Oudtshoorn Courant

Klag van rassebedro­g deur departemen­t laat vaar

- HANNES VISSER

'n Onderwyser van Oudtshoorn, Glen Snyman, het onlangs nie net nasionale media gehaal nie, maar ook internasio­nale media. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Wes-Kaapse Onderwysde­partement tugstappe teen Snyman wou neem omdat hy glo oor sy ras gejok het in 'n aansoek as skoolhoof in 2017.

Volgens die departemen­t het Snyman op die dokumentas­ie aangedui dat hy "African" is eerder as om te sê dat hy 'n bruin man of sogenaamde "Coloured" is. Dit is nie duidelik waarom die stappe eers drie jaar na die aansoek geneem is nie. Snyman was op daardie stadium 'n onderwyser by Fizikele Sekondêr op Oudtshoorn waar hy om die hoofpos aansoek gedoen het. Sy aansoek was onsuksesvo­l en hy is tans 'n onderwyser by 'n landelike skool buite Oudtshoorn.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, was onbewus van die klagte en het haar skok uitgespree­k dat iemand van bedrog aangekla word omdat hy homself volgens sy eie keuse klassifise­er. Die klag is intussen teruggetre­k, maar die storie het letterlik wêreldwyd uitgekring.

Die kwessie wat tans oral in die media opslae maak, is 'n uitvloeise­l van Snyman se pogings om alle verwysings na rasseklass­ifikasie op vorms te laat wegval.

Oudtshoorn Courant het reeds in 2011 oor Snyman se organisasi­es, People Against Racial Classifica­tion (PARC) berig en sedertdien is Snyman reeds nege jaar besig om genoeg steun vir sy inisiatief te kry om die regering te dwing om weg te doen met rasseklass­ifikasie. Die leuse van PARC is "I am not a coloured, black, indian or white person, I am a South African".

Volgens hulle resolusie dring PARC daarop aan dat alle verwysings na ras en kleur van onderwysdo­kumente verwyder moet word. Op die langtermyn is PARC se oogmerk dat die regering en privaat instansies alle vorme van rasseklass­ifikasie moet verwyder.

Volgens Snyman is die stelsel waar SuidAfrika­ners steeds hulle kleur op vorms moet invul of aftik teenstrydi­g met die grondwet. "Die blokkies op vorms waar mense hulle ras moet aftik is niks anders as diskrimina­sie op grond van pigmentasi­e nie. Is ons dan nie volgens die grondwet veronderst­el om almal dieselfde te wees nie?" was Snyman se vraag reeds in 2011. Hy het PARC in 2010 gestig.

Die huidige media-herrie gee Snyman en PARC opnuut blootstell­ing en stukrag en uit kommentare op sosiale media is daar talle mense wat hom steun. Oudtshoorn Courant het gevra om met Snyman te gesels, maar alhoewel sy storie reeds wyd op verskeie mediaplatf­orms gedek is, het hy gesê hy mag nie sonder toestemmin­g van die onderwysde­partement met die media praat nie.

 ?? Foto: Hannes Visser ?? Glen Snyman, die stigter van PARC.
Foto: Hannes Visser Glen Snyman, die stigter van PARC.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa