Oudtshoorn Courant

Collegians verslaan All Blacks

-

In ‘n spannende wedstryd die afgelope naweek het Collegians met 20-14 oor die All Blacks geseëvier. Collegians het teen rustyd met 8-6 voorgeloop.

Julian Fillies, sekretaris van Collegians, het dit as ‘n ‘skoon, klipharde wedstryd waarin spelers van albei kante ingeklim het’ beskryf.

Geen genade is gevra of gegee nie. Voor- en agterspele­rs het die bal lustig rondgegooi en die skare op hul voete gehou.

All Blacks het eerste punte aangeteken toe hul heelagter met ‘n strafskop geslaag het.

Na die inskop het Collegians verwoed aangeval, maar die verdedigin­g van All Blacks het gehou.

Na ‘n oortreding deur die een flank van All Blacks, slaag die skrumskake­l van Collegians, Ronaldo Botha, met die strafskop deur die pale om die telling drie elk te maak.

All Blacks word na ‘n skrum vir onkant spel gestraf. Collegians se heelagter, Roegelin Campher, het hierna oor die agterlyn geduik vir ‘n drie in die hoekie. Die drie is nie verdoel nie.

All Blacks het allles in hul vermoë probeer om deur die Collegians se verdedigin­g te beur. All Black het net voor halftyd ‘n strafskop deur die pale gejaag.

Met die afskop van die tweede helfte het die linkervleu­el van Collegians, Danovan Le Roux, die bal uit die lug gepluk en deur die verdedigin­g van All Blacks gebars en gevorder tot binne All Blacks se kwartgebie­d. Hy het die bal na die alomteenwo­ordige flank, Michael Tyali, gegooi en hy het die bal netjies onder die pale gaan druk het. Die drie word verdoel deur Ronaldo Botha, wat Collegians met 15-6 laat voorloop.

All Blacks het met die inskop verwoed aangeval, maar die verdedigin­g van Collegians vas rotsvas. Na nog ‘n oortreding deur Collegians, slaag die heelagter van All Blacks met ‘n strafskop na die pale, wat die telling op 15-9 te staan bring.

Collegians was nou op die aanval en het All Blacks onder druk geplaas. Na ‘n skrum, vyf tree van All Blacks se doellyn, bars Ronaldo Botha deur vir ‘n onverdoeld­e drie, wat Collegians met 20-9 laat voorloop.

Met slegs agt minute speeltyd oor het All Blacks aangeval en swak verdedigin­g deur Collegians, vir die eerste keer in die wedstryd, het veroorsaak dat die een senter van All Blacks verspot maklik vir ‘n onverdoeld­e drie oorgeduik het.

Die afrigter van Collegians, Seppie Ekstraal, was in sy noppies met sy span se oorwinning, maar het genoem dat daar hard aan die dissipline van die span gewerk moet word.

Collegians se B-span het met 15-23 teen All Blacks se B-span verloor.

Collegians speel Saterdag teen Harlequins op die Weermag-velde.

 ?? Foto: Ebenezer Titus ?? Raymondo Botha word om die nek beetgekry.
Foto: Ebenezer Titus Raymondo Botha word om die nek beetgekry.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa