Klein vakansietjies
Ek staan in ‘n tou by die bank se kliëntedienstoonbank. ‘n Lang tou, en ek wag al veertig minute. My gedagtes dwaal na die talle plekke waar ‘n mens in toue wag. By die supermark waar jy die kortste ry gesoek het, net om agter vier volgelaaide trollies te beland, en om te aanskou dat die kaartmasjien vir die klant voor jou ‘n nuwe rolletjie papier benodig. By die poskantoor, waar die assistent van die ry waarin jy staan agtertoe verdwyn om ‘n pakkie of geregistreerde stuk vir ‘n kliënt te gaan haal... en uiteindelik vyf minute wegbly.
In die motor by ‘n petrolpomp, waar jy ontdek dat die motor voor jou se bestuurder in die Quick Shop is om koeldrank vir die pad te koop, en dat hy ook in ‘n tou staan en wag om te betaal.
By die STOP/GO padteken - wagtyd ongeveer twintig minute - waar die STOP-kant na jou gedraai word net so tweehonderd meter voor jou.
In die dokter se spreekkamer met ‘n Huisgenoot wat twee jaar oud is in die hand, en jy vermoed die arme oorwerkte dokter is deur nog ‘n noodgeval opgehou.
Uiteindelik beweeg ons ‘n meter vorentoe in die ry, en my aandag is terug by die bank, by die werklikheid van die lang tou waarin ek my bevind. Terwyl my oë dwaal na die ewe lang tou wat staan en wag om deur een van die vyf kassiere gehelp te word, raak ek skielik bewus van mense se optrede. Een staan en kyk na die TV skerm waarop die vorige dag se krieket wedstryd tussen SuidAfrika en Sri Lanka oor en oor uitgesaai word. Twee vroue staan heerlik en gesels - dit klink of hulle ‘n poedingresep bespreek. Twee mans praat verby die ou oom wat tussen hulle staan oor verlede Saterdag se wedstryd tussen die Bulls en die Stormers - hard en duidelik, sodat almal kan hoor dat hulle ware rugbykenners is. ‘n Jong man gesels skelm-skelm oor sy selfoon - voel hy skuldig omdat hy weet hy mag dit nie in die bank doen nie?
Dit terwyl ‘n middeljarige vrou sonder enige inhibisie luidrugtig oor haar selfoon haar tienerdogter se nuutste geite en grille met ‘n vriendin bespreek. En so skuins agter my staan ‘n man - sy kleredrag sê vir my dat hy ‘n sakeman is. Hy kyk omtrent elke minuut op sy horlosie. Hy sug. Verbeel ek my, of sien ek hoe sy bloeddruk styg? Hy’s kwaad. Gefrustreerd. Opgewerk. Hy is besig om somme te maak oor wat dit hom kos om soveel van sy kosbare tyd te mors.
Dis juis toe dat ek dink aan vriend Schalk se woorde. Sy wyse woorde. Ons was op ‘n dag aan die gesels oor die baie ure wat mens in toue wag, toe hy vir my die les geleer het. Hy het ‘n besluit geneem - hy gaan die lang wag in toue nie meer as tydmors sien nie. Hy gaan nie langer toelaat dat dit hom kwaad maak of frustreer nie. Hy gaan dit eerder positief benut - as klein vakansietjies. Hy gaan dit gebruik om vriendelike geselsies aan te knoop, om ‘n goeie of bemoedigende woord vir iemand voor of agter hom te sê, of om vir iemand te bid, of om sommer net te droom, of te ontspan, of dit te geniet as ‘n klein vakansietjie. ‘n Pasella vakansietjie. ‘n Toegif wat sonder enige beplanning oor jou pad kom.
Miskien is die volgende lang tou die klein vakansietjie wat ek nodig het om die volgende paar ure te oorleef.