Brandbestryder, bouer, nutsman
Marius Barnard het ná 35 jaar diens aan die gemeenskap van Mosselbaai, op 31 Januarie sy laaste dag as brandbestryder by die munisipale brandweerdiens bestee. As gekwalifiseerde motorwerktuigkundige, het hy in 1988 by die brandweer aangesluit. Sy rede? Hy wou iets vir die gemeenskap doen - en dít is volgens alle aanduidings beslis sy nalatenskap.
Marius vertel dat die brandweerdiens tóé en die brandweerdiens vandag, twee totaal verskillende scenarios oplewer. Met sy aftrede, kyk hy terug op ‘n diens waaraan hy persoonlik met ywer help bou het.
Mosselbaai het eers in 1987 ‘n gevestigde brandweerdiens gekry. Destyds, volgens Marius se verduideliking, was hy een van vier persone wat tot die bestaande brandweerkorps van slegs twee man sterk, toegevoeg is.
“Daar was amper niks nie. Ons het dit maar so opgebou oor die jare. Die oorspronkike kantoor was by die taxi-loods in die dorp en ons het twee voertuie gehad wat in ‘n garage by die huidige munisipale werf in Schoemanstraat gestoor is. Ons het slegs bedags gewerk en het by die huis geslaap, maar ons was op bystand.”
Marius vertel met deernis van Enjin 2, een van die oorspronklike Mercedes-voertuie waar sy verrykende leerkurwe in die brandweerdiens begin het.
“Saam is ons na baie brande toe en het baie deurgemaak. As daardie trok kon praat…”
Op ‘n goeie dag het Marius en sy kollegas by die munisipale werf in Schoemanstraat gestaan en kyk na die oorkantste gebou, die huidige brandweerstasie. Die gebou, toe ‘n voertuigwerkswinkel het aan die provinsiale administrasie se verkeersafdeling behoort.
“Ons het gedink dit kan ‘n oulike brandweerstasie maak en het ons hoof gevra of hy nie kan help dat die munisipaliteit dit vir ons in die hande kry nie,” vertel Marius. So gesê, so gedaan. Kort voor lank het die brandweerhoof, mnr Davey, aan sy span berig dat die knoop deurgehaak is, mits hulle bereid sal wees om self die noodsaaklike werk te doen.
Daar is plafonne geslaan, vloere gegooi, parkering omskep in kantoorspasies en ‘n lesinglokaal, en meer tot die produk verkry is wat vandag nog die brandweerdiens huisves.
Al die kursusse wat hy kon doen om hom te bekwaam, het Marius met albei hande aangegryp.
Intussen het sy hande letterlik vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het voertuie herstel, roesplekke opgeknap, spuitverfwerk gedoen, pompe herstel, sweiswerk gedoen en op so ‘n manier, ‘n essensiële rol in instandhouding gespeel.
Wat sy werk as brandbestryder betref, sê Marius dat hy elke oomblik van die 35 jaar geniet het.
“Gedurende 35 jaar se diens, het ek alles gesien en baie beleef wat ‘n klomp traumatiese dinge ook insluit. As jy van diens af gaan, is dit normaal om daaraan te dink, maar my uitgangspunt was altyd dat ek myself moet regruk, want môre is daar weer iemand wat my gaan nodig hê en dan moet ek kan help na die beste van my vermoë.”
Tydens sy afskeid, het kollegas met lof en net mooi herinneringe van Marius gepraat. Daar is gelag oor staaltjies en ook ‘n paar emosionele oomblikke gedeel.
Van Marius se kant af, is sy groetwoorde: “Ek het die brandweer sien groei en ek is baie trots daarop.”