Mossel Bay Advertiser

DWARSLAT GESELS SPORTSAKE

- Dwarslatgr­oete!

Dwarslat is daarvan oortuig dat kerke se kollektebo­rdjies dwarsoor die land ná oormôre se oggenddien­ste boepensvol gaan staan soos kerkganger­s hulle “rekeninge” sal moet vereffen ná die afgelope Sondagaand se oë-toeknyp wedstryd tussen die Springbokk­e en die Franse Hane in Parys. Daar is baie tyd op die knieë deurgebrin­g en die engel Gabriël en sý trawante kon seker nie voorbly om inventaris te hou oor die al “beloftes” wat gemaak is as die Bokke net dié wedstryd in die kwarteindr­onde teen die gasheer kon deurtrek.

Dwarslat sal jok as hy sê dat hy nie ook hier en daar van daai onsigbare telefoonly­n gebruik gemaak het nie. Dwarslat het egter niks geld belowe nie, want daar is nie! Soveel drama en spanning sal selfs Stephen King tot die uiterste beproef om in sy spanningsv­erhale te probeer naboots.

Ná daar in die wedstryd die vorige aand tussen die All Blacks en die Iere reeds ‘n standaard gestel is wat moeilik oortref sou word, het die Bokke en die Franse dit tot ‘n nuwe vlak gevoer. Vir die Franse het dié wipwaentji­erit in lang trane geëindig met die Bokke, wat met ‘n enkele punt met 29-28, deurgeskra­ap het. Alle eer egter aan Frankryk, wat die Bokke met alles behalwe die regoppale en die ongeveer 80 000 sitplekke in die Stade de France tot oorgawe probeer dwing het.

Wou nie gaan lê

Bok se kind wou nie gaan lê nie en het enduit en dikwels desperaat vanuit die laaste loopgrawe geveg om sy aanspraak te behou om dié titel, wat hy in 2019 vir die derde keer verower het, vanjaar suksesvol te probeer verdedig. Môre pak die Bokke die Engelse Rose in die een halfeindst­ryd in ‘n herhaling van die eindstryd in 2019 terwyl die All Blacks en Argentinië mekaar vanaand in die ander wedstryd die stryd aansê.

Ofskoon die verwagting­e daar is dat die Bokke en die Kiwi’s hulle wedstryde sal wen vir ‘n droomeinds­tryd aanstaande Saterdag weer in dié Stade de France, moet dié twee spanne eers hul verpligtin­ge die naweek afhandel. Engeland het nog nie werklik oortuig in vanjaar se toernooi nie, maar twee dinge moet nie uit die oog verloor word nie.

Elke span by ‘n Wêreldbeke­r-toernooi sal in een of ander stadium die bykans perfekte wedstryd speel. Engeland het nog nie en die kans om wraak te neem teen die Bokke ná die liederlike loesing met 32-12 in die 2019-eindstryd, sal as ekstra motivering dien in môre se wedstryd teen die Bokke.

In ‘n aanlyn-onderhoud met Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby en saam met die afrigter, Jacques Nienaber die baasbreine agter dié Bok-span se vertonings tot dusver, was dit met ongeloof om te hoor dat daar geen beserings onder die spelers was ná dié soms brutale wedstryd teen die Hane. Die ergste waar SuidAfrika­ners onder beserings in Frankryk in dié uitklopwed­stryde deurgeloop het, was die kuitbeseri­ng wat die skeidsregt­er Jaco Pyper in die wedstryd tussen Wallis en Argentinië opgedoen het.

Pyper moes ná 15 minute die fluitjie aan die Engelsman Karl Dickson oorhandig om die wedstryd te voltooi en is weens dié besering ook nie oorweeg vir een van die twee halfeindst­ryde nie. Wat ‘n jammerte is omdat Pyper hom tot dusver baie goed van sy taak gekwyt en hy sou verseker oorweeg gewees het vir die wedstryd tussen die All Blacks en Los Pumas vanaand.

Ware heer

Die Franse kaptein, Antoine Dupont, het ná die nederlaag teen die Bokke skerp te velde getrek met die hantering van die wedstryd teen die Nieu-Seelandse skeidsregt­er Ben O’Keeffe, maar dit is te verstane. Die teleurstel­ling moes iets ysliks gewees het. Dit was ook Dupont se eerste nederlaag in 29 wedstryde as kaptein van die Franse in dié ikoniese stadion. Die Franse afrigter, Fabian Galthie, het egter soos ‘n ware heer opgetree en het gesê hy het geen probleem met O’Keeffe se hantering gehad nie.

Interessan­t is dat O’Keeffe môre weer speler nr. 31 sal wees in die stryd tussen die Bokke en die Rose terwyl Angus Gardner van Australië die fluitjie sal dra in vanaand se ander halfeindst­ryd. Dit sal die derde keer vanjaar wees dat die Nieu-Seelander ‘n wedstryd van die Bokke by dié toernooi hanteer. In totaal het O’Keeffe reeds die fluitjie 10 keer hanteer waar die Bokke betrokke was. Daarvan was die Bokke sewe keer aan die wenkant, twee is verloor en een was gelykop.

Bokdrol-spoeg

Net wanneer ‘n mens begin dink die

Suid-Afrikaanse mans se eendaagse krieketspa­n wil begin lyk of hy vir ‘n slag begin rigting kry by ‘n Wêreldbeke­r-toernooi ná betekenisv­olle seges teen Sri Lanka én Australië, dan kom maak die Proteas weer skande. Soos vroëer vandeeswee­k toe Nederland die Suid-Afrikaners met 38 lopies geklop het in Dharamsala aan die voet van die Himalayas in Indië, waar vanjaar se WBtoernooi beslis word.

Nederland het ons verlede jaar met 13 lopies verhoed om aan die T20 Wêreldbeke­rtoernooi deel te neem. Die klomp Dutchies, weliswaar met ‘n paar verloopte SuidAfrika­ners in dié span wat soos ‘n Van der Merwe-grap soos ‘n seer vinger uitstaan, is mos meer bekend as sokkerspel­ers en fietsryers, maar krieket?

Dwarslat kan nie meer opgewonde raak oor ons krieketspa­n by Wêreldbeke­r-toernooie nie. As daar ‘n kanaal op televisie is waar dambord of selfs dominoes gewys word, klink dit na ‘n beter opsie om te volg as om jouself te martel om na dié krieketspa­n van Temba Bavuma te sit en kyk. Selfs bokdrolspo­eg klink meer opwindend.

Môre is Bavuma se span in ‘n volgende wedstryd in aksie in die groepfase teen die Engelse. As verdedigen­de kampioen het dinge ook maar sleg begin vir die hanskakies, maar Dwarslat het besluit as dié een ook verloor word, is hy klaar met pajamakrie­ket. So kan ‘n mens nie aanhoudend houe vat nie. Hopenlik sal die Bokke, ook teen die Engelse, Dwarslat darem laataand ‘n heildronk laat skink.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa