Mossel Bay Advertiser

Ysterman Henri in trane, maar slaag in sy doel

- Jannie du Plessis

Dominee Henri Meyer, leraar van die NG Kerk Moedergeme­ente, Mosselbaai, wat die afgelope Sondag, 21 April, aan die vol Ystermanko­mpetisie in Port Elizabeth deelgeneem het se eerste woorde aan die Mossel Bay Advertiser na sy tuiskoms Maandag, 22 April, op Mosselbaai was, "dit was 'n bittersoet maar 'n awesome ervaring". "Meer soet as bitter maar daar was ook bitter moeilike dele en mens moes soms diep gaan delf vir die nodige energie."

Meyer het die 3,8km swem, 180km fietsry en 42,2km draf in 12 uur 13 minute voltooi.

Swem

"Met die swem was die see stormagtig en was dit geen plesier nie. Die see was baie rof met hoë deinings. Die 3,8km was voorwaar 'n uitdaging, veral om die boeie te sien waarheen 'n mens moes swem. Maar dit het goed gegaan," sê hy. "Die see het my so rondgegooi dat ek strompel-strompel op die strand na my fiets toe was. Die swemtyd was 1 uur 26 minute.

Fietsry

Die fietsry, wat volgens hom gewoonlik die beste item is, het deelnemers geteister met 'n sterk wind.

"Ons het twee rondtes van 90km elk gedoen. Toe ons daar wegtrek dink ek, nee wat, hierdie gaan maklik wees. Maar o wee, toe ons op 45km omdraai. Toe slaan 'n 12 m/s wind ons van voor. En ons moes dit twee maal doen. Dit was tough. Die fietsry het my net oor die 6 ure geneem."

Hardloop

"Die maraton van 42.2km was einlik op die ou einde die lekkerste deel. Die deel wat ek gedink het gaan meer bitter as soet wees." Die draf het hom 4 ure geneem om te voltooi. "Toe ek klaar was, was ek so emosioneel dat toe ek by my vrou kom, het die trane sommer gevloei. Wat 'n ervaring," vertel hy.

Seewind-projek

Alles was egter nie tevergeefs nie. Meyer het die Ysterman-kompetisie aangedurf om geld in te samel vir die Moedergeme­ente se Seewind-projek. "Seewind is 'n aksie van die gemeente waar ons vir haweloses liefde en respek gee." Die projek bied weekliks 11:00 op 'n Dinsdag by Die Haven skuiling 'n kerkdiens en 'n gesonde bord kos vir haweloses. Bykans R107 000 is ingesamel om dié projek te finansier.

Indien iemand meer inligting verlang of die kerk se rekening besonderhe­de of om die leraars se kontakbeso­nderhede te kry, kan hulle die kerkkantoo­r skakel by 044 691 2465.

Die Sweed, Rasmus Svenningss­on is gekroon as die 19de Isuzu Ystermanwe­nner met 'n tyd van 08:03:11 op Summerstra­nd, Gqeberha. In die tweede plek was die Switser, Mathias Petersen, in 8:06:50 en derde was Cameron Wurf van Australië in 8:07:37.

In die vroue-afdeling was dit Marta Sanchez van Spanje wat die eerste plek in 9:15:36 gewen het. Sy is gevolg deur Diede Diederiks van Nederland in 9:17:52 en Laura Zimmermann van Duitsland was derde in 9:19:12.

 ?? ?? Carina Meyer hier by haar man. Die ondervindi­ng was so oorweldige­nd dat die trane gevloei het toe Henri ná die eindstreep by sy vrou uitgekom het.
Carina Meyer hier by haar man. Die ondervindi­ng was so oorweldige­nd dat die trane gevloei het toe Henri ná die eindstreep by sy vrou uitgekom het.
 ?? ?? Dominee Henri Meyer by die wenpaal nadat hy die Ysterman-kompetisie voltooi het.
Dominee Henri Meyer by die wenpaal nadat hy die Ysterman-kompetisie voltooi het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa