DWARSLAT GESELS SPORTSAKE
Dwarslat oorweeg dit sterk om van vandag die vyfdaagse Otterwandelpad in die Tsitsikamma Park aan te durf. Dwarslat is nie 'n wafferse stapper nie, maar die senuwees is rou. Kalmte is vir 'n slag weer nodig. Op 'n plek waar geen selfoonontvangs of 'n televisiestel in sig is nie.
Die Wêreldbeker-rugbytoernooi loop môre in die Stade de France in Parys ten einde wanneer die Springbokke en die All Blacks mekaar in die eindstryd pak. Dis veronderstel om die droomeindstryd van dié ongelooflike toernooi te wees, maar Dwarslat gaan dit nie maak nie. Dié stress is te veel!
Met twee naelskraapse oorwinnings elke keer met 'n enkele punt teen Frankryk én Engeland in die kwart- én halfeindrondes onderskeidelik in vanjaar se strewe om die Webb Ellis-trofee te behou, is Dwarslat se gesondheid met dié toernooi 'n ernstige knou toegedien. Die bloeddruk is al lánkál by die IK verby en die asmapompie se gebruik word baie meer gereeld ingespan as toe COVID so half-en-half 'n houvas op 'n mens se lewe wou kry. Só kan dit nie aangaan nie!
Geskiedenis kan egter herskryf word wanneer dié twee bulspanne mekaar die stryd aansê. Vir die wenner sal dit 'n vierde wêreldtitel beteken. Wen die Bokke is dit 'n tweede een agtereenvolgens ná hulle die Engelse in Yokohama, Japan, met 32-12 in 2019 geklap het. Dit sal die All Blacks se agtereenvolgende oorwinnings in 2011 en 2015 ewenaar.
Drie titels elk
Vir die All Blacks is dit 'n vyfde eindstryd terwyl die Bokke in hul vierde eindstryd opdraf. Met drie titels elk, staan die vertoningslys in dié finale fase van die toernooi op 100% vir die Suid-Afrikaners terwyl die Kiwi's s'n op 75% staan ná hulle in 1995 in hul tweede eindstryd juis teen die Bokke op Ellispark verloor het.
Dit was die eerste keer dat die Bokke in dié toernooi in aksie was omdat hulle nog weens Apartheid in 1987 en 1991 nie mag deelgeneem het nie. Interessant van môre se wedstryd egter is dat dit die Bokke se tweede eindstryd in die Stade de France is ná John Smit se span Engeland in 2007 met 15-6 geklop het. Dis Nieu-Seeland se eerste poging in dié ikoniese stadion in 'n eindstryd en ná die verloor-openingswedstryd vanjaar juis teen Frankryk, iets om aan te herkou.
Die ondersteuning vanuit die paviljoen gaan en sal 'n beduidende rol speel en dit kan 'n tweesnydende swaard wees. Die passievolle Franse kan perdalks teen die Bokke draai omdat hulle geliefde Hane juis deur die Bokke uitgeskakel is, maar hul liefde vir die All Blacks is ook nie allesoorheersend nie. Boonop hou die Franse ondersteuners daarvan om die underdog te steun. Dink maar net aan die Franse Ope tennistoernooi wanneer die besigheidkant van dié toernooi ter sprake kom.
Die Bokke het egter 'n taamlike dwarsklap gekry toe selfs Napoleon se nasate die Engelse ondersteun het. Dit word min gesien, maar dit sal nie lank hou nie. Die Bokke kan dalk vanuit dié oord 'n bietjie meer ondersteuning kry as wat hulle verwag. Die Bokke sal verseker nie as gunsteling opdraf nie. Nie ná die vertoning teen die Engelse nie. Daaroor gaan Dwarslat geen verdere woord rep nie. Die trane het vlak gelê omdat die span so onbeholpe was, maar so van die ox op die jas, dit was deurgedruk!
Behalwe vir die algehele titel, is daar watertand-tweestryde, wat in kombinasies in die vooruitsig gestel word. Daag die Bokke op, sal die wedywering in die voorrye, die slotte, tussen die lostrio's en veral die agterste driehoek spesiaal wees. Damian de Allende en Jesse Kriel teen Jordie Barrett en Ricko Ioane in die middelveld gaan net so interessant wees terwyl die skakelpare mekaar verseker tot die uiterste sal beproef.
Cheslin Kolbe gaan die taak hê om Will Jordan in toom te hou. Jordan is op die drumpel daarvan om Jonah Lomu en Bryan Habana se gesamentlike rekord van agt drieë in 'n WB-toernooi te verbeter. Net een drie en dis Jordan se rekord.
Spesiale eindstryd
Hierdie gaan 'n spesiale eindstryd wees tussen die wêreld se twee voorste spanne en wat tradisie betref die felste waaraan jy kan dink. Vir 'n negende uit tien Wêreldbekereindstryde, sal dit weer eens 'n span uit die Suidelike Halfrond wees, wat met dié titel sal wegdraf. 90% klink so half-en-half na 'n A+ as dit 'n matriekvak is!
Dwarslat moet bieg. Die Kaaskoppe se oorwinning teen die Protea-mans se eendaagse krieketspan net ná die Franse ons so laat sweet het op die rugbyveld, het seker baie met die algehele gemoedstoestand te doen gehad. En natuurlik die Proteas se vorige vertonings by die Wêreldbekertoernooie, maar dié span is besig om van krag tot krag te gaan. Ná Bangladesh ook vroeër vandeesweek 'n ordentlike oorveeg gekry het, is dié span besig om rekords daar te stel, wat moeilik nagedoen sal word.
Die bal moet net nie nou laat val word nie. Quinton de Kock se 174 lopies vroeër vandeesweek, is in dié stadium die hoogste telling in die toernooi. Ná vyf wedstryde is De Kock met algeheel 407 lopies 53 lopies voor Virat Kholi van Indië, wat sy 49ste honderdtal najaag om sy landgenoot Sachin Tendulkar se rekord te ewenaar. SuidAfrika is ook loshande voor wat individuele honderdtalle betref. Met ses honderdtalle (waarvan De Kock drie aangeteken het) staan Nieu-Seeland en Indië saam in die tweede plek met drie elk.
Sy Majesteit
Tekenend van die Suid-Afrikaners se kolfkrag is dat die Proteas die drie hoogste spantellings tot dusver aangeteken het. Teen Sri Lanka was dit 428/5 (SA wen met 102 lopies), teen die Aussies het die Proteas 311/7 aangeteken en met 'n goeie 134 lopies gewen. Toe ons egter teen Nederland lopies moes jaag weens 'n verkorte kolfbeurt omdat reën 'n rol in Dharamshala gespeel het, het die Proteas hul ondersteuners weer in hulle Post Toasties laat stik en verloor met 38 lopies. Teen Nederland, rêrig!
Die beste was egter toe die verdedigende kampioen, Engeland, verlede Saterdag met 229 lopies geklop is. Die Proteas se 399/7 was net te veel vir Sy Majesteit se span en die Engelse span lyk soos in uitgeknikker soos Faf du Plessis se span by die vorige toernooi. Dwarslat wens net dat die Springbokke dieselfde bloudruk teen die Rose kon nadoen 'n paar uur later. Dan was die EKG nie nodig nie!
Interessante feit. Suid-Afrika én NieuSeeland is beide in gunstige posisies om as Wêreldkampioen in rugby én eendaagse krieket in dieselfde jaar gekroon te word. Die enigste span wat dit nog kon regkry was Australië toe dit in 1999 vermag is. In 2003 het die Aussies dit byna weer reggekry, maar 'n Jonny Wilkinson skepskop in die laaste minuut het 'n stokkie daarvoor gesteek.