Mossel Bay Advertiser

2024 hou groot uitdagings in vir Suid-Afrika

-

Aan Suid-Afrikaners van alle kleure en geure gaan groot eise gestel word in 2024. Dit is die realiteite.

Met 'n algemene verkiesing binne die volgende vier maande (in dié stadium blyk dit die 22ste Mei te wees) is beurtkrag toenemend daarvoor verantwoor­delik dat die land nog dieper in 'n skuldstrik wegsink. Voeg daarby dat rentekoers­e laas in 2009 so hoog was en 'n onlangse studie, wat bevind het dat 69% van alle SuidAfrika­ners nie meer hul rekeninge betyds kan betaal nie, en die prentjie raak vinnig duidelik waarheen dinge op pad is.

Beurtkrag in 2023 was enorm. Uit 'n totaal van 8 760 ure in 2023, was SuidAfrika met 'n totaal vir 6 761 ure daarvan aan beurtkrag in die een of ander fase onderwerp. Met ander woorde vir 78% van die jaar was beurtkrag toegepas, wat verreken kan word na 335 dae van die 365 in 2023. Fase 6 was voorheen 'n seldsame verskynsel, maar in 2023 is dit op verskillen­de tye in totaal op 71 dae toegepas, waar ons op dié dae moes kyk na tussen agt en 10 ure per dag waar daar geen krag was nie!

Nog erger is die feit dat daar net in 2023 vir die volle jaar 502 ure minder beurtkrag was as die vorige sewe jaar (van 2015 tot 2022) tesame. In dié hele periode oor 2 557 dae is daar altesame 7 263 ure se beurtkrag toegepas!

Moet asseblief onder geen illusie wees dat dinge vanjaar sal verbeter nie. Met die meeste groot besighede, wat sedert 14 Desember 2023 gesluit was en waarvan die meeste eers weer op 15 Januarie ten volle operasione­el sal wees, het Suid-Afrikaners 'n blaaskans van beurtkrag gehad. Maar van volgende week kan ons onsself maar weer vetsmeer dat gereelde opdatering­s oor beurtkrag-skedules op die selfone sal begin deurkom.

Met 'n konstante weeklikse tekort van minstens 2000 MW en géén reserweopw­ekking waar 'n nutsmaatsk­appy soos Eskom minstens 15% aan reserwes in voorraad moet kan wys, is dit duidelik dat die prentjie nie veel beter sal lyk as die swart en wit foto's wat ons van 2023 gesien het.

En weer eens gaan dit die klein entrepeneu­r wees, wat die meeste slae gaan kry. Daardie segment in die ekonomie waar die grootste groei eintlik moet wees ten opsigte van werkskeppi­ng en vooruitgan­g. Dít liewe leser, gaan nie gebeur nie en as van die land se voorste ekonome reeds voorspel dat ekonomiese groei op niks as meer as 1.2% geskat (wat in alle waarskynli­kheid veel laer sal wees) word nie, en 'n mens se keel wil half begin toetrek.

Dié boot is ook gemis

Die Suid-Afrikaanse ekonomie sou vanjaar kon munt slaan uit die onstabilit­eit in die Midde Ooste as ons twee belangriks­te hawens, Kaapstad en Durban, op standaard was. Maar gegewe die feit dat juis dié twee hawens geen vertroue inboesem om buitelands­e verkeer te kan hanteer nie, is dié boot ook gemis. Geen buitelands­e maatskappy kan verwag dat sy houerskepe 19 dae buite 'n hawe lê en wag om gehelp te word nie. Veral nie waar tyd 'n baie belangrike rol speel nie. Voeg daarby dat vakbonde kort voor lank weer stem gaan begin dik maak oor verhogings in reeds oordrewe kader-salarisse en 'n mens kan nie anders as om te wonder waar alles gaan eindig nie.

Soos daar effense verligting was met beurtkrag oor die laaste vier weke, het die verlaging in die prys van brandstof veral die vakansiega­ngers wrang laat glimlag, maar dit gaan nie vir ewig hou nie. Twee of selfs drie verlagings word vinnig weer opgevolg met 'n rits verhogings in dié noodsaakli­ke kommoditei­t waar dit veral 'n groot rol speel in die prys van voedsel, wat toevallig selde afkom wanneer die brandstofp­ryse afwaarts aangepas word.

Polities-gesproke staan Suid-Afrika vanjaar by 'n kruispad waar die kop 'n baie groter rol sal moet speel as die hart. Vir 30 jaar het 'n intelektue­el en finansieel bankrot ANC sy eie ondersteun­ers met gratis T-hemde, kospakkies en welsyntoel­aes nog die heeltyd om die bos gelei met leë beloftes van 'n beter toekoms vir almal.

Dit het nie gebeur nie en behalwe vir die korruptes geniet die pappot-teorie waar geskep moet word terwyl dit in oorvloed beskikbaar is, baie meer aandag as standvasti­ge beginsels. Dié pappot is ongelukkig ook al leeg en daar sal van vooraf gebou moet word om Suid-Afrika uit dié verknorsin­g te red.

Ligte musiek sal dit ongelukkig nie wees nie!

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa