Mossel Bay Advertiser

REGSTREEKS

- Met Louise Karsten Praat oor verkragtin­g

Wanneer jy die dag dood gaan en in jou leeftyd nié aan ‘n seksuele misdryf blootgeste­l was nie, kan jy jouself gelukkig ag. Meer as 40% van Suid-Afrikaanse vroue sal ná raming in hul leeftyd verkrag word.

Erger egter is dat kinders toenemend meer slagoffers raak waar pedagoë betrokke is. Die Mosselbaai-gemeenskap is onlangs weer geruk ná nóg so 'n geval aan die lig gekom het. Dit was ook nie die eerste keer nie.

Skokkend is dat slegs een in nege verkragtin­gs aangemeld word.

Weens die aard van my beroep verstaan ek hoekom. Slagoffers van seksuele misdrywe sit nie net met die trauma van die misdryf nie, maar ook met die stigma, wat dikwels daaraan gekoppel word. Benewens die emosionele letsels, is die hofproses ‘n uitgerekte een. Veral wanneer ‘n verdagte onskuldig pleit en die saak op verhoor gaan.

Maande se hofverrigt­inge lê voor en alle partye se weergawes word voor die hof gelewer. Wonde wat rou is, word verder en dieper oopgekrap. Indien jy hofverrigt­inge van so 'n aard al bygewoon het, sal jy weet dit is nie ‘n uitstappie na die fliek toe nie. Slagoffers van geslagsgew­eld, wat die moed het om 'n saak by die polisie aanhangig te maak, is helde.

Geregtighe­id

Dit is egter belangrik om te onthou dat die onderwyser in die jongste geval nog nie op die aanklagte teen hom gepleit het nie. Hy is ook nog nie skuldig bevind nie. Die reg moet dus nog sy gang gaan.

Ons as ‘n gemeenskap moet egter nou meer as ooit ‘n voorbeeld vir ons kinders wees. Vertroue is op elke moontlike vlak geskend. In 'n huisgesin, by 'n skool, in 'n klaskamer. Die rimpeleffe­k is soos 'n groot brander wat breek en nooit die strand bereik nie.

Ouers moet met kinders praat oor verkragtin­g. Ons moet praat oor privaathei­d en oor wat seksuele gereedmaki­ng is sodat ons kinders dit kan verstaan en moet weet wat dit behels.

Geen graad 7-leerder is seksueel gereed nie. Op daardie ouderdom ontwikkel ‘n kind nog. Vandaar die aanklag: seksuele gereedmaki­ng.

Dit is ‘n proses. Ons moet ingestel wees op ons kinders en weet wat in hulle lewens aangaan. Die gesprek behoort verder terug as dit al te begin.

Ons moet met ons kinders praat oor hul sesde sintuig. Oor gut feelings. Ons moet hulle leer dat wanneer iets nie reg voel nie, dit gewoonlik nie reg is nie.

Ek het te laat in my lewe van die boek, The Gift of Fear, Survival Signals That Protect Us From Violence gehoor. Wanneer jy daarop ingestel is, kan jy leer om subtiele tekens van gevaar raak te sien. 'n Kind kan leer om sy of haar intuïsie te vertrou. Dit kan 'n toekoms en 'n lewe red.

Gavin de Becker skryf dat dit ‘n mite is dat meeste geweldadig­e dade onvoorspel­baar is. Hy skryf dat daar spesifieke maniere is om jouself, en die wie jy liefhet te beskerm, en wanneer jy bang moet wees vir iemand wat jy vertrou.

Leer jou kind om maats te maak met sy of haar intuïsie. Daar is verskeie boodskappe­rs soos angs, vrees, onsekerhei­d, agterdog of deurdringe­nde gedagtes.

Maar meer as enigiets moet ons as 'n gemeenskap 'n verkragtin­gskultuur beëindig.

Indien jy bewus is van 'n volwassene wat met 'n kind of tiener lol en niks daaroor sê nie en dit nie by die polisie aanmeld nie, is jy net so aandadig as die verkragter self. Stories soos dié laat 'n komplekse en onuitwisba­re letsel op ons jeug.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa