Oudtshoorn Courant

Vrou vertel verhaal van omkeer

- MARLENE MALAN

Vrouemaand is vir Magriet Jantjies van Klaarstroo­m ‘n spesiale tyd van die jaar. Want, dis in dié maand, 24 jaar gelede, dat sy haar lewe omgedraai het. Op amper dertig het sy haar laaste drankbotte­l neergesit, haar laaste babelas beleef “en teen ‘n koppie hier buite die dorp gaan sit en huil, die Here gesmeek om my dranklus weg te vat”.

Sedert daardie dag, Vrouedag 1993, het sy nooit weer ‘n druppel drank oor haar lippe gehad nie.

Magriet is ‘n rustige, innemende vrou. “Ek was so neëntien toe ek op Klaarstroo­m kom woon het. My ma is dood toe ek drie maande was. Ek het by my ouma-hulle gebly. Ek het nie toe gedrink nie. Vriende het my geleer.”

Ons ontmoet in die huis van haar werkgewers, die filmmakers Koos Roets en Eunice Visser, waar Magriet sit en kwiltwerk doen. Eunice praat met lof oor “ons huisbestuu­rder, die één mens wat dit vir ons moontlik maak om ons werk te doen”.

Magriet het besluit om haar skoon te maak oor haar ommekeer om ander vrouens in die gemeenskap wat sukkel met drank, huishoudel­ike geweld, armoede en rigtingloo­sheid te inspireer. “Dalk kan my storie oor my omdraai iets vir hulle beteken.”

Sy was drie maande swanger met haar derde kind, Franklin, toe sy voet neergesit het oor haar drankmisbr­uik.

“Ek onthou hoe ek op daardie Saterdagog­gend opgestaan het en dink: Dis Vrouedag, en kyk hoe lyk ek, kyk hoe voel ek. Die Vrydagaand het ek en my man, Oerson, saam gedrink. Ons was verskrikli­k dronk. So was dit elke dag. Smiddae vieruur, as die kroeg oopgaan, koop ons drank. Soms het ons ons eie bier gemaak. Dan drink ons heelaand, soms heelnag. Op daai dag was ek voor vier al lus vir drink. Ek stap toe teen ‘n bultjie uit en gaan soek sommer houtjies, vra die Here: ‘Help my, help my, dat die dranklus weggaan. Ek het gesit en huil, omdat ek so sleg gevoel het en geweet het ek kan nie so aangaan nie’.”

Toe stap Magriet huis toe en maak vir haar sterk koffie. “Ek het vir almal gesê ‘vandag is ek klaar met wyn’.

“As die dranklus pak, het ek net nóg ‘n koppie gedrink. Hulle het vir my gelag.”

“My lewe was ‘n gemors. Ek was ‘n lelike mens, het soms klippe deur ruite gegooi. Ek het my mooi goed stukkend gebreek, my kinders se klere verbrand. My man het my mishandel. Ek het hom met stokke geslaan, want ek wou hom behandel soos hy my behandel. Baie nagte het hy my buite laat slaap. Of hy sou my snags dwing om vir hom warm brood te bak. Niks was goed genoeg vir hom nie. My hart het verhard teen hom.”

Sy sê haar man het nooit ophou drink nie. “So agt jaar terug is hy dood, aan ‘n beroerte. Seker oor die drank.”

Daar was dae daarna dat daar nie kos in die huis was nie, maar sy sê mense het heeltyd gehelp. Vandag verwyt Magriet haarself steeds oor haar kinders se lewensomst­andighede. “Dit gaan nie goed met hulle nie.”

“Maar my huis is ‘n heenkome vir my kinders en kleinkinde­rs. Ek hoop ek is vir hulle ‘n voorbeeld. Ek wil ‘n vrou wees, ek wil mooi wees, ek wil eerlik lewe.”

 ?? Foto: Marlene Malan ?? Magriet Jantjies met een van haar kleurvolle kwiltwerke.
Foto: Marlene Malan Magriet Jantjies met een van haar kleurvolle kwiltwerke.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa