Hoe suksesvol is veldtog in die land?
'n Mens sal wat wil gee om te weet hoe suksesvol die veldtog van 16 dae se aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders in Suid-Afrika toegepas word. Voor vanjaar se veldtog op Saterdag, 25 November, afgeskop het, was daar weer eens die gebruiklike warm lug wat veral deur politici geblaas is om ernstig daaraan aandag te skenk.
Dié veldtog eindig oormôre, Sondag 10 Desember, en die podiums sal in alle waarskynlikheid weer betree word waar verdere lippediens weer eens opgedis sal word sonder werklike bewyse van enige suksesse met betrekking tot dié veldtog.
Internasionaal het dié veldtog in 1991 sy ontstaan gehad en was dit oorspronklik daarop gemik om te dien as 'n inisiatief teen geslagsgebaseerde geweld teen vroue. Onderliggend het dié tema deurlopend dieselfde gebly met verskeie variasies, wat bygevoeg is. In Suid-Afrika het die "en kinders" bygekom en sedert 1998 is vyf verskillende wette deur die Suid-Afrikaanse parlement gevoer spesifiek daarop gemik om na die regte van vroue en kinders meer gebalanseerd om te sien.
Neem 'n mens egter die kwartaallikse misdaadsyfers in berekening, kan 'n mens nie anders as om tot die slotsom te kom dat die Suid-Afrikaanse gemeenskap en staat hopeloos in sy taak gefaal het om juis geweld teen vroue en kinders hok te slaan. Daar word veel meer aandag aan gegee wanneer 'n pa hof toe gesleep word omdat hy sy seun soos in die ou dae byvoorbeeld 'n ordentlike pak slae gee oor iets wat verkeerd gedoen is. Die media-sirkus wat daarop volg is presies dit. 'n Absolute sirkus.
Lobola
Dit bring 'n mens by twee tradisionele gebruike waaraan vroue en jong meisies so jonk as 12 jaar oud onderwerp word. Lobola en Ukuthwala. Lobola is 'n Afrika gebruik waar die bruidegom se familie die bruid se familie beloon met beeste of kontant net voor die seremonie voltrek word. Vir tradisie moet daar respek wees, maar almal weet ook daar is perke. In baie gevalle kan die gebruik van lobola heeltemal verkeerd vertolk word en word die bruid as die bruidegom se "besitting" beskou.
En almal weet hoe daar in sekere gevalle met "besittings" omgegaan word. Vat byvoorbeeld die aankoop van 'n voertuig. In die meeste gevalle sal mans mooi na sy voertuig kyk, gereeld was en skoonmaak terwyl dienste op datum gehou word. Maar dan kry jy die anderkant van die muntstuk waar die voertuig nie na gekyk word nie en kort voor lank is dit 'n wrak op wiele. Óf die voertuig word net doodeenvoudig vervang. En dit kan ook met lobola vergelyk word.
Van dié twee gebruike is Ukuthwala die meer skokkende een en baie meer algemeen as wat verwag word. Ukuthwala, 'n Nguni betekenis, beteken in die breë die ontvoering, aanranding en verkragting van jong meisies so jonk soos 12 deur ouer mans waarna families gedwing word om in te gee en in baie gevalle dan toegee dat 'n huwelik voltrek word. Hoe dit ooit bekragtig word, is natuurlik ook 'n ope vraag aangesien 'n minimum perk van 15 jaar volgens wet geplaas is op die voltrekking van 'n huwelik met betrekking tot die vroulike geslag en 18 jaar vir mans.
In 'n doktorale navorsingstuk deur Nyasha Karimakwenda aan die Universiteit Kaapstad (UK), sê sy daar moet nog baie werk gedoen word om dié fenomeen te probeer verstaan. Dwang Ukuthwala is egter 'n werklikheid omdat families hoë waarde aan die instelling van die huwelik heg, maar die daarmee gepaardgaande oortredings deur mans word in 'n groot mate as nietighede gesien, wat net nog 'n verskoning is om geslagsgebaseerde geweld eintlik te "regverdig".
Is daar nie miskien lesse daaruit te leer nie? In plaas van miljoene rande te spandeer om spiksplinternuwe voertuie vir tradisionele leiers aan te koop, is daar 'n baie groter opvoedingstaak wat met dié geld gedoen, kan en móét word om vir dié kompleksiteite te probeer oplossings vind.