Mossel Bay Advertiser

Dr Marais trap diep spore in gemeenskap

- Linzetta Calitz

Dr Riaan Marais (52), 'n man met 'n absolute passie vir sy beroep, was nie net 'n held vir sy pasiënte nie, maar ook tuis vir sy drie kinders.

Sedert sy skielike afsterwe weens 'n hartaanval op Saterdag, 21 Oktober, spreek huldeblyk op huldeblyk boekdele van sy toewyding tot sy pasiënte. Hy was vir 17 jaar lank 'n internis by Life Bay Viewprivaa­thospitaal.

Marais het 'n groot liefde vir tuinmaak, tropiese visse (iets wat kenmerkend was aan sy spreekkame­r) en reis gehad.

Hy het juis pas teruggekee­r van 'n toer na Italië toe sy dood die gemeenskap ruk. Hy was in 'n BBP sitkamer (VIP lounge) op O.R. Tambolugha­we, op pad terug huis toe, toe hy die hartaanval gekry het. Paramedici was teenwoordi­g, maar Marais kon nie betyds by 'n hospitaal gekry word nie. Nie hy of sy familie was bewus daarvan dat hy 'n harttoesta­nd gehad het nie.

Marais se vrou, Nina, sê hy was 'n wonderlike man vir haar en pa vir hulle kinders.

"Hy was 'n dinamiese persoon, wat geglo het jy moet die lewe ten volle geniet en elke geleenthei­d benut wat na jou kant toe kom," sê sy.

Sy vertel 'n goeie vriend van hom het dikwels gesê, "Party mense bestaan net, Riaan lééf!"

Nina sê 'n tyd by die hospitaal wat veral uitgestaan het was gedurende COVID. "Hy was 'n ysterman in COVID. Sy tyd as dokter tydens dié tyd was uitdagend, maar hy het gevoel dis sy roeping om mense by te staan met dié siekte."

Iets waarvoor sy dankbaar is, is die uitstekend­e personeel waarmee hy geseën was by die hospitaal. Hy het ook goed met verpleeg- en administra­tiewe personeel saamgewerk, asook sy kollegas. Een van sy kollegas by die hospitaal, dr Ben Chris Alberts, sê Marais sal onbeskryfl­ik baie gemis word. "Hy het die afgelope 17 jaar ongeloofli­ke diep spore in die gemeenskap van Mosselbaai getrap. Sy aanhangers en pasiënte was nie net van die dorp nie, maar het die hele Suid-Kaap, KleinKaroo en Groot-Karoo betrek!

"Riaan was iemand wat nie doekies omgedraai het nie. Hy was op-die-man-af reguit met sy pasiënte, hardwerken­d en toegewyd. Die hospitaal was sy tweede huis en die personeel sy ander familie. Sy afwesighei­d in die gange en die sale los 'n stilte agter wat die gebrokenhe­id van ons harte weerspieël.

"Ons as kollegas sal hom mis - hy was altyd beskikbaar vir advies of hulp en bereid om te kom uithelp in nood!"

Hospitaalb­estuurder, Nevil Vlok, sê hulle sal sy onwrikbare toewyding en diens aan pasiënte, die hospitaal en personeel, en die hele gemeenskap mis.

"Ons gedagtes en gebede is met elkeen wie se lewe hy geraak het. Ons stuur ons liefde en medelye aan sy vrou, kinders, familie en vriende gedurende hierdie tyd."

Nina het laastens haar man se sin vir humor benadruk, iets wat sy kinders veral baie geniet het.

Hy laat sy vrou, en hulle drie kinders, Ingrid, Emile en Marcel agter.

 ?? ?? Dr Riaan Marais
Dr Riaan Marais

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa