Oudtshoorn Courant

Drie op klagtes van huisbraak, roof en seksuele aanranding ontslaan

- GARNETT WICOMB

Drie mans wat tereg gestaan het op klagtes van huisbraak met die opset om te steel, roof met verswarend­e omstandigh­ede asook seksuele aanranding is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof ontslaan omdat die twee klaers weereens nie by die hof opgedaag het nie.

Patrick Alexander (22), Julian Witbooi (18) en Frans Conradie (39) is daarvan aangekla dat hulle die nag van 18 of 19 September 2016 by die woning van Niel Daniels in Black Joint, Bongolethu, ingebreek en hom met ‘n kapmes gekap het. Daniels is daarna van R300 kontant, twee selfone, twee paar Nike skoene, twee horlosies asook ‘n baadjie en jeans beroof.

Witbooi is ook van seksuele aanranding van ‘n vrou aangekla.

Die beskuldigd­es se regshulppr­okureur, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat die klaers duidelik en om verstaanba­re redes nie belangstel om met die saak voort te gaan nie. Ten spyte van laaste pogings van die ondersoeke­ampte om hulle by die hof te kry het hulle steeds weggebly.

Streekland­dros Daniel Boks het ‘n versoek van die staatsaank­laer, Nadia le Roux, om die saak nog ‘n keer uit te stel van die hand gewys omdat die beskuldigd­es reeds langer as ses maande in aanhouding is en grondwetli­k geregtig is op ‘n spoedige afhandelin­g van die saak.

Volgens die landdros blyk dit dat die klaers onwillige getuies is en dat die uitreiking van lasbriewe ook doelloos sal wees.

Die staat het hierna die klagtes teen die drie beskuldigd­es voorlopig teruggetre­k en hulle is ontslaan..

Die drie mans het op ‘n vraag van die landdros wanneer hy hulle weer in die hof sal sien geantwoord dat dit nooit weer sal gebeur nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa