DWARSLAT GESELS SPORTSAKE
Dwarslat weet nie meer hoe 'n mens dit het met die Proteas se eendaagse manskrieketspan nie.
Net sodra jy opgewonde wil raak, dan is daar weer 'n globale teleurstelling en 'n mens begin wonder of 'n mens nie die Indiërs kan probeer omkoop soos hulle met Hansie Cronjé gedoen het sodat Temba Bavuma elke slag die loot wen om ons altyd eerste te kan laat kolf by vanjaar se Wêreldbekertoernooi, wat nou besig is om in Indië vinnig sy einde te bereik.
Ons lyk heel goed en gemaklik om 'n teiken te stel en dán te verdedig, maar om een te jaag is 'n saak van gebed. Van die drie wedstryde waarin die Proteas 'n teiken moes jaag, het hulle net teen Pakistan op die hond se stert met een paaltjie deurgeskraap. Teen Nederland het ons met 38 lopies verloor en die afgelope Sondag liederlik met 243 lopies teen Indië slae gekry.
Maar dan moet 'n mens darem ook byvoeg dat die Protea-boulers, Marco Jansen, Lungi Ngidi en Tabriaz Shamsi die bal lelik laat val en Indië eintlik aangehelp het om 'n bykans onmoontlik totaal van 326 lopies daar te stel op 'n blad waar enige telling meer as 275 klaar moeilik sou wees om te jaag. Keshav Maharaj en Kagiso Rabada het goed daarin geslaag om Indië se aanvanklike slagting van meer as 12 lopies per beurt terug te trek na onder 6 per beurt, maar die slag was gelewer en die Proteas het nooit daarvan herstel nie.
Boonop was die Indiese boulaanval as 'n eenheid absoluut witwarm-vernietigend en het hulle die Proteas met hangskouers vir net 83 lopies in die geholtes van 'n stampvol Eden Gardens teruggejaag van waaruit die partytjie lank voor die Suid-Afrikaanse kolfbeurt reeds begin het met Virat Kohli se 49ste eendaagse honderdtal.
Kohli het met sy onoorwonne 101 lopies teen die Proteas op sy 35ste verjaarsdag 'n voormalige lieflingseun van Indiese krieket, Sachin Tendulkar, se algehele rekord van eendaagse honderdtalle geëwenaar, Die groot verskil tussen dié twee uitsonderlike spelers se vertoningslyste is dat Tendulkar 452 keer voor die penne stelling ingeneem het om sy 49 honderdtalle aan te teken. Kohli het dit in 277 beurte reggekry, 'n volle 175 wedstryde minder as Tendulkar, wat op 16-jarige ouderdom reeds sy debuut vir Indië gemaak het. Dieselfde getal egter, wat op die kant van Kohli se pet geborduur is as speler nommer 175 om sy land in dié formaat te verteenwoordig. Praat van toeval!
Dan is daar natuurlik 'n ander toevalligheid en wel met 'n sterk SuidAfrikaanse geur. Ná agt wedstryde elk by vanjaar se WB-toernooi skei 'n skamele 7 lopies Kohli en die Proteas se voorslagkolwer, Quinton de Kock, mekaar in 'n jaagtog om op Tendulkar se getal lopies van 673 in 'n enkele toernooi te probeer verbeter. Dit het die klein Maestro, soos Tendulkar bekend gestaan het, in 2003 in Suid-Afrika vermag ná hy ook in 1996 met 523 die voorste lopiemaker was.
De Kock, met vier honderdtalle in vanjaar se toernooi tot dusver, staan op 550 lopies terwyl Kohli se totaal van 543 twee honderdtalle insluit.
Met Suid-Afrika reeds verseker van 'n plek in die halfeindronde is daar dus vir beide dié twee lopievrate potensieel drie wedstryde oor indien beide tot die eindstryd deurdring om Tendulkar se rekord van die boeke te vee. Alles dui egter daarop dat ons opponent in die halfeindronde, die vyfmalige voormalige wenner, Australië, sal wees. En Australië is die krieketweergawe van die Springbok rugbyspan wanneer uitklopfases bereik word. Miskien is dit tyd dat Rassie Erasmus en Jacques Nienaber 'n cameo-appearance vir die Proteas maak om hulle iets van halfeind- en eindstryde te leer!
Ander sport
In ander sport het Suid-Afrika se mansen vroue-hokkie spanne vir die Olimpiese Spele aanstaande jaar in Parys gekwalifiseer ná hulle in Pretoria in die Road to the Olympics-toernooi met Egipte en Ghana onderskeidelik afgereken het.
Dwarslat wil egter net 'n ligte waarskuwing rig. Dit sal nie die eerste keer wees dat SA hokkiespanne dié eer te beurt val net om die mat onder hulle voete uit te ruk wanneer die finale Olimpiese kontingent aangekondig word. Dit het al tevore gebeur en daar moet mos altyd 'n manier gevind word om die nóg groter kontingent beamptes ook te akkommodeer en ongelukkig moes hokkie al tevore die spit daarvoor afbyt.
Geluk met die oorwinnings, maar laat die vreugdevure vir eers laag brand. Gebruik maar eers brikette waar vlamme nie ter sprake is nie. Daar is nog baie wat kan gebeur voor die voete op die vliegtuig gesit word. Die soustrein moet ook nog iewers ingepas word.
Kyk maar byvoorbeeld weer wat het gebeur met ons beste atlete oor 50km, wat die afgelope naweek ook in Indië moes aantree vir die Wêreldbyeenkoms oor dié afstand. 'n Visum-fiasko tussen Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Departement van Binnelandse Sake, het veroorsaak dat verskeie atlete in dié gekose span van 12 nooit die vlug na Hyderabad, waar Tendulkar nogal een van die ere-afsetters was, kon meemaak nie en 'n halwe span moes op die ou einde meeding.
'n Plek op die podium veral in die spankompetisie is prysgegee en weer eens is 'n span sportmanne en vroue die geleentheid ontneem om 'n kleim af te steek tot eer van die land weens gebruiklike burokratiese rompslomp. Tog eienaardig dat dit altyd die atlete is wat daaronder ly, maar die administrateurs en beamptes verantwoordelik, word nooit voor stok gekry nie.
Dwarslat wil ook 'n spesiale woord van melding rig aan Erik van Rooyen, wat sy tweede titel op die Amerikaanse PGA gholfreeks die afgelope naweek in Los Cabos, Mexiko, verower het. Met 'n ongelooflike arend op die laaste van 72 putjies het die Suid-Afrikaner 'n persoonlike wens vervul om dié toernooi vir sy goeie vriend en strooijonker op sy troue, Jon Trasamar, te wen en aan hom op te dra.
Die 33-jarige Van Rooyen, sy joggie, Alex Gaugert, en Trasamar is sedert universiteitsdae in Minnesota boesemvriende en gholf-spanmaats.
Met die nuus verlede Woensdag dat terugkerende aggressiewe kanker Trasamar se lewensverwagting op 'n skrale ses tot 10 weke in die vooruitsig stel, het Van Rooyen en Gaugert alles in die stryd gewerp ter ere van 'n boesemvriend. Die stille erkenning tussen mekaar op die laaste setperk was genoeg om te weet waarvoor dié oorwinning behaal is.
Van Rooyen en Gaugert het die afgelope Maandagoggend net ná die oorwinning teruggevlieg Minnesota toe om hul vriend by te staan. Welgedaan ouens en baie sterkte!