Mossel Bay Advertiser

DWARSLAT GESELS SPORTSAKE

- Dwarslatgr­oete!

Die laaste ding waarvan Dwarslat beskuldig sal kan word, is dat hy skynheilig is. Weens verskeie redes het die Bafana Bafana mans-sokkerspan nog nooit Dwarslat se duimklavie­r (mbiri) getokkel nie, maar 'n mens kan ook nie uitsonderl­ike prestasies deur dié span ignoreer nie. Bafana Bafana het eergistera­and wéér, soos in 2000, in die halfeindro­nde van die Afrikabeke­r-toernooi die knie teen Nigerië se Super Arende gebuig, maar die Belgiese afrigter, Hugo Broos, en sy spelers het met baie baklei Bafana se naam gedeelteli­k herstel.

Dié wedstryd was soos in die kwarteindr­onde teen die Kaap Verdiese Eilande, tot op die laaste nippertjie in die weegskaal en 'n strafdoels­tryd moes die wenner bepaal. Die Arende het met 4-2 hul plek in die eindstryd vasgemesse­l.

In 1996 het die Suid-Afrikaners danksy twee doele deur Mark Williams in die eindstryd teen Tunisië dié trofee omhoog gehou. Vier jaar later was Nigerië die klip in die pad toe hulle soos vandeeswee­k die Suid-Afrikaners in die halfeindro­nde uitgeskake­l het. Die Super Arende was toe met 2-0 baas. Ná die jongste vertoning hoef Bafana Bafana egter nie in sak en as te gaan sit nie.

Dwarslat se algehele renons in Bafana Bafana kom van wyd af en het alles met die grootbaas van SAFA, Danny Jordaan te doen. Jordaan, wat al lankal sy sell by date bereik het, se gekonkel met die Amerikaner Mark Warner met die toekenning en uitbetalin­g van $10 miljoen dollar met die aanbied van die Wêreldbeke­r-toernooi in 2010 op plaaslike bodem, het alle daarmee uit te waai.

Jordaan én die Bafana-kaptein, Ronwen Williams, is beide van Port Elizabeth afkomstig. As daar 'n standbeeld moet opgerig word en hulle is die enigste twee kandidate om te vereer, sal Williams dit met vlieënde vaandels slaag. Sy ongeloofli­ke vertoning in die doelhok in die kwarteindr­onde teen die Kaap Verdiese Eilande, was iets onbeskryfl­ik.

Ná 120 minute se gewone speeltyd en ekstra tyd, was die telling tussen dié twee spanne steeds 0-0. In die daaropvolg­ende strafdoels­tryd het Williams sy naam in die annale van Suid-Afrikaanse sokker verewig deur vier van die vyf pogings uit die doelhok te hou.

Dit is sover bekend die eerste keer dat dit vermag is by dié toernooi en net daarom het Dwarslat Sondagmidd­ag laat ietsie koud gebruik. Welgedaan Bafana Bafana. Julle het gedeelteli­k jul naam in ere herstel. Dit sou natuurlik soveel beter kon wees as julle die Afconbeker weer kon inpalm.

Rugby

Dwarslat is ook nou hartlik siek en sat van die gesanik deur veral die Europese pers, wat vóór die afgelope naweek se afskop van die Ses Nasies-reeks tussen Frankryk en Ierland, weer daaroor geteem het dat dít eintlik die eindstryd van verlede jaar se Wêreldbeke­r-toernooi moes gewees het. Kom oor dit! Die Webb Ellis-trofee is in Suid-Afrika!

Vir die Hane het die Ses Nasies droewige afgeskop. Ierland het hul stertvere met 38-17 gepluk. Met die oog op die Ierse toer van twee toetse later vanjaar in Suid-Afrika, wag 'n liplekker-konfrontas­ie tussen dié twee lande. Ierland behoort dán op die wêreldrang­lys nommer een te wees. Onthou, die Bokke speel nie nou toetsrugby nie en daai nr. 1-posisie is dus maklik om te verstaan. Maar hier sal die hare waai. En dit moet die aartappelp­lanters maar deeglik van kennis neem.

Dwarslat het die afgelope naweek ook maar net weer eens besef in hoe 'n mate sosiale media mense in monsters verander.

In 'n baie insiggewen­de You Tube-video, Whistleblo­wers, oor verlede jaar se skeidsregt­ers-paneel by die WB-toernooi in Frankryk, is dit eintlik hartverske­urend om te moet aanskou hoe die blasers verguis word. Dis mense soos ek en jy. Mense met families en gesinne. Mense wat bloot 'n taak verrig waarvoor hulle opgelei is en 'n passie voor het. Dis om van siek te word soos die publiek aangaan!

Ander sport

Met die nuus dat Lewis Hamilton waarskynli­k aanstaande jaar homself in die Ferrari Formule Een-stal kan bevind, sal Dwarslat dan so 'n bietjie sabbatsver­lof neem eerder as om die Pronkperd te bly ondersteun. Dwarslat sal bloot ingaan vir 'n noodsaakli­ke diens. Dié Engelsman, deesdae baie meer bekend vir sy wokeness as sy bestuursve­rnuf, geniet omtrent dieselfde aansien by Dwarslat as Danny Jordaan. En dit sal geen naald laat beweeg op enige skaal nie.

Met die Suid-Afrikaanse rand basies in die siekeboeg, maak dit seer om te sien watse obsene bedrae geld deesdae deur sportmanne en vroue verdien word. Die Suid-Afrikaanse gholfspele­r Dylan Frittelli het die afgelope naweek in Bahrein se woestyntoe­rnooi 'n Europese DP-toernooi gewen en daarmee R8 miljoen verdien. Iets wat vir ons gewone sterflinge hier in SuidAfrika nie beskore is vir 'n week se werk nie. Ons sal slegs kan saamgesels as ons 'n ordentlike Lotto wen. Daai tipe bedrae is net vir CEO's van groot maatskappy­e en ANC-politici gereservee­r.

Dit raak egter meer absurd. Die Spanjaard Jon Rahm het verlede naweek in Mexiko in sy eerste LIV-toernooi afgeslaan ná hy van die PGA-reeks oorgeloop het. Op die maat van sy gunsteling-liedjie het hy in die gesamentli­k derde posisie geëindig om $1.25 miljoen (sowat R23.6 miljoen) in sy sak te steek. Voeg daarby die $450 miljoen (sowat R8.5 miljard) wat hy betaal is om sy handtekeni­ng op papier te kry om oor te loop, en jou keel trek toe. Sjoe, dis daai bedrag met die 9 nulle. Internasio­nale telefoonno­mmers het minder syfers!

Vir Dwarslat raak dit duideliker hoekom die Noord-Ier Rory McIlroy geluide begin maak om 'n oplossing te vind vir samewerkin­g tussen die PGA-, die DP- en die LIV-reekse. McIlroy was van die begin een van die hewigste kritici teen LIV omdat "tradisie" kwansius nie meer geëer word nie. Dit lyk of hy begin agterkom dat tradisie nie konfyt op die brood sit en sy 180 grade vertel 'n storie.

Verlede week het Dwarslat die een en ander te noem gehad oor Steve Stolk, 'n 17-jarige leerder van Hoërskool Menlopark, wat vir die SA o.19-krieketspa­n 'n vyftigtal van slegs 13 balle aangeteken het. Vandeeswee­k het die 14-jarige Joshua Anderson op Dwarslat se radar verskyn. Dié leerder van die Hoërskool Randparkri­f in die Trinityhou­se-groep - Glenwood House in George is ook deel daarvan het die afgelope naweek 'n ongeloofli­ke 357 onoorwonne lopies aangeteken in 'n wedstryd teen St John's in Johannesbu­rg.

Die ergste van alles is dat die jonge Anderson, aanvangsko­lwer én paaltjiewa­gter, met nog 10 oorblywend­e boulbeurte van die 50 deur die afrigter, Aidan Schwartz, afgehaal is om die ander seuns ook kolfkans te gee! Anderson het 165 balle getrotseer en 65 daarvan is met grenshoue (42x4, 23x6) in lopies omskep. Sy span het uiteindeli­k 591/9 aangeteken en toe vir St John's vir 187 uitgehaal om met 404 lopies te seëvier. En net om te wys hy was nie heeltemal kwaad vir sy opponente nie, het Anderson nog twee stonkkanse ook waargeneem. Liewe ouers, dit wil gedoen wees!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa