CapeNature positief oor herstel van reservaat
Sowat 20 000 ha van CapeNature se bewaringsgebiede tussen Sedgefield en Plettenbergbaai in die Suid-Kaap is in Junie deur die verwoestende brand in puin gelê.
Bykans 90% van die raar plantegroei in die Goukamma Natuurreservaat-kompleks het afgebrand. Die Brenton Bloutjie Spesiale Natuurreservaat, wat uitsluitlik uit Sedgefield ruigtefynbos bestaan het, is ook heeltemal vernietig.
Die meeste fynbosspesies is aangepas om periodieke brande te oorleef en na verwagting sal die meeste van die plantspesies weer uitloop, veral na die ligte reën wat sedert die brand sporadies oor die gebied uitgesak het.
Die twee grootste risiko’s wat die afgebrande gebied bedreig is dat kaal hellings tydens swaar reënval kan afstort, en dat uitheemse plantegroei die afgebrande gebiede kan inneem.
Wat is oor?
Toe CapeNature beamptes na afloop van die brand ‘n opname van die skade begin doen het, het hulle verskeie voëls opgemerk wat die brand oorleef het.
Oorblyfsels van slange, knaagdiere, landslakke en skilpaaie is opgemerk. Geen beseerde soogdiere is teëgekom nie.
“Ons was baie bly om vars bosbok-, grysbok en kleinkolmuskeljaatkatspore te vind, wat daarop dui dat sommige spesies tog oorleef het,” sê Natalie Baker, CapeNature se streeksekologiese koördineerder. “Die grootste probleem is dat daar feitlik geen plantegroei oor is nie, buiten klein stukkies inheemse bos net bokant die kuslyn in die westelike deel van Goukamma.”
Vir verskeie spesies het die brand op die verkeerde tydstip plaasgevind, soos vir sekere fynbos-voëlspesies, die suikervoël, rooipensskilpaaie wie se eiers pas uitgebroei het of nog onder die grond is, en slange en akkedisse, wat vroegherfs uitbroei of geboorte gee aan kleintjies.
Klein soogdiere soos die kleingrysmuishond, kleinkolmuskeljaatkat, ratels, rooikatte, bosbokke, grysbokke en bosvarke wat nie in die brand omgekom het nie, het hopelik gevlug na die Groenvlei- en Sedgefieldareas waar plantegroei oor is, al is dit min.
Publiek se betrokkenheid
“Mense moet nou eerder fokus daarop om die natuurlewe te ondersteun eerder as om te probeer om dit te red,” sê Engelbrecht.
Dit beteken dat die publiek die beweging en kondisie van natuurlewe moniteer en enige beseerde spesies by CapeNature aanmeld.
Dit is belangrik dat die natuur toegelaat word om sy gang te gaan eerder as om in te meng deur die diere te probeer voer of plante in die reservaat te gaan plant.
“Al lyk die veld nou soos ‘n maanlandskap, sal die veld vinniger herstel as wat ‘n mens dink.”
Die publiek kan die natuurlewe in die gebied help deur heinings wat deur die brand vernietig is, nie onmiddellik te herstel nie. “Waar heinings weg is, laat dit die wild toe om deur die gange wat so geskep is, na gebiede wat nie gebrand het nie te beweeg agter skuiling en voeding aan. Grondeienaars moet asseblief op die uitkyk wees vir wild op hul eiendom voordat hulle die heinings herstel.
Die publiek moet ook op die uitkyk wees wanneer hulle langs openbare paaie ry. “Plantegroei op die skouers van die pad word dikwels nie deur brande geraak nie, en dit bied kosbare weiding vir gras- en blaarvreters.”
Laastens word grondeienaars versoek om uitheemse indringerplante, wat baie vinniger as natuurlike plante herstel, te verwyder sodra dit uitloop. “As die indringerplante nie gou verwyder word nie, gaan dit ook gebiede waar dit voorheen onder beheer was, indring en natuurlike plantegroei verdring.”
Die publiek word dus versoek om die wildlewe eerder te moniteer as te voer. “Help die wild deur deurgange waarlangs hulle kan beweeg te behou, versigtig langs openbare paaie te bestuur, en veral seker te maak dat hul troeteldiere nie wildlewe wat naby plaashuise of dorpsgebiede kom kos soek, verjaag nie.”