Mossel Bay Advertiser

Van alles wat ek boks...

-

Musiek speel kliphard in my ore terwyl ek die skoonsak, wat vanuit die plafon hang, slaan.

Met elke hou maak die bokshandsk­oene ‘n plof-geluid. Ek maak my oë toe.

Vir ‘n oomblik dans ek weer in ‘n klub in Johannesbu­rg saam met vriende.

Dit is dieselfde musiek wat speel as toe. Toe ons nog sorgvry was.

Sweet loop af teen my slape. “Jab, cross, jab cross, jab cross,” hoor ek die instrukteu­r se stem.

Haar woorde klink ver. “Lead uppercut, rear uppercut.” Ek slaan die sak so hard soos ek kan. Gesigte begin voor my vorm aanneem. “Jab, cross, hook, uppercut”, kom die instruksie­s. Ek identifise­er die eerste persoon wat op die sak voor my verskyn.

My linkerhand beskerm my gesig en ek boks hom met die regterhand. Reg teen sy neus vas. Bloed spat.

Vir 'n oomblik aarsel ek, neem 'n diep asemteug en dan reën die houe op hom neer.

Hoekom het jy gesê wat jy gesê het? Hy antwoord nie.

Ek hou aan met boks.

Nóg ‘n gesig verskyn. Die keer is dit ‘n vrou. Ek behou my ritme. Opgekropte frustrasie en woede vind 'n weg na my vuiste.

Ek jab cross, lead hook, rear hook soos ‘n besetene.

Die dooie gewig voor my wieg stadig in die rondte. Asof in ‘n beswyming lig ek my arms op. Vuiste bal in bokshandsk­oene. Spatsels sweet drup op die vloer.

Ek boks die ou wat een aand ongenooid in ‘n donker kamer ingesluip het.

Met slegs 'n enkelhou vang ek hom onkant. Hy steier verbaas terug en val dan agteruit.

Volgende tref my regtervuis Kanker. Kanker is so geskok oor die onverwagse hou soos wat ons familie was toe ons die nuus van 'n geliefde gehoor het.

Sonder om daaroor te dink dien ek 'n kombinasie van verskillen­de houe toe. Regs, links, regs, links. Ek slaan wind uit.

Dit is egter die direkte hou wat Kanker in stukke laat spat.

Met boks is krag nie so belangrik soos spoed nie maar steeds slaan ek so hard soos ek kan.

My arms jab cross, lead hook, rear hook, lead uppercut, rear uppercut sonder dat ek oor die volgorde van die houe nadink.

Alles is lam behalwe my vuiste.

Die musiek se ritme pas by my houe. Dan verskyn Dood.

Pyn skiet erens van diep binne my op. Ek boks Dood nog voor hy kan groet. Vir ‘n oomblik sien ek my pa.

Van alles wat ek boks, is ek die kwaadste vir kanker en die kwaadste vir dood.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa