Kindermoordenaar hoor in April sy lot
'n Jaar en ses maande ná twee klein dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharron Arries (10) van Albertinia, se liggame in sy woning in Janfiskaalstraat gevind is, is Timothy Michael Ova (54), skuldig bevind aan moord.
Dié uitspraak bring hulle nie terug nie, maar die twee kleintjies se families kan nou afsluiting kry.
Die staat se saak was hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis gegrond, so presies wat daardie noodlottige dag gebeur het sal moontlik niemand anders buiten hul moordenaar, ooit weet nie.
Regter Matthew Francis het Ova op al vyf die aanklagte teen hom - twee van moord, een van dwarsboming van die gereg, een van die onwettige besit van ammunisie en een van onsedelike aanranding wat spruit uit 'n 1999-voorval skuldig bevind. Vonnisoplegging is uitgestel na 10 en 11 April. Ova het deurlopend gedurende sy getuienis sy onskuld betuig.
Met die ondersoek is daar bevind dat beide dogtertjies versmoor het. Daar was fyn sand in hul lugweë, neuse en monde gevind wat daarop dui dat die kinders die sand ingeasem het.
Die kinders se lyke is op Donderdag, 22 September
2022, in Ova se huis gevind ná hulle die vorige dag as vermis aangemeld is. Jacorene se liggaam is in die gat onder Ova se bed gevind en Sharon s'n in 'n blou plastiekdrom. Albei was in lakens toegebind. Volgens die getuienis in die hof was Ova die laaste persoon wat die kinders lewend gesien het.
Die Donderdag was daar talle mense, insluitende familie van die kinders en plaaslike polisielede, by Ova se huis om hom oor die kinders uit te vra. Hy het volgehou dat hy nie geweet het waar hulle was nie en die laaste keer wat hy die kinders gesien het was die Woensdag toe hy van die werk gekom het. Hy was ook nie aktief tydens die soektog na die kinders nie.
Die dogtertjies se lyke is later dieselfde dag in sy huis gevind waarna Ova ontvlug het. Hy is die volgende dag op Albertinia in hegtenis geneem ná hy hom teëgesit het.
Ondersoekbeampte oor uitspraak
Die ondersoekbeampte, ao Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, het na afloop van die uitspraak gesê dat hy uiters in sy skik is met die uitkoms. "Ek is vreeslik verheug oor die uitspraak, verál vir die slagoffers se ouers. Ons het dag en nag aan die saak gewerk en dit het vrugte afgewerp. Ek het niks anders behalwe 'n skuldige uitspraak verwag nie."
Ova word deur adv Flip Theron verteenwoordig en adv Lenro Badenhorst is vir die staat.
'n Lokval vir oortreders
Ova, oorspronklik van die Kaapse Vlakte, het uitgebreide kennis van die boubedryf gehad. In 2016/17 verhuis hy egter na Albertinia en trek hy by sy woning, 'n sinkhut langs sy broer se huis, in.
Tydens sy getuienis het Ova aan die hof vertel dat die sinkhut nie 'n slaapkamer of badkamer gehad het toe hy ingetrek het nie, en dit was gedeeltelik bo-oor 'n gat gebou.
Volgens Ova was die gat, bedek met 50kg-sandsakke wat rondom die gat regop gestaan het en 'n houtpalet, 'n lokval vir oortreders omdat mense sy boumateriaal en kwekerybome gedurende die nag gesteel het. Sou oortreders oor die sandsakke wat aan die kante van die gat geplaas is getrap het, sou dit veroorsaak dat die palet wat die gat bedek na binne val en die sand in die gat val en sodoende enige oortreders vasvang.
Ova se getuienis ongeloofwaardig
Regter Francis het tydens sy uitspraak gesê dat hy die staatsgetuies geloofwaardig bevind het, maar kon nie dieselfde oor Ova sê nie.
"Ek was nie beïndruk met sy houding of die manier waarop hy sekere vrae wat aan hom gestel is, beantwoord het nie. Hy het soms aggressief gereageer op betreklik eenvoudige vrae. 'n Mens het die duidelike indruk gekry dat hy sy weergawe aanpas in verhouding tot wat hy van sommige van die getuies gehoor het.
“Hy het eenvoudig nie geloofwaardigheid gehad nie," het Francis gesê. Hy het ook gesê Ova se verduideliking oor hoe die kinders in die gat/lokval beland het, hoogs onwaarskynlik was.
"Die kinders sou een vir een oor die sakke moes klim. Indien een van die kinders dit sou regkry om oor die sakke te klim sonder dat sy sou val, en dan op die valdeur [houtpalet] wat die gat bedek, trap, sou die valdeur dadelik inval, en al die sand sou op die eerste kind geval het," het regter Francis gesê.
Dit sou Sharon gewees het, want sy was onder.
Regter Francis het verder tydens die uitspraak bevind dat, gegewe die hoogte van die sakke en die breedte van die gat, dit onwaarskynlik sou wees dat beide oorledenes oor die sakke sou klim en terselfdertyd op die valdeur sou getrap het. Die gat was 825 mm diep. Albei oorledenes was langer as 1m en kon gemaklik in die gat gestaan het sonder dat die sand hulle sou bedek.