Oudtshoorn Courant

Munisipale werkers vang skelms

- LIEZL VAN NIEKERK

‘n Groep munisipale werkers wat gesien het hoe ‘n bejaarde beroof word, is die helde van die dag na hulle Woendagogg­end ‘n vermeende rower agternages­it en in Baron van Reedestraa­t vasgetrek het.

Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant by die toneel in Baron van Reedestraa­t het die groep munisipale werkers uitasem op die middelmann­etjie gestaan en die vermeende dief het op die grond tussen hulle gesit.

Volgens Desiree Minnies, een van die werkers, was sy en haar kollegas op pad werk toe toe hulle sien hoe die jong man voor Baron’s Palace in Hoogstraat vir Willem Minnies (76) pootjie en sy besittings steel.

“Ons het nie eens twee keer gedink nie. Toe ons sien wat gebeur het ons die skelm te voet agterna gesit. Ons het hom in Van der Rietstraat afgejaag en hom in Baron van Reedestraa­t geduik. Hy wens seker vandag hy het nooit ons groep vroue teëgekom

nie,” vertel sy.

Die mans wat saam met hulle was het die groep met ‘n voertuig agterna gesit.

Volgens haar het die skelm hulle gedreig terwyl hy op die sypaadjie gesit het.

Sara Moos, Lenie le Roux, Glenwina Blaauw, Sylvia Sass, Lee-Ann Hufke, Mercia Rabie, Esau September en Gert Adonis was van die helde.

Volgens Minnies het hulle die bejaarde man se beursie, indentitei­tsdokument en Sassa-kaart terug gekry.

“Die oom sê daar was R100 in sy beursie, maar ons kon nie die geld terugkry nie,” het sy gesê.

Willem sê hy was skoon uit die veld geslaan toe die skelm hom pootjie.

“Dit was onverwags. Ek het geloop en die volgende oomblik toe val ek. Die mannetjie was skielik bo-op my en toe vat hy pad. Gelukkig is net my rug seer na die voorval. Dit kon baie erger gewees het as hy ‘n mes of ‘n ander wapen by hom gehad het,” het die steeds geskokte Willem gesê.

Minnies sê wat hulle gedryf het om die bejaarde te help was die feit dat die straatkind­ers en ander skelms dink hulle kan wegkom met enigiets.

“Die kinders dink hulle kan maak net wat hulle wil omdat hulle minderjari­g is. As jy wat ‘n grootmens is iets aan die kinders doen wat ander aanrand en besteel is jy verkeerd, maar ons kan nie dat hulle ons oumensies en die weerloses so seer maak nie. Ons as gemeenskap kon mos nie staan en toekyk hoe die omie onder ‘n misdaad deurloop en niks daaromtren­t doen nie. Die inwoners is té gerus in die platteland­se dorpe en hulle neem nie die skelms in ag nie. Hulle staan en tel geld of maak beursies oop sodat almal kan sien en dan slaan die skelms toe,” het sy gesê.

Marshall Claassen was ook op die toneel. Volgens hom het hy gesien hoe die vroue die jong man vang.

“Ek het by die hotel in Baron van Reedestraa­t verby gery toe sien ek hierdie groep vroue met ‘n spoed in die pad afhardloop. Dit was eintlik half komies. Ek dink nie ek het al ooit ‘n groep vroue so vinnig sien hardloop nie. Ek het gesien hulle jaag ‘n man straataf en het agter hulle aangery tot waar hulle hom regtig platgeduik het,” het hy vertel.

Claassen sê, veral omdat dit die begin van vrouemaand is, haal hy sy hoed vir die werkers af.

“Om ‘n mannetjie so in te hardloop is nie maklik nie. En dan was dit vroue. Hulle kon ook seergekry of aangerand geword het, maar hul medemens het vir hulle eerste gekom, nie hul eie veiligheid nie. Ek hoop die gemeenskap sien die daad van die vroue raak en leer by hulle. Ek hoop ook dat mense hierdie voorval as ‘n les sal gebruik. Mens moet altyd versigtig wees en moet nooit te gerus wees nie,” het hy gesê.

Sers. Gretchen Micheals, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie, het gesê ‘n 17-jarige seun is vir roof in hegtenis geneem.

Ongeveer ‘n uur na die munisipale werkers die jeugdige in Baron van Reedestraa­t gevang het, het munisipale wetstoepas­sers ‘n jong man in ‘n winkel vir winkeldief­stal vasgetrek. Volgens ‘n sekerheids­wag het die man glo items by die supermark gesteel en in sy klere versteek.

 ??  ?? Die 17-jarige verdagte (voor) saam met die groep munisipale werkers wat hom aangekeer het na hy ‘n bejaarde beroof het.
Die 17-jarige verdagte (voor) saam met die groep munisipale werkers wat hom aangekeer het na hy ‘n bejaarde beroof het.
 ??  ?? Willem Minnies (76) is deur ‘n 17-jarige beroof.
Willem Minnies (76) is deur ‘n 17-jarige beroof.
 ?? Foto’s: Liezl van Niekerk ?? Munisipale wetstoepas­sers keer ‘n verdagte aan nadat hy glo items in ‘n winkel gesteel het.
Foto’s: Liezl van Niekerk Munisipale wetstoepas­sers keer ‘n verdagte aan nadat hy glo items in ‘n winkel gesteel het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa