Hartbeeskuildam oorstroom sy walle
Die Hartbeeskuildam, wat uitloop in die Hartenbosrivier, het die afgelope naweek na die baie reën in sy opvangsgebied, sy walle oorstroom. Dié dam het grootliks in onbruik verval met die lewering van water omdat die dam so leeg was vir 'n geruime tydperk.
Volgens Wikipedia is die dam in 1969 in gebruik geneem, die wal is 27m hoog en het toe ‘n bakmaat van net minder as 7 miljoen m3 gehad. Tans is die maksimum volume volgens die Departement van Waterwese slegs 7 152 kubieke meter. Dit lê aan die voetheuwels van die Outeniquaberge, tussen die R327-pad na Herbertsdale en die R328pad via Brandwag en die Robinsonpas na Oudtshoorn, noord van PetroSA en by 34° 5 31 suid en 21° 59 56 oos.
Die water word nog in periodes van ernstige droogte vir nywerheidsgebruik aangewend. Vir menslike gebruik is dit te brak. Die dam is baie gewild by hengelaars en bergfietsryers gebruik die grondpaaie in die omgewing om hul sport te beoefen.
Die afgelope paar jaar was die dam baie leeg. Rekords toon dat in Junie 2017 was die dam net onder die 30% vol. 'n Maand later het die vlak tot net bokant 20% gedaal. 'n Jaar later in Junie 2018, was die vlak slegs 5,7%. Dié vlak is daarna taamlik gehandhaaf, maar het ook soms nóg verder tot 'n skamele 3% gedaal.
Op 5 Junie vanjaar was die dam terug op 5,7% vol en 'n week later, op 12 Junie en ná goeie reënneerslae, het die dam ná jare weer begin vol raak en was die lesing 33,01%.
Met die goeie winterreënval het die dam se vlak op 31 Julie op 94,43% gestaan en die afgelope naweek begin oorloop met die vlak
wat tot 102,6% gestyg het.
Mosselbaai en sy omliggende gebiede het weer goeie reënval gehad die afgelope naweek. Sommige inwoners het reënvalsyfers gedeel, en ander wat nie self gemeet het nie, mag dalk belangstel in die volgende syfers soos weergegee deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Vir die tydperk 5 tot 7 Oktober is die volgende neerslae gemeet. Op 5 Oktober was dit 34.6 mm, 6 Oktober 53.0 mm en op 7 Oktober was dit 65.6 mm.
Henry Meyer, streeksverteenwoordiger Agri-Weskaap, sê hulle kan nie sê die reën is te veel nie. "Ek het geleer om eerder te sê dat ons grond is te min vir die hoeveelheid reën wat hier geval het.
"Die hoeveelheid reën wat geval het, rig egter groot uitdagings aan verskeie sektore van die landbou," sê Meyer. Nat landerye, wat byvoorbeeld toegangsroetes belemmer, is van die grootste kopsere vir die plaaslike boere.
Van die uitdagings is:
Graan en groente
Vir graan en groenteboere in die omgewing is toegang tot landerye een van die grootste uitdagings.
Aartappelboere kon nie plant nie en die wat wel geplant het, sit sommige met aartappels wat onder die grond begin vrot het.
Plantsiektes begin ook kop uitsteek met die vogtige klimaat.
Koring is nog veilig met oestyd eers later die jaar.
Boere wat gars produseer vanaf PetroSA tot by die Heidelberg omgewing, sukkel met garspitte wat bars nadat dit gedroog is. Nóg nat weer het sake verder belemmer.
Vleis en Melk
Kudde grootes vertrap die nat weiveld met duur insetkostes.
Vrotpootjie begin ook nou voorkom onder die beeste.
Met die wisseling in warm en koue dae het haarwurm begin uitbreek by skape.
Skape is te nat met die skeerseisoen in aanvang.
Vir die vleis- en melkbedryf is swamsiektes, soos roes wat gewoonlik in graan voorkom, ook nou in die weiding aanwesig.
Paaie
Een van die groot probleme waarmee boere sit is die vervoer van hulle produkte op landelike paaie.
Boere in die Tuinroete-omgewing het Vrydagmiddag, 30 Junie, in Reebok met die Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, en van sy departementshoofde vergader om die swak toestand van grondpaaie en die gebrek aan instandhouding van infrastruktuur in landelike gebiede, te bespreek.
Volgens Meyer is die paaie ná die vergadering herstel, maar alles is weer besig om agteruit te gaan met swak onderhoudswerk terwyl probleme ook nie identifiseer word nie.
Volgens Meyer is daar reeds weer met die provinsiale departement in verbinding getree.