‘n Huis vol liefde het altyd plek vir nog een
Dicky is een van daardie mense wat ‘n storie met smaak kan vertel. Dit is veral wanneer sy vertel van haar ervaringe as verpleegsuster, dat mens aan haar lippe hang.
So vertel sy van die dag toe ‘n swanger vrou by die kliniek opdaag sodat al die nodige vir die komende bevalling gedoen en gereël kan word. Dit was die elfde keer wat die vrou swanger is. Dicky se kollega stel toe voor dat die ma met die bevalling sommer gesteriliseer word. Die vrou het summier geweier. Sy probeer toe om die vrou te oortuig van die mediese voordele van sterilisasie, veral na elf kinders. Terwyl die gesprek aan die gang was, het nog ‘n klinieksuster nader gestaan. Sy ondervra die vrou oor haar huishouding se geldsake. Die vrou verduidelik toe dat sy en haar man elkeen ‘n goeie en vaste werk het, en dat hulle saam so R5 000 per maand verdien. Dis toe net hier waar die verpleegsuster haar punt probeer maak. Sy stel dit aan die vrou dat sy en haar man ook elkeen ‘n goeie werk met ‘n goeie inkomste het. Saam verdien hulle R25 000 per maand. Maar, beklemtoon die verpleegsuster, sy en haar man het net drie kinders en hulle sukkel om met die R25 000 hulle boeke maandeliks te laat klop. Dis toe dat die swanger vrou haar antwoord: “Dis nie my skuld as julle nie met geld kan werk nie.”
Ek het in my lewe al dikwels gesien hoe ‘n huishouding met ‘n karige inkomste nie net finansiële somme maak of die oppervlak van die huis bereken om te bepaal wanneer die huis vol is nie. Einste Dicky is een van daardie mense wat saam met haar man ander soort somme gemaak het. Hulle sal beslis nie onder die rykes in die gemeenskap gereken word nie. Maar, die dag toe hulle pad gekruis het met ‘n kind wat deur slegte omstandighede en heel verwaarloos op straat beland het, het hulle nie geaarsel nie. Hulle het summier besluit om dié kind in pleegsorg te neem en saam met hulle vier eie kinders groot te maak.
Ek het hierdie ruim huis en ruimhartigheid ook as kind in my eie huis beleef. My weduwee-ma het met haar skrapse inkomste ook ander somme gemaak as net in rand en sent. Sy het haar ook nie deur ‘n huis se grootte laat inperk nie. Natuurlik het al agt ons kinders nie ‘n eie kamer gehad nie. Ons moes maar saambondel en vroeg in ons lewe leer om ruimtes te deel. Ons het dikwels voor die een toilet gestaan en oor beurte baklei. Maar in ma se huis was daar altyd plek vir nog.
Soos toe my tweelingsusters tydens ‘n koolvakansie ‘n CSV-kamp bygewoon. By die kamp was kinders van ‘n kinderhuis en twee van hulle moes teruggaan kinderhuis toe omdat daar niemand was by wie hulle die vakansie kon bly nie. Dit het net een telefoonoproep gekos, en skielik was daar vir die res van die lang skoolvakansie tien kinders in ons huishouding.
Deur die jare het ek by mense met groot huise én groot inkomste gekom waar die reusehuis net vier inwoners het. Die ruimte en die lewensmiddele is ideaal om in elke opsig ruim te leef. Maar so dikwels het ek reeds met die instap geweet dat die ruim huis nie groot genoeg is nie. Dat daar nie vir elkeen spasie is om behoorlik asem te haal en voluit te leef nie.
Dis wanneer ek by sulke huise uitstap wat ek net weer besef – in ‘n huis vol liefde is daar altyd plek vir nog een.