Oudtshoorn Courant

DOV vervolg na ‘n jaar

- HANNES VISSER

Die familie van Marilize Nortier se vrae oor die noodlottig­e ongeluk wat haar lewe op 22 September 2019 geëis het, sal moontlik nou begin antwoorde oplewer.

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het Vrydag per brief die Oudtshoorn-polisie in kennis gestel dat hulle met die vervolging van die bestuurder van die BMW waarin Marilize 'n passasier was, gaan begin. Sodra die dossier by die hof in Oudtshoorn afgelewer word, sal die hof 'n dagvaardin­g uitreik.

Volgens kapt. Louis Visser, kommunikas­iebeampte van die Oudtshoorn-polisie word die man aangekla van strafbare manslag, alternatie­welik roekeloos of nalatige bestuur en die versuim om hulp te verleen na ‘n botsing volgens die padverkeer­swet.

Die ongeluk waarin Marilize, wat toe in matriek was, omgekom het, het in die vroeë oggendure van Sondag 22 September 2019 op die grottepad buite Oudtshoorn gebeur.

Oudtshoorn Courant, wat kort na die botsing op die toneel was, het verlede jaar berig dat die motor vanuit die rigting van die grotte gekom en by 'n draai die pad verlaat en deur 'n plaasheini­ng gebars het.

Die BMW het daarna deur die lug getrek en die oorkantste wal van 'n waterkanaa­l langs die pad getref en op die passasiers­kant in die water te lande gekom.

Volgens iemand wat naby die toneel woon, het hy omstreeks 04:00 'n harde slag gehoor, maar kon nie vasstel van waar die geluid gekom het nie.

Die motor met die oorledene steeds in die passasiers­itplek vasgegorde­l, is egter eers teen ongeveer 07:30 deur plaaswerke­rs wat naby die kanaal verbygesta­p het, opgemerk. Hulle het die plaasbestu­urder gekontak.

Volgens hom was die oorledene se kop onder die water en hy het met behulp van die werkers, sy bakkie ingespan om die motor op sy wiele te trek.

Die grootste vraag wat direk na die ongeluk gevra was, was oor die gedrag van die bestuurder. Dit blyk dat iemand hom voor 07:00 langs die pad aangetref en hom van die toneel weggeneem het sonder dat hy aangedui het dat daar nog iemand in die motor is. Hy het later teruggekee­r en is glo net na 08:00 deur 'n persoon, vermoedeli­k sy ma, by die toneel opgelaai en George toe geneem. Op daardie stadium het hy in Groot-Brakrivier gewoon en in George gewerk. Volgens omstanders het die jong man aangedui dat hy nie daarvan bewus was dat daar iemand in die motor was nie.

Hy het dieselfde middag 'n prokureur aangestel wat vrae van die polisie hanteer het.

Die Woensdag na die ongeluk het Marilize se pa, Morné, ingestem om met die media te praat.

Hy het gesê die wete dat sy dogter nog gelewe het, en net so in die motor gelaat is om te verdrink, spook by hom. "Daar is soveel onbeantwoo­rde vrae wat net die bestuurder kan antwoord en ons vertrou dat die polisie-ondersoek hom sover sal kry om antwoorde te gee," het hy verlede jaar gesê.

Teen gister het die dossier nog nie in Oudtshoorn aangekom nie, en kon 'n datum vir die verdagte se eerste hofverskyn­ing nog nie bepaal word nie.

Alhoewel sy identiteit bekend is, kan dit eers in die pers bekendgema­ak word nadat hy formeel in die hof aangekla is.

 ?? Foto verskaf Foto: Hannes Visser ?? Marilize Nortier, wat op 22 September verlede jaar in ‘n ongeluk dood is.
Die botsingsto­neel op 22 September 2019 kort nadat reddingswe­rkers aangekom het.
Foto verskaf Foto: Hannes Visser Marilize Nortier, wat op 22 September verlede jaar in ‘n ongeluk dood is. Die botsingsto­neel op 22 September 2019 kort nadat reddingswe­rkers aangekom het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa