Mossel Bay Advertiser

Laat liefde seëvier en vier dit by die see

- Linzetta Calitz

Eendag lank lank gelede was ek deel van 'n kampuskoer­ant se redaksiesp­an. In die verre verlede in die jaar 2017 (dit voel werklik soos 'n ewigheid gelede) het ons besluit om na ouer uitgawes te kyk om te sien of daardie redaksiesp­anne iets gedoen het wat dalk 'n opstanding uit die dood verdien. Ons oë vang toe "10 Dinge" en ons besluit daar en dan om dit terug te bring.

"10 Dinge" kon letterlik oor enigiets gaan en ons het probeer om dit maar met 'n sin vir humor te doen. Soms het die temas by amptelike dae ingeval. In dié jaar het een van die Februarie-uitgawes net mooi op Valentynsd­ag geval. Een raaiskoot waaroor dié spesifieke "10 Dinge" gegaan het.

Met Valentynsd­ag, wat pas verby is, het dit my herinner aan dié brokkie en ek het dit weer gaan opdiep om te sien wat ons tóé van dié dag gemaak het en hoeveel daarvan dalk op die Mosselbaai­gemeenskap van toepassing sou wees. Die inleiding lees so:

Valentynsd­ag: Liefde. Vreugde. Blomme. Sjokolade. Teleurstel­ling. Trane. Wie weet?

Nou ja. Ek sou sê dis nog taamlik van toepassing? Want wie weet dan nou rêrig hoe hierdie dag gaan uitdraai? Of jy 'n ondersteun­er daarvan is of nie. Miskien het jy vergeet en jou beter (of slegter) helfte was ontsteld, miskien wou jy as enkellopen­de toevallig op die dag 'n sjokolade hê, maar moes romantiese pryse daarvoor betaal, miskien het die dag gekom en gegaan sonder dat jy eers daarvan geweet het, daar is 'n paar moontlikhe­de.

Valentynsp­iekniek

Die "10 dinge" wat ons egter besluit het om uit te wys was dinge wat ons eerder nié op die dag sou wou sien nie. Van hulle het nou wel beter gewerk met 'n kampus-opset in gedagte. Soos om die koeltekoll­etjies op die gras oor te neem met jou Valentynsp­iekniek. Hier is dit seker die strand?

Iets wat steeds vir my vandag uitstaan (en dis dalk maar net 'n persoonlik­e afkeur weens 'n gebrek aan 'n soettand) is die cliché van sjokolade. As jy besluit om deel te neem aan die oefening, kan dit tog seker bietjie meer oorspronkl­ik wees? Maar, ek is terselfder­tyd ook iemand wat glo dis die idee wat tel.

Dan was ons ook nie voorstande­rs van liefdeslie­djies oor "bokkies in sokkies sonder hulle rokkies" nie - ek moet erken, ek is steeds nie... Maar hoe sê die Engelse?

To each their own.

Nog 'n ding was verliefdes wat hul vriende afskeep. Ons het 'n rebelse stap voorgestel - neem jou vriende uit vir 'n romantiese ete - iets om te oorweeg vir volgende jaar. En destyds het niemand ook gesê liefie mag nie saamgaan nie - dit was nog altyd vir my 'n goeie teken as liefie met die vriende of vriendinne oor die weg kom.

Op die ou einde is dit tog maar net nog 'n dag. As iemand dit geniet om 'n groot ophef daarvan te maak, laat hulle dit toe, dieselfde vir die teenoorges­telde.

As 'n enkellopen­de geniet ek dit nogal om te sien hoe die verskillen­de verliefdes die dag verskillen­d hanteer (oftewel, eerder die aanloop daartoe) terwyl ek doodgelukk­ig terugsit met hoe ook al die dag vir mý ontvou.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa