Oudtshoorn Courant

Natasha Mei op pad na herstel

- LIEZL VAN NIEKERK

Natasha Mei, die 31-jarige vrou van Oudtshoorn wat einde Augustus vir dae in ‘n huis in Bongolethu aangerand en gemartel is, het die week ‘n operasie ondergaan om haar gebreekte kakebeen te herstel.

Volgens haar tannie, Siena Blou, is Mei reeds ‘n maand in die hospitaal.

“Ons kon nog nie regtig met haar ‘n gesprek voer nie, want daar is ‘n verband om haar kop wat verhoed dat sy haar mond oopmaak. Sy lê in Oudtshoorn­hospitaal, maar is Sondag weer terug George toe vir die operasie. Die dokter het gesê die operasie was ‘n sukses,” het Blou gesê.

Volgens haar lyk Mei se gesig ook beter.

“Die swelling het drasties gesak. Sy begin amper weer na haarself lyk, maar dit lyk my die pad na herstel is nog lank. Dit is ook moeilik om aan haar te vat, want haar lyf is nog baie seer.”

“Sy het ‘n kateter ingehad en ook ‘n pypie in haar keel. Sy kon aan die begin glad nie praat of sluk nie en het gesukkel om asem te haal. Sy het ook ontsettend baie kneusplekk­e aan haar lyf gehad en haar tande is ook uit. Ons probeer nog presies vasstel watter beserings sy opgedoen het.”

Blou het verder gesê dat Mei se kinders goed aansterk.

“Haar en Enver Campher se baba is in ‘n veilige plek. Die baba is gesond en was nie ten tyde van die voorval by sy ma nie. Die ander kindertjie­s vorder ook goed. Hulle is weer in die skool.”

Volgens haar sukkel die familie egter nog om die gebeure te verwerk.

“Dit is moeilik om by die haar te kuier omdat sy soms moet George toe gaan. Ons bel ook so gereeld as wat ons kan, maar sy kan nie met ons praat nie. Wat ons egter baie ontstel is die feit dat Enver se familie na haar toe gaan. Ons weet nie eens of hulle haar mag besoek nie. Sy kan in elk geval nie met haar praat nie,” het Blou gesê.

Campher moes verlede Donderdag weer in die hof verskyn. Hy het egter gesê dat hy nie meer om borgtog aansoek wil doen nie.

Landdros Lorraine Samuels het die saak tot 9 Oktober uitgestel.

 ?? Foto: Greep uit video ?? Paramedici stoot Natasha Mei uit die huis waar sy aangerand is.
Foto: Greep uit video Paramedici stoot Natasha Mei uit die huis waar sy aangerand is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa