Oudtshoorn Courant

Wanneer raak vra bedel?

-

Dit is opvallend hoe maklik en gereeld mense op sosiale media hulp en raad vra. Daar is seker niks verkeerd met vra nie; die gesegde lui immers, “Vra is vry en die weier daarby.” Dis egter die tipe vrae wat my fassineer en die oënskynlik­e gewillighe­id van die vraer om die antwoorde en riglyne van elke Janrap en sy maat as evangelie te aanvaar. Mense sal op Facebook goed vra soos: “Watter soort kar is die betroubaar­ste, want ek moet vir my dogter ‘n karretjie aanskaf omdat sy ‘n waitressin­g job gekry het?

Het iemand vir my raad vir rooi spinnekop in my ouma se varings wat ek laas week van Pudimoe af huis toe gebring het? My man het ‘n snaakse jeukerige uitslag op sy voete. Is dit aansteekli­k en wat kan hy daarvoor gebruik? Hoe lyk die vooruitsig­te vir reën hierdie naweek, want ek beplan ‘n intieme wegbreek saam met Liefie in die Karoo en wil weet of ek kaggelhout moet saamvat?”

En dan stroom die antwoorde in en weinig van hulle word deur kenners aangebied. Dalk is die vrae maar net ‘n ander manier om iets oor onsself te sê en dit dan as ‘n vraag te vermom.

Vrae is vrae, en elkeen het sakke vol van hulle, en antwoorde is omtrent so wyd soos die Heer se genade.

Maar, dan kom ons by die volgende deel van vra wat effens gryserig begin raak; hulp vra. Daar is ‘n dun lyn tussen vra vir hulp en bedel, en dit lyk my die lyntjie begin al dunner raak op Facebook. Ek het die afgelope ruk probeer tel hoeveel bedelboods­kappe mense met groot vrymoedigh­eid plaas en ‘share’. Dis asof die ganse Facebook-familie skielik moet pa-staan vir kinders wat skoene moet kry, verlore familieled­e wat dringend van punt A by punt B gekry moet word, geld vir matriekafs­keidrokke en oorsese sporttoere.

Ek weet ek begewe my op ‘n sensitiewe terrein, maar ek het ‘n dikkerige vel. Dit is geen geheim dat daar om verskeie historiese redes ‘n kultuur van toeëiening (entitlemen­t) in ons land heers nie. Daardie kultuur word heerlik aangeblaas deur leiers en sakemense wat op ‘n daaglikse basis geld en poste en gunsies vir hulself toeëien net omdat hulle kan. En dit is hoogs aansteekli­k - soos voëlgriep.

Dit is ‘n realiteit dat daar mense is wat geweldige nood ervaar en dat daar mense is wat baie meer het as wat hulle in tien lewens sal nodig kry of kan opgebruik. Dit is hoe samelewing­s deur al die eeue was en altyd sal wees.

Die probleem ontstaan wanneer die wat baie het voel hulle kan doen net wat hulle wil omdat hulle baie het en die wat niks het nie voel hulle kan doen wat hulle wil, want hulle het niks om te verloor nie. Iewers sal iemand die boeke moet balanseer sodat ons weer op ‘n plek kan kom waar elkeen heel eerste moet doen wat hy kan doen om homself te help. Ons moet op ‘n manier op ‘n plek kom waar daar nie ‘n outomaties­e verwagting is dat iets ontvang moet word bloot omdat iemand hét en iemand nié het nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa