Mossel Bay Advertiser

Aanlyn aankoop van Springbok-truie – pasop

- Prof Rossouw von Solms, Klein-Brakrivier:

Die hele land is tans vasgevang in die gees van die Wêreldbeke­r-rugbytoern­ooi. Die meeste van ons wys ons lojaliteit en ondersteun­ing vir die Springbokk­e deur gereeld Groen en Goud te dra. Veral op Vrydae en die dae waarop die Bokke in aksie is, sal jy mense in Springbok-truie getooi sien.

Onlangs het ek ook probeer om ‘n Springbok-trui te koop, maar vinnig besef dat dié truie so skaars soos die spreekwoor­delike hoendertan­de is. Die winkels wat dit gewoonlik verkoop, meld dat dit lankal uitverkoop is en dat hulle dalk nie weer voorraad sal inkry voor die toernooi verby is nie.

Ek merk toe ook op dat al meer ‘maatskappy­e’ begin om Springbok-truie aanlyn te adverteer op Facebook en van die ander sosiale media. Die meeste van die aanbieding­s lyk baie aanloklik, soos byvoorbeel­d; ‘50% afslag’, ‘twee vir die prys van een’, ‘gratis aflewering’, ens.

Ek begin toe ‘n bestelling voltooi op een van hierdie aanlyn aanbieding­s, maar gou kom ek agter dat die betaalstel­sel afwyk van die normale en erkende derdeparty metodes van betaal en stop toe die bestelling net daar. Na verdere ondersoek kom ek agter dat vele van hierdie aanlyn-aanbieding­s absolute kuberslent­ers is.

Vele van die advertensi­es het spelfoute, óf gebruik die advertensi­emateriaal van ander erkende winkels. Van die betaalstel­sels maak ook nie gebruik van erkende derdeparty betaalstel­sels, wat die norm is nie. Dus, dié valse slentermaa­tskappye ontvang jou kredietkaa­rt besonderhe­de en wie weet waarvoor gebruik hulle dit daarna.

Normaalweg wanneer jy aanlyn betaal gaan jou kredietkaa­rt besonderhe­de na ‘n betroubare derdeparty, wat dié inligting vertroulik hanteer.

Na verdere ondersoek vind ek toe vele klagtes word op sosiale media uitgespree­k dat hulle nooit hul bestelling­s ontvang het nie, dat geen telefoon navrae beantwoord word nie, ens.

SA Rugby het ook kennis geneem van die slenters en ‘n verklaring uitgereik.

Hulle noem dat vele aanlyn winkels skielik adverteer dat hulle ‘official’ Springbokh­andelsware verkoop, maar dit is in werklikhei­d vals. Volgens SA Rugby is slegs die volgende amptelike verspreidi­ngspunte vir ware Springbok-handelswar­e, Ek haal aan van hul webwerf (www.springboks. rugby): “www.sarugbysho­p.co.za, on the digital platforms of well-known retailers such as Sportsmans Warehouse, Totalsport­s and Studio88, and establishe­d online retailers such as www.superbalis­t.com”.

So, wees gewaarsku, daardie Springbokt­rui wat bestel word by ‘n ongemagtig­de, of vals webwerf, mag dalk nooit opdaag nie en die geld wat jy daarvoor betaal sal jy ook nie sommer weer terugkry nie.

Koop maar liefs by die geakkredit­eerde winkels of die aanlyn winkels soos deur SA Rugby genoem. Maar, dit geld natuurlik vir enige aanlyn aankope. Maak altyd seker van die wettigheid van die maatskappy deur te Google en te kyk watter kommentare word gegee omtrent die diens en kwaliteit van die betrokke maatskappy.

Mag die Bokke wen, of ek nou ‘n Springbok-trui aan het of nie!

* Prof Rossouw von Solms is ‘n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kuberseker­heid aan die Nelson Mandela Universite­it.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa