Oudtshoorn Courant

Zille tevrede met lesse geleer uit Knysna-brande

- Eugene Gunning

Sy is oortuig dat rampbeheer­spanne alles moontlik gedoen het om die brande in die Tuinroete onder beheer te bring, het Helen Zille, Wes-Kaapse premier, die week tydens haar besoek aan die gebied gesê.

Sy het met die George Herald gepraat te midde van tergende vrae en kritiek van inwoners en belangegro­epe oor die hantering van die brande. Dit gons op sosiale media en daar word gevra hoe dit moontlik is dat so ‘n situasie weer voorgekom het, minder as 18 maande na die brande in die Knysna-gebied in 2017. Dit is veral die brand wat op 24 Oktober in Herold begin het en later oor die Outeniquab­erge na George versprei het, wat mense in George aan die praat het.

Zille het reeds vroeër gesê as daar na die oppervlakt­e wat afgebrand het gekyk word, is die huidige brande vier keer groter as die brande in 2017. In die onderhoud met die George Herald het sy benadruk dat lesse wel geleer is uit die Knysna-brande en dat dit toegepas is. Sy het bygevoeg dat dit ‘n wonderwerk is dat daar dié keer nie meer lewensverl­ies was nie. Volgens haar het die meeste van die 12 brande ontstaan as gevolg van natuurlike oorsake. Sommige is beslis deur weerlig veroorsaak en ander deur sterk winde en vonke van Eskom-kraglyne.

Dit wil voorkom of een van die brande met opset begin is. ‘n Ondersoek het reeds begin. “Daar sal beslis regsgevolg­e wees as mense uitgewys kan word wat die brand met opset begin het.”

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het Woensdag by navraag gesê opruiming in die gebied gaan voort. ‘n Kosteberam­ing van die skade word ook gedoen. Die ondersoek na die oorsaak van die brande gaan voort en daar sal eers later duidelikhe­id wees of die nasionale regering gevra gaan word om die gebied tot rampgebied te verklaar.

‘n Inwoner van Herold, waar die eerste brand op 24 Oktober begin het, het gesê sy het kort na 18:00 die aand ‘n foto van ‘n ander inwoner ontvang. Sy verkies om in die stadium anoniem te bly. Sy en haar man het dadelik na die toneel gegaan. Hulle het ook water saamgeneem. So in die ry het sy die George-brandweer gebel en sy kon nie dadelik deurkom nie. Sy het toe iemand anders van die brandweer gebel en hy het haar na “Brandbehee­r” verwys, wat onderneem het om die regte mense te laat weet.

Die brand het vinnig versprei en dit het geklink soos ‘n waterval. Dit is aangehelp deur ‘n sterk wind. Sy het intussen die eienaar van die plaas probeer opspoor, maar hy was in ‘n gebied waar daar nie selfoonont­vangs was nie. Die brand het later oorgesprin­g na grond van CapeNature.

Die brandweer het ook later opgedaag. Sy wys nie vinger nie. “Die brandweer kon nie vinniger daar opdaag nie.”

Haar indrukke is dat as die nodige toerusting in die gebied was, dit dalk kon keer dat die brand oorgesprin­g het na CapeNature se grond.

 ?? Foto: Eugene Gunning ?? Helen Zille, Wes-Kaapse premier, neem foto’s met haar selfoon tydens haar besoek aan die ou Tolhuis. Links staan Melvin Naik, George-burgemeest­er en regs Harry Levendal, Mosselbaai-burgemeest­er.
Foto: Eugene Gunning Helen Zille, Wes-Kaapse premier, neem foto’s met haar selfoon tydens haar besoek aan die ou Tolhuis. Links staan Melvin Naik, George-burgemeest­er en regs Harry Levendal, Mosselbaai-burgemeest­er.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa