het. Hy het 'n teenwoordi­gheid gehad en ek moes net met hom praat. Ná ons 'n paar woorde gewissel het, het ek geweet ek moes hom oorhaal om vir die Arende te kom speel. Ek het met sy ouers gaan praat en ná ons dinge uitgestryk het, het hy by ons ingeval en ek is daarvan oortuig hy gaan in die Suid-Afrikaanse weergawe van die Aussie Will Skelton ontwikkel. Ek is baie opgewonde oor dit wat vir hom voorlê," het Moolman gesê.

Stuurman, wat op 22-jarige ouderdom 2.01 meter in sy sokkies staan en die skaal op 140kg raaktrap, het inderdaad teen die Stormers 'n skitterend­e vertoning gelewer. Dit was egter sy vreeslose verdedigin­g, wat die oog die meeste getref het. En daarvan sou 'n hele klompie van die Stormers kon getuig. Diegene wat die yster-slot Bakkies Botha kan onthou, kan maar 'n kantaantek­ening maak van dié jongeling.

Selfs Dobson het hom uitgesonde­r en dit kan natuurlik in die toekoms tot Moolman se nadeel strek. Dobson het 'n besondere insig tot die spel en dit sal niemand verbaas as Stuurman nie te ver in die toekoms sy oproep-instruksie­s kry om hom by die Stormers aan te sluit nie!

Puntemaker­s

Stormers 64 (38): Drieë: Mnombo Zwelendaba, Jurie Matthee, Stefan Ungerer, Clayton Blommetjie­s, Gary Porter, Scarra Ntubeni, Juan de Jongh, Cortnall Skosan, JJ Kotzé, Lizo Gqoboka. Doelskoppe: Matthee (7).

Arende 26 (14): Drieë: Steph Leonard, Josh Vermeulen, Lukman Yaya, Burton Booysen. Doelskoppe: Vermeulen (3).

 ?? ?? Daar was voortduren­d ‘n fel stryd vir balbesit. Foto: Eugene Gunning
Daar was voortduren­d ‘n fel stryd vir balbesit. Foto: Eugene Gunning

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa