Oudtshoorn Courant

Seun wat verdwaal het, getraumati­seer

- MARLENE MALAN

Hul huis is leeg ná die dood van hulle tienerdogt­er nadat sy drie weke gelede saam met haar jongste boetie in die ruie bosse buite Prins Albert verdwaal en aan ontbering en ontwaterin­g gesterf het.

Karel Malan en Louisa Horn sê boonop is hul jongste seun, Ricardo (10), so erg getraumati­seer dat hy vir eers nie huis toe kom nadat hy einde verlede week uit die hospitaal ontslaan is nie.

“Maatskapli­ke werkers sê hy is nog te geskok oor Charmain se dood. Daarom bly hy nou eers by ’n familielid. Dalk trek dit sy aandag af.

“Alles in ons huis is anders. Ons enigste dogter is weg. Ons jongste kind is nie tuis nie. Dis verskrikli­k stil," sê Horn.

Charmain en Ricardo Horn het einde September ’n staptog vanaf ’n plaas sowat 25 km buite die dorp, waar Karel tydelik as plaagdierb­eheerder gewerk het, aangepak dorp toe.

Die kinders het saam met hul ma daar gekuier, maar wou terugkom huis toe op die dorp.

Hulle het die Sondagmidd­ag verdwyn. Karel het dadelik hul spore begin volg, maar moes handdoek ingooi toe ’n niertoesta­nd hom oorval het.

Louisa het bly hoop die kinders het wel die huis gehaal, maar toe sy hulle die volgende dag nie tuis vind nie, die polisie ingelig.

"Ek dink so vier polisieman­ne het gesoek. Ek het die wêreld platgeloop."

Vier dae ná die kinders se verdwyning het ’n plaaswerke­r Ricardo in landerye van ’n ander plaas gevind – in ’n heeltemal verkeerde rigting. Hy was totaal gedisoriën­teer. Dis toe dat ’n noodheliko­pter ontbied is en Charmain binne ’n uur uit die lug opgemerk is.

Sy was reeds dood. "Ricardo kon glad nie onthou wat van sy sussie geword het nie. Ons dink Charmain het haar broer vooruit gestuur om hulp te soek," vertel Louisa.

"My dogter was swanger. Jy kon dit sien. Jy kén mos jou kind se lyf," sê Karel. "Ons vermoed sy het ’n miskraam gehad."

Louisa het omtrent voltyds by Ricardo in die hospitaal gebly.

"Hy praat nie baie oor wat gebeur het nie. Hy het net die hele tyd gevra: ‘Waar’s my sussie?’ Ons het hom eers van haar dood vertel net voor hy ontslaan is. Hy het toe buite die hospitaal onder ’n spekbos gaan sit en huil.

"Al wat ons nóg weet, is dat hulle ge‘split’ het. Hy sê soos hulle geloop het, het hy Letterkop (die heuweltjie buite Prins Albert waar die dorpsnaam in witgeverfd­e klippe uitgepak is) bly dophou, maar dit was te bebos en hulle het rigting verloor. Hulle het kos en water by hulle gehad, maar dit was gou op. Ons weet nie waarom hulle nie padlangs gehou het nie. Dalk was hulle bang."

Karel, wat die omgewing en plantegroe­i goed ken, sê die bosse op die uitgestrek­te Karoovlakt­es "is so ruig, jy moet jou storie ken as jy eers binne-in is. Jy kan maklik die pad byster raak".

Hulle is dankbaar vir die ondersteun­ing wat hulle van die gemeenskap kry, sê die ouerpaar. Van die mense wat Ricardo versorg het toe hy gevind is, die mediese personeel, tot haar maats by die begrafnis twee weke gelede.

Nou, net voor haar sewentiend­e verjaarsda­g op 25 Oktober, het Karel en Louisa meer vrae as antwoorde oor waarom die kinders weggeloop het, hoe hulle verdwaal het en presies waaraan Charmain gesterf het. "Ons het net haar graf oor," sê Louisa.

Luidens ’n polisiever­klaring word geen misdaad vermoed nie.

Karel en Louisa het nog twee seuns, Michael (24) en Pieter (19) Horn.

My dogter was swanger. Jy kon dit sien. Jy kén mos jou kind se lyf.

 ?? Foto: Marlene Malan ?? Karel Malan en Louisa Horn by die graf van Charmain.
Foto: Marlene Malan Karel Malan en Louisa Horn by die graf van Charmain.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa