Oudtshoorn Courant

Verkragter kry 25 jaar

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - ‘n Man van Welbedacht, in die Oudtshoorn-distrik, wat aan verkragtin­g skuldig bevind is nadat hy sy saamleefma­at met ‘n stok verkrag het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof 25 jaar gevangenis­straf opgelê.

Streekland­dros Daniel Boks het met vonnisople­gging van Johannes Dondas (35) gesê dat hy geen berou vir die weersinwek­kende, wreedaardi­ge misdryf wat hy gepleeg het toon nie ten spyte van die verdoemend­e getuienis teen hom.

Sy weergawe dat hy niks aan die vrou gedoen het nie is verwerp omdat hy die enigste persoon was wat op Sondag 20 Oktober 2019 saam met haar in hul kamer was.

‘n Buurvrou, Maria Jordaan, het getuig dat sy die betrokke middag, omstreeks 15:00, na Dondas se huis gegaan het waar die klaer haar meegedeel het dat Dondas haar twee keer met die stok verkrag het.

Haar broek was vol bloed en sy het erge pyn gehad.

Volgens Dondas het die klaer op ‘n stuk hout wat plat op ’n trappie gelê het, geval en hy het nie beserings of bloed aan haar gesien nie.

Dr. Odette Pfeifer het getuig dat dit onmoontlik is vir iemand om soveel beserings te kan opdoen deur op ‘n stok te val. Die beserings wat sy opgedoen het was lewensgeva­arlik.

Die staatsaank­laer, Nadia Arnolds, het die hof vir lewenslang­e gevangenis­straf gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandigh­ede bestaan om daarvan af te wyk nie.

Die landdros het gesê dat Dondas die vrou se hele lewe verwoes het.

Sy moet nou lewenslank ‘n stomasakki­e dra en self skoonmaak. Sy is skaam, hartseer, huil nog gereeld daaroor en bly meeste van die tyd by die huis.

Die hof het in ag geneem dat Dondas ‘n eerste oortreder is en afgewyk van die voorgeskre­we minimum vonnis van lewenslang­e gevangenis­straf ten spyte van al die omstandigh­ede. Dit is ook skokkend dat die beskuldigd­e tydens vonnisople­gging gelag het.

“Die hof moet ‘n boodskap uitstuur dat die soort misdaad nie geduld kan word nie en die gemeenskap nie die reg in eie hande neem nie. Die meriete van die saak verskil van ander verkragtin­gs omdat ‘n voorwerp gebruik is om die vrou te penetreer,” het die landdros gesê.

Dondas is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa